Die departement van Korrektiewe Dienste ondersoek die moontlikheid van interne betrokkenheid nadat drie gevangenes gistermiddag dood en 14 beseer is toe die voertuig waarin hulle na die Johannesburgse tronk vervoer is, ontplof het.
Die voertuig het 36 verhoorafwagtende gevangenes van die Randburgse landdroshof na die Sentrale Gevangenis in Johannesburg vervoer. Die woordvoerder van die polisie, Neville Malila sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die ontploffing deel van ‘n ontsnappingsplan was.
Twee gevangenes wat probeer ontsnap het, is weer gevang. Hy sê forensiese deskundiges probeer vasstel watter soort plofstof gebruik is. ‘n Kommissaris van Korrektiewe Dienste, Tom Moyane sê sake van moord en die besit van plofstof word ondersoek.
