Glen Thomas
Die direkteur-generaal van grondsake, mnr. Glen Thomas, het gister ’n radikale nuwe grondbeleid aangekondig in terme waarvan die staat eerste opsie op aankope van alle grond – ook in stedelike gebiede – verkry. Die Wet op Grondvoorsiening en –bystand (wet 126 van 1993) gaan binnekort hiervoor gewysig word.
Alle eiendomsverkopers sal verplig word om eers hul eiendom aan die staat aan te bied wat sal besluit of hy dit wil aankoop of nie. Volgens Thomas ondersoek die departement maniere om die skerp styging in eiendomspryse te stuit. Van die maatreëls sluit in die afwyking van die beginsel van “gewillige verkoper, gewillige koper”, asook grondbelasting en perke op grondbesit.
Die staat wil voortaan grootskaalse grondhervorming begin toepas. “Kanse vir grondverkryging gaan verlore omdat die staat nie proaktief aan grondaankope deelneem nie. Die wetwysiging sal alle grondverkopers binne en buite die staat verplig om grond eerste aan die staat te bied,” het Thomas gesê.
Ook die Suid-Afrikaanse grondwet mag vir die doeleindes van grondhervorming gewysig word. Die radikale nuwe planne sal binne die volgende twee tot drie maande geopenbaar word. “Twee dokumente sal gepubliseer word, een oor die gewilligheidsbeginsel en een oor grondbelasting. Onteiening kan ook ter sprake kom,” aldus Thomas.
Tot dusver kon die departement van grondsake weens “’n kapasiteitsgebrek” nie sy grondhervormingsplanne behoorlik deurvoer nie. Daarom word die departement binne die huidige boekjaar geherstruktureer.
Thomas is in 2005 as direkteur-generaal van die departement aangestel. Hy beskik oor ’n B-graad in kommunikasie van die Fort Hare-universiteit en het een jaar van ’n tweejaarhonneurskursus aan die Rhodes voltooi.
Sover dit beleid betref, steun die departement van grondsake blykbaar swaar op ’n publikasie van die RGN wat deur die Harold Wolpe-trust gefinansier is, The land question in South Africa onder redaksie van Lungisile Ntsebeza en Ruth Hall. Harold Wolpe was ’n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty wat tydens die Rivonia-verhoor landuit gevlug het en in 1996 oorlede is.
In die voorwoord tot die boek noem mev. AnnMarie Wolpe, die weduwee van die Suid-Afrikaanse kommunis, dat hul trust in 2004 ’n grondberaad georganiseer het waartydens die betrokke referate gelewer is. Ook die huidige direkteur-generaal van grondsake, Glen Thomas, was daar verteenwoordig en het tot die kongres en boek bygedra. Volgens mev. Wolpe, “bestaan daar algemene konsensus oor die behoefte aan grootskaalse herverspreiding van grond ná eeue van ontvreemding”.
Die uitgangspunt van Glen Thomas, asook die res van die bydraers tot die boek, is dat blankes en Afrikaners “setlaars” is wat hul eiendom op onregmatige wyse verkry het. Die vraag is nie of hulle van hul grond moet afstand doen nie, maar hoe.
Volgens ’n opname vir die Instituut vir Geregtigheid en Versoening deur James Gibson het 85% van swart respondente “stem saam” geantwoord toe hulle gevra is of hulle saamstem of nie saamstem met die volgende stelling nie: “Die meeste grond in Suid-Afrika is onregverdig deur blanke setlaars bekom en het hulle vandag geen reg tot daardie grond nie.”
Ook meen die groep linkse navorsers wat deur die Harold Wolpe-trust gefinansier is dat “grondherverspreiding bowenal ’n saak van billikheid en gelykheid is. Dit sal ons amper altyd terugneem na die geskiedenis as mense voel dat die manier waarop eiendomsregte vroeër tot stand gekom het nie billik was nie. ’n Geskiedenis waartydens boere se grond van hul afgeneem is stem dikwels in mense se denke ooreen met ’n growwe onreg – ’n onreg wat reggestel moet word, ongeag die gevolge.”
Die “geskiedenis” waarna hier verwys word, is die Suid-Afrikaanse geskiedenis soos dit geïnterpreteer word deur Marxistiese en neo-Marxistiese historici soos Colin Bundy en Harold Wolpe self.
Nog ’n navorser en mede-redakteur van The land question wat nou gemoeid is met die beleid van die departement van grondsake, is Ruth Hall van die Universiteit van die Wes-Kaap. Volgens haar was die radikale herverspreiding van grond deel van die skikking van 1994, maar is dit nog nie behoorlik uitgevoer nie. In ’n onlangse meningsartikel in die Mail & Guardian skryf sy, in ’n duidelike verwysing na die komende verliese wat kommersiële boere en grondeienaars gaan lei:
“Ons Suid-Afrikaners skyn lief te wees vir die idee van wen-wen oplossings vir ons baie moeilike probleme. Maar die herverspreiding van grond kan nie altyd tot gevolg hê dat almal wen nie.”
Sy beskou insgelyks vergelykings van die ANC se huidige grondonteieningsprogram met dié van Zimbabwe as “ongegrond” aangesien Suid-Afrika s’n deur wetgewing en die grondwet gereguleer word.
Een van die metodes waarmee huidige eienaars van hul grond af gedwing gaan word, gaan deur grondbelasting wees. Sodanige belasting sal nie op die waarde of verbeteringe op die grond gehef word nie, maar op die "potensiële produksievermoë" van ’n plaas. ’n Eienaar wat dus in die stad bly met ’n wildplaas sal moet belasting betaal asof hy ’n grootskaalse veeboerdery of saaiplaas aanhou.
Dat die radikale en dikwels kommunistiese navorsers waarop die departement van grondsake steun egter nog vir ’n hele revolusie in die land gaan sorg, is gewis. Een aspek van die komende grondrevolusie berus op die linkse navorsers se geloof in die vermoë van kleinboere op klein lappies grond wat hoër opbrengste as kommersiële boere gaan lewer. Dit wil dus voorkom asof kommersiële plase onteien gaan word en onderverdeel gaan word in kleinhoewes waarop ’n vorm van bestaansboerdery gaan plaasvind.
Die navorsers erken ook dat grondhervorming soos dit veral in Suid-Amerika en in Zimbabwe toegepas is dikwels tot geweld en maatskaplike onrus lei, maar sien dit as ’n geringe prys om te betaal ten einde geregtigheid en gelykheid te laat seëvier.
monopoly game logoпрокурор харьковской области