Venezuela maak verkiesingsdatum bekend

Venezuela se presidensiële verkiesing sal op 14 April plaasvind.

Venezuela se adjunk-president, Nicolas Maduro, is tans die tussentydse president nadat pres. Hugo Chavez Dinsdag glo aan ‘n hartaanval ná ‘n lang siekbed dood is.

Kort nadat die datum bekendgemaak is, het die hoof opposisie koalisie gesê Henrique Capriles, wat tydens die verkiesing in Oktober teen Chavez verloor het, hul presidentskandidaat sal wees.

Capriles het op Twitter gesê hy is sal binnekort bevestig of hy die nominasie gaan aanvaar.

Volgens die grondwet moet ‘n verkiesing “binne die volgende 30 agtereenvolgende dae” gehou word.

Die regering en die opposisie het in onlangse maande vasgesit oor hoe die grondwet geïnterpreteer moet word indien Chavez sterf.

Chavez het egter voordat hy in Desember Kuba toe is vir kankerbehandeling gesê Maduro moet oorneem as hy nie meer daartoe in staat sou wees nie.

Die grondwet sê die wetgewer se speaker moet oorneem as die president sterf voordat hy in ‘n nuwe termyn ingehuldig word.

Chavez, wat in Oktober herverkies is as president, is weens sy gesondheid nie op 10 Januarie beëdig nie, maar die hooggeregshof het die “vertraging” goedgekeur en beslis dat daar geen onderbreking tussen die twee administrasies was nie.

Bom ruk Kaboel met Amerikaanse besoek

‘n Selfmoordbomaanval en geweervuur het die middestad van Kaboel geruk tydens ‘n besoek aan die Afghaanse hoofstad deur die VSA se minister van verdediging, Chuck Hagel.

Plaaslike polisie het die aanval naby die ingang na die ministerie van verdediging bevestig.

SkyNews berig nege burgerlikes is in die aanval dood. Hagel was nie ten tye van die ontploffing in die gebou nie, volgens plaaslike owerhede.

Hy het Vrydag in Afganistan aangekom vir sy eerste besoek as minister van verdediging aan die land.

Hagel het tydens ‘n toespraak gesê daar lê talle uitdagings voor in die oorhandiging van die land se sekuriteit aan Afghaanse magte.

NAVO en die VSA is besig om hul magte uit die land te ontrek. Maar, sê Hagel, “ons is steeds in ‘n oorlog gewikkel.”

Hy het gesê dit was nooit die VSA se stragegie om vir ewig in Afganistan te bly nie, maar dat die land en sy bondgenote gefokus moet bly op die taak wat hulle daar het.

Mandela tuis in Johannesburg na hospitaalbesoek

Suid-Afrika se eerste swart president, Nelson Mandela is uit ‘n hospitaal in Pretoria ontslaan, berig Eyewitness News.

Die 94-jarige het toetse ondergaan. Hy is Saterdagmiddag in die hospitaal opgeneem vir ‘n roetine ondersoek en het Saterdagaand in die hospitaal oornag.

“Oudpresident Nelson Mandela het vanmiddag [Sondag] na sy huis in Johannesburg teruggekeer ná ‘n suksesvolle mediese ondersoek by die Pretoria-hospitaal,” het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, gesê.

Mandela is verlede jaar op 8 Desember in ‘n hospitaal opgeneem om ‘n herhaalde longinfeksie te behandel. Hy het ook ‘n operasie ondergaan om galstene te verwyder.

Hy is tans by sy huis in Houghton, Johannesburg.

Kenia: Die Mugabe-faktor

Kenia se presidensiële kandidaat Uhuru Kenyatta word daarvan verdink dat hy gruwelike misdade gepleeg het deur moordbendes te betaal om vroue en kinders te laat doodmaak.

Die opposisiekandidaat in Kenia staar ook aanklagte van misdade teen die mensdom in die gesig, en soos Kenia se verkiesingsuitslag nader, het die Obama-administrasie ‘n waarskuwing uitgereik wat lui: “Keuses het gevolge.”

Toe die stemtellery hierdie week begin het, was Uhuru Kenyatta, die seun van Kenia se eerste president, los voor in die wedloop vir die presidentpos. Binnekort, kan die Obama-administrasie en sy bondgenote ‘n moeilike keuse hê tussen die twee voorloperkandidate.

Sommige diplomate het al van die “Mugabe”-faktor gepraat.

Wat maak die Verenigde State as Kenyatta hierdie verkiesing wegraap? Sal dit al die ander strategiese Amerikaanse belange gevestig in Kenia in gevaar stel, en moet ‘n belangrike bondgenoot vervreem word? Kenia is ‘n belangrike middelpunt vir alles vanaf die miljard-dollar gesondheidprogramme en Amerikaanse korporasies tot agente wat op Al-Kaida spioeneer.

Die Britte het reeds in die openbaar gesê dat hulle enige kontak sal vermy, tensy dit noodsaaklik is.

As hy wen, sal Kenyatta, wat voor is met 50 persent van die stemme, die tweede Afrikastaatshoof wees na Soedan se Omar Hassan al-Bashir wat by die Internasionale Strafhof in Den Haag sal aangekla word.

Kenia ontvang byna $1 miljard in Amerikaanse steun elke jaar en het ingestem om Somaliese seerowers gevange te hou en honderde duisende vlugtelinge te aanvaar, op die versoek van donateurs soos die Verenigde State.

Nairobi, Kenia se hoofstad, is die tuiste van die grootste Amerikaanse ambassade in sub-Sahara Afrika en ‘n uitgestrekte Verenigde Nasies-kampus wat programme regoor die wêreld bestuur. Dit maak ditveral moeilik vir die Verenigde State van Amerika om sy hulpbronne te iewers anders te konsentreer.

Daar is regtig baie min hefboomkrag wat die VSA en ander lande kan uitoefen omdat Kenyatta maklik kan draai na China, wat belangrike vordering gemaak het in die bou van paaie en selfs geheime finansiering aan ‘n paar Keniaanse militêre operasies gee.

Hofstukke teken ‘n ontstellende prentjie van Kenyatta. Volgens die aanklaers, is honderde van sy mede-Kikuyu’s deur mededingende etniese groepe gedood in die ontploffing van geweld na die laaste belangrike verkiesing in 2007, en Kenyatta het daarna vergaderings georganiseer met ‘n Nairobiese straatbende om wraak te neem.

Die berugte bende, die Mungiki, het mense, insluitende klein kinders doodgebrand in hul huise.

In die Keniaanse politieke landskap is min figure so polariserend soos Kenyatta, 51, ‘n adjunk-eerste minister. Baie lede van ander etniese groepe beskuldig hom en sy familie dat hul voorvaderlike grondgesteel het, die basis vir die Kenyatta-fortuin.

Maar Kikuyu sien Kenyatta as ‘n verlosser. Hy is ‘n selfversekerde spreker, opgevoed by Amherst College.

Baie Westerse regerings sal duidelik die eerste minister, Raila Odinga, verkies, maar hy lyk na die verloorder.

OB moet viktimisering deur DA ondersoek

Die VF Plus het ‘n klag met bewysstukke by die openbare beskermer, Adv Thuli Madonsela, ingedien om die voortdurende viktimisasie van fluitjieblasers in die DA-beheerde Midvaal munisipaliteit in Gauteng te ondersoek.

Dit volg nadat mnr Corrie Pypers, wat vir 10 jaar reeds voorsitter van die Meyerton Golfklub is sedert sy verkiesing as VF Plus raadslid vir Midvaal in Mei 2011 en na die vrystelling van ‘n openbare beskermerverslag oor Midvaal, toenemend deur die DA geteister word.

Die DA orkestreer ondermeer op ‘n gereelde basis aksies teen die Meyerton Golfklub ten einde van Pypers ontslae te raak.

Mnr Corrie Pypers was een van die fluitjieblasers in die saak wat gelei het tot die publikasie van ‘n verslag van die Openbare Beskermer op 8 November 2011, getiteld “It can’t be right: Remedying self Interest”. Hierdie verslag het ondermeer wanadministrasie in Midvaal bevind en gelei tot die afdanking van mnr Andre Odendaal, prokureur en diensverskaffer van regsdienste van die Midvaal munisipaliteit. Odendaal was voorheen die voorsitter van die DA in Midvaal.

Ondersoeke deur die spesiale ondersoekeenheid na beweerde kriminele oortredings in Midvaal, wat uit bevindings in die verslag voortspruit, is tans aan die gang.

Odendaal is egter onlangs, ten spyte van die bevinding van die Openbare Beskermer, weer as diensverskaffer van regsdienste in Midvaal aangestel.

Odendaal het ook in 2011 ‘n lasteraksie teen die VF Plus, verteenwoordig deur mnr Jaco Mulder LPW, mnr Corrie Pypers en mnr Kobus Hoffman, ‘n voormalige DA lid van die burgemeesterskomitee oor finansies in Midvaal, begin nadat bewerings van vermeende wanadministrasie en korrupsie in die media gemaak is.

Daar is ‘n groot skroef los in Midvaal sê Pypers en ten spyte van die feit dat die leierskap van die DA, onder leiding van me Helen Zille, dit reeds sedert 2009 onder die mat invee sal die waarheid binnekort seevier.

Winnie doen toiletdiens

ANC-LP Winnie Madikizela-Mandela het gister beloof om die regering te wys hoe om dienste te lewer aan mense na ‘n besoek aan ‘n ​​skool waar leerlinge aan ‘n ​​sanitasiekrisis blootgestel is nou al vir die afgelope ses jaar.

Die situasie het so sleg geraak dat die meer as 500 leerlinge op Polonia Primêre Skool, in Mmakau, Noordwes, hulself in die skool se agterplaas verlig as gevolg van die disfunksionele toiletstelsel.

“Ek het hierheen gekom, want ek wil help. Ek gaan toesien dat ek ons regering wys dat dit gedoen kan word,” het Madikizela-Mandela gesê.

Die ANC-veteraan, wat ook deel van die Minister van Menslike Nedersettings Tokyo Sexwale se ministeriële taakspan is oor sanitasie, het die skool besoek gister ná ‘n brief van die Nasionale Vereniging van Skool Beheerliggame.

“Ons moet erken dat ons ons kinders faal. Ons moet die waardigheid van ons kinders herstel,” het sy gesê.

Klasaksie teen Anglo begin

Die regsverteenwoordigers van goudmyn-werkers wat aan die longsiekte silikose ly, het met ‘n aansoek om ‘n groepsgeding teen Anglo American begin.

Die aansoek is die jongste in ‘n reeks groepsgedinge teen Suid-Afrika se eens magtige goudmynbedryf.

Anglo American wat sy hoofkantoor in 1999 van Johannesburg na Londen verskuif het, het nie meer goudmyne in Suid-Afrika nie.

Die regsverteenwoordigers sê egter die afdeling van die maatskappy, wat in Johannesburg gebaseer is, het bates van sowat ‘n miljard rand.

Hulle beweer dat Anglo American nalatig was en nie die blootstelling aan stof en silikose voorkom het nie.

Berlusconi moet agter tralies

‘n Italiaanse hof het Donderdag die voormalige premier Silvio Berlusconi tot een jaar tronkstraf gevonnis in verband met ‘n meeluister-skandaal.

Berlusconi sal heel moontlik teen die besluit appelleer en vir eers uit die tronk bly.

Die 76-jarige is skuldig daaraan bevind dat hy gereël het dat die polisie ‘n politieke teenstander van hom afluister, waarna hy die inligting wat daardeur verkry is, aan ‘n koerant gelek het.

Berlusconi se broer besit die koerant.

Berlusconi appelleer tans teen ‘n ander ‘n skuldigbevinding vir belastingbedrog en word ook deur aantygings in die gesig gestaar dat hy met ‘n minderjarige prostituut seks gehad het.

Zuma veroordeel geweld, apartheid, afwesige swart vaders

Pres. Jacob Zuma het die onlangse rits gewelddadige misdaad, spesifiek teen vroue en kinders, veroordeel.

“… Ons moenie vergeet dat die meerderheid van die 52 miljoen Suid-Afrikaners vredeliewende, goeie, wetsgehoorsame burgers is nie,” het hy in die parlement gesê.

Hy het die geweldskultuur aan apartheid se nalatenskap toegeskryf, asook aan swart vaders wat nie na hulle kinders omsien nie.

“Die stelsel van apartheid kon net volgehou word deur middel van geweld, en geweld het verskans geraak in apartheid Suid-Afrika,” het Zuma gesê.

“Swart kinders het die laagste persentasie van huidige vadertoesig op 31,1%, terwyl Indiërkinders die hoogste het op 83,0%, met wit kinders agter op 80,8% en vir gekleurde kinders is die verhouding 53%.”

“[Suid-Afrikaners] is lief vir hul land. Hulle doen elke dag hul bes om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak… Wanneer ‘n mens wil uitvaar, moet ons versigtig wees om nie alle Suid-Afrikaners as gewelddadig en brutaal uit te beeld nie. Ons moet versigtig wees om nie ons land sleg te sê nie.”

Zuma het bygevoeg dat burgers nie vertroue in hul eie menslikheid moet verloor nie.

“Ons moet ook nie ons pragtige land uitbeeld as ‘n inherente gewelddadige plek om te woon nie,” het die president gesê.

Hy meen die land moet “soos alle lande” vir oplossings soek.

Volgens hom is mense geregtig om teen die onlangse geweld in die land uit te vaar. Zuma meen dit dui aan dat burgers nie hul sin vir reg en verkeerd verloor het nie.

“Ons moet nou saam werk om oplossings te vind.”

SA nie gewelddadig nie, sê Zuma

President Jacob Zuma sê Suid-Afrika is nie ‘n gewelddadige land nie.

Daar is egter sekere elemente wat op ‘n skokkende wyse optree. Zuma het die Huis van Tradisionele Leiers in die Parlement in Kaapstad toegespreek.

Hy sê mense moet nie alle Suid-Afrikaners as gewelddadig en wreed skets nie.

Zuma se opmerkings kom te midde van ‘n vlaag protesoptredes, misdade en beweerde polisiewreedheid die afgelope tyd in die land.

Hy sê Suid-Afrikaners moet nie vertroue verloor in hul eie menswees en bevoegdheid om dit wat verkeerd is in die land, reg te maak nie.