President Jacob Zuma het Maandag ‘n nuwe grondhervormingsplan in Pretoria bekend gestel.
“Dit is ‘n innoverende voorstel wat getoets moet word,” het hy tydens die eerste jaarvergadering van die African Farmers’ Association of SA (Afasa) gesê.
Die plan stel voor dat elke distrik verantwoordelikheid neem vir grondhervorming en die finansiering daarvan.
“Elke distrik moet ‘n grondhervormingskomitee vestig waar alle rolspelers betrokke is. Die komitee is dan verantwoordelik daarvoor om 20% van die kommersiële landbougrond in die distrik te identifisieer en kommersiële boere die opsie gee om te help om dié grond oor te dra na swart boere.”
Die grondhervormingvoorstel sluit vyf stappe in.
Eerstens, grond wat reeds te koop is, moet geïdentifiseer is – grond waar die boer onder groot finansiële druk is, grond waar die eienaar gesterf het, en plase waar die eienaar nie self boer nie, en wil verkoop.
“Só kan grond gevind word sonder om die mark te verwring.”
Tweedens, die staat sal dié grond teen 50% van sy markwaarde koop.
Die res van die 50% sal opgemaak word deur kontant of ander bydrae van die kommersiële boere in die distrik wat vrywillig deelneem aan die proses.
In ruil hiervoor sal hierdie kommersiële boere gewaarborg word dat hulle grond nie afgevat sal word nie – en daarby sal hulle swart bemagtigingstatus kry.
“Dit sal al die onsekerheid en wantroue – en die verlies aan beleggersvertroue – wat daar tans is oor grondhervorming, uit die weg ruim.”
Vierdens, sal die Tesourie, die Landbank en gevestigde wit boere meer geld gee vir die finansiering van die program.
“Die koste van grondhervorming sal versprei word onder alle rolspelers. Nuwe finansiële instrumente sal ontwerp word om grondhervorming te bevorder.” Dit sluit in verbande met ‘n looptyd van veertig jaar, teen voorkeur-rentekoerse.
Die vyfde aspek van die plan is meer navorsing in landbou.
“Dit is baie belangrik dat mense weer begin boer – en nie welsynsuitbetalings, lone en nie-landbou informele bedrywighede sien as die enigste bron van inkomste vir plattelandse huishoudings nie,” sê Zuma.
Kommersiële landbou – verteenwoordig deur 37 000 boere – produseer 90% van die land se uitset, terwyl 25 miljoen bestaansboere op die platteland 10% lewer.
Past. Ray McCauley van die Rhema-Bybelkerk in Randburg het Afasa geluk gewens met ‘n suksesvolle konferensie. “Laat ek dit net sê indien julle dit nie geweet het nie. God is lief vir die boer,” het hy aan ‘n waarderende gehoor gesê.
“Eva was die eerste boer. Sy het omgesien na die appels.”
Tina Joemat-Pettersson, die minister van landbou, het Zuma as ‘n man van diepte en ‘n vader van die volk beskryf.
“Ons ondersteun jou en ons sal aanhou om jou te ondersteun”
Sy het bygevoeg dat “geen wapen” teen hom sal slaag nie, en dat hy na elke boer sal omsien.
