Verklaar ‘n noodtoestand!

“Ek verklaar my land as onveilig en dring daarop aan dat die regering ‘n noodtoestand uitroep,” so sê me. Amanda de Lange, streekvoorsitter van die VF Plus aan die Wesrand ná die skietdood van ‘n hoërskool dogter in Krugersdorp.

Die Botha-gesin is Woensdagaand by hul huis in Muldersdrift deur drie rowers ingewag. Die jongste dogter, Alyssa, is in die maag getref en het aan haar beserings beswyk. Haar ouer suster Megan is in beide haar bene getref en haar pa is ook geskiet. Beide pa en dogter is in ‘n ernstige toestand. Die rowers het met ‘n beursie en selfone gevlug en is steeds op vrye voet.

“Ek kan myself met die Botha-gesin assosieer. My oudste dogter, Bianca, is twaaf jaar gelede sonder rede geskiet. Sedertdien het niks verander nie. Die moorde op onskuldige landsburgers het ‘n alledaagse verskynsel geword. Die owerhede is apaties en doen niks om hul mense te beskerm nie”, so sê me. De Lange, wat 13 jaar lank streekvoorsitter van die Gemeenskap Polisieforum aan die Wesrand was.

“Die polisie is net so ontoereikend. Hul suksessyfers kan daarvan getuig. Hulle is dae lank in interne gesprekke en debatte oor of hulle moet skiet of nie. Intussen word mense wreed vermoor terwyl daar in raadsale gedebateer word. Ons kan eenvoudig nie meer so voortgaan nie. Hoeveel onskuldige kinders moet ons nog verloor terwyl politici hulle van die werklike probleme distansieer. Hoeveel gesinne moet wreed uitmekaar geskeur word terwyl senior amptenare die probleem van die een departement na die ander stuur?,” het sy gesê.

Die VF Plus het daarmee saam sy meegevoel aan die Botha-gesin betuig en hom weereens verbind tot aksie.

“Ons sal nie ophou om die owerhede tot verantwoording te roep nie. Ons sal nie ophou om moorde onder die aandag van die buiteland te bring nie en sal ook nie ophou om die regering by die hoogste gesag in die land en in die wêreld te verkla nie. Ons sal nie ophou totdat Suid-Afrika weer ‘n veilige plek vir almal is nie,” aldus mev. de Lange.

лобановский класс

Brits getref deur jongste plaasmoord

“Dit is met skok en afgryse dat ek vanoggend verneem het van die moord op mnr. Mauritz Oberholzer op sy plaashoewe in Losperfontein, Brits,” het Elsa Lourens, Vryheidsfront Plus-raadslid in die Madibeng-munisipaliteit gesê.

Die aanvallers het net na middernag toegeslaan. Mnr. Oberholzer is in die been geskiet, ‘n worsteling het ontstaan waarna mnr. Oberholzer vermoedelik met n graaf, wat langs hom gevind is, doodgeslaan is. Mev. Rita Oberholzer is ongedeerd nadat sy daarin geslaag om haarself in die badkamer toe te sluit.

Die moordenaars is weg met mnr. Oberholzer se brandkluis.

Lourens het vanoggend die gesin besoek en het daarna met van die boere op die toneel en omringende plase gesels.

“Die mense is diep geskok en ‘n ongekende woede heers in die gemeenskap,” het Lourens gesê.

Mev. Lourens, wat ook op die beheerliggaam sit vir beveiliging vir sektore 3 en 4 (landelik) Brits, het direk na haar besoek aan die gesin ‘n vergadering op ‘n buurplaas gehad met kapt. Ndlovu en kapt. Diale, 2 van die sektor-polisiëringsbestuuders van die SAP in Brits.

“Ek het aan hulle gesê dat die boeregemeenskap nie verkwalik geneem kan word as emosies begin hoog loop nie. Daar is al soveel berade en vergaderings oor landelike veiligheid in Brits gehou, maar niks konkreets kom na vore nie,” het Lourens bygevoeg.

Mev. Lourens het ook gesê dat die beheerliggaam en gemeenskap-polisiëringsforums en buurtwagte daarop aandring dat die SAP se sektor-polisiëringseenheid geskei moet word van algemene polisiëring. Die sektorhoofde het nie die personeel en voertuie om pro-aktief te patrolleer en re-aktief op te tree nie en moet staatmaak op die beskikbaarheid van dorpspersoneel en hulle voertuie. Die SAP se sektor-polisiëringseenhede sal slegs kan funksioneer as permanente personeel en voertuie aan hulle toegeken word. Plaasmoorde sal ook as prioriteitsmisdaad verklaar moet word.

Mnr. Oberholzer se dood word betreur deur die gemeenskap waar hy ook ouderling was in die plaaslike NG Gemeente Vorentoe.

“Ons innige meegevoel is aan die familie oorgedra en ons spreek ook die hoop uit dat die saak spoedig opgelos sal word en die skuldiges aangekeer sal word.”

topcargo отзыв

Marikana: Uiters gespanne

Die hoofstuk by Marikana is nog nie afgesluit nie, met dreigemente van geweld deur duisende stakende werkers by die Lonmin-myn .

Woensdag het sowat 5000 ontstoke myners, gewapen met byle, kieries, stokke en pale, gedreig om enigiemand of enige voertuig wat poog om die pad na die myn in Noordwes te versper, aan die brand te steek.

Die dreigement is gemaak teen die agtergrond van byna twee weke van geweld waarin 10 mense – insluitend twee veiligheidswagte en twee polisiemanne, asook 34 stakende mynwerkers dood is.

Gister het mynwerkers opgeruk na Kareemyn, buite Rustenburg, en het ‘n ultimatum om teen 13:00 op te hou werk, uitgevaardig. Hulle het ‘n nuwe golf van bloedvergieting belowe as daar nie aan die oproep gehoor gegee word nie.

“Ons is hier om die impimpi’s uit te rook [informante],” het William Stone, een van die mynwerkers aan timeslive.co.za gesê. Hy het gesê hulle is baie ernstig.

“As hierdie myn oop bly, sal daar bloed wees,” het hy gedreig.

Die mynwerkers het liedjies oor Lonmin-bestuur en President Jacob Zuma en sy regering gesing om hulle te koggel.

Die stakers sê hulle verdien R4 500 ‘n maand na aftrekkings en eis ‘n volle salaris van R12 500. Cyril Ramaphosa druk glo die verskil in sy eie sak, omdat hy as arbeidsmakelaar by die myn optree.

Die aantal werkers wat vir werk aangemeld het, het gedaal tot ‘n laagtepunt, met Lonmin wat slegs ‘n 4,5%-arbeidsmagbywoning van alle skagte gerapporteer het.

Die Lonmin se aandeelprys het byna 20% in die laaste maand gedaal.

‘n Senior skagbestuurder Jan Thirion het gesê die mynwerkers se dreigemente was “soos ‘n gelaaide geweer teen jou kop”. Hy was omring deur swaar gewapende lyfwagte.

Provinsiale woordvoerder van die polisie Brigadier Thulani Ngubane het gesê dat die polisie die situasie bestuur.

“Dit is ‘n uiters gespanne omgewing op die oomblik,” het Ngubane gesê.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Woolworths lag boikot af

Woolworths sal swig nie voor druk van Solidariteit en praag.co.za nie, het die bestuur aangedui. ‘n Openbare veldtog teen die winkelgroep is tans besig om momentum te verkry, nadat dit dié week van stapel gestuur is.

“Ons is nie rassisties nie en sal aanhou om mense van alle rasse aan te stel. Woolworths word deur die Wet op Billike Indiensneming verplig om ‘n werkmag te hê wat saamgestel is op grond van ras, geslag en gestremdheid,” het die groep gister in ‘n verklaring gesê.

“Soos alle Suid-Afrikaanse maatskappye het Woolworths ‘n rol om te vervul wat transformasie betref. Daarom is sommige poste vir aangewese groepe.”

Solidariteit het eergister in ‘n brief aan Woolworths geëis dat die groep advertensies vir poste wat uitsluitlik vir “swart Afrikane” of net “Afrikane, gekleurdes en In­diërs” oop is, wysig sodat mense van alle rassegroepe oorweeg word.

Solidariteit het Woolworths tot gister 12:00 gegee om die advertensies te onttrek.

топкарго кидалы

SA note word Mandela-advertensie

Nelson Mandela se bakkies gaan binnekort op Suid-Afrikaanse banknote pryk, in ‘n skaamtelose poging om publisiteit aan sy politieke projek te verleen. Die bestaande note is 20 jaar gelede uitgereik met neutrale natuurtemas.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het Woensdag sy nuwe banknootreeks in Pretoria bekend gestel. Die nuwe ontwerpe en kleure is besonder swak gedoen en herinner aan dié van piesangrepublieke op die vasteland.

Die konsep en ontwerp is volgens Marcus aan oudpres. Nelson Mandela voorgelê. Hy is glo “diep geraak” deur die nuwe note.

Lesers aan wie praag.co.za die nuwe ontwerpe gewys het, was teleurgesteld daarmee. “Dis aaklig,” sê Stefni Delport, ‘n grafiese ontwerper. “Dit is baie amateuragtig gedoen in die sin dat die klassieke en Afrika-temas nie behoorlik geïntegreer is nie.”

Ander lesers het haar gevoel beaam. “Dit lyk soos Afrika-geld. Hoekom iets verander wat werk?” het Janine Greyvenstein gevra. “Ons moet die ou note begin versamel!”

Daar is glo nog tyd voor die Madiba-noot die strate tref. “Jan Rap en sy maat moet nie môre al die note op straat verwag nie,” het Gill Marcus, president van die Reserwebank, gesê.

“Dit is net die bekendstelling van die kommunikasieveldtog om mense bewus te maak van die ­nuwe banknote en in te lig oor hoe dit gaan lyk.”

Die nuwe banknote sal dieselfde grootte, kleur en waarde as die bestaande note hê.

Volgens Marcus sal die nuwe Mandela-banknootreeks, wat in wese ‘n advertensieveldtog vir die ANC is, voor die einde van die jaar uit te reik.

Die datum sal nog bekend gemaak word.

Фільчаков Олександр Васильович

Praag wens Parti Québecois geluk!

PRAAG het die Parti Québecois gelukgewens met sy uitstekende verkiesingsvertoning tydens provinsiale verkiesings in Kanada. In sy reaksie op Twitter vroeg vanoggend, het die leier van PRAAG, dr. Dan Roodt, gesê: “Ek ondersteun Québekaanse separatisme, wat die saak vir ‘n Afrikanervolkstaat kan versterk. Félicitations au Parti Québecois!”

Die Afrikaanse aksiegroep het al dikwels die ooreenkomste tussen nasionale minderhede wat deur groter volkere omring word beklemtoon, soos dié tussen Afrikaners, die Québecois, die Vlaminge en die Katalane.

Roodt sê: Ons beskou die oorwinning van madame Pauline Marois as nie net goed vir die Québekane nie, maar ook vir die wêreldwye beginsel van selfbeskikking. Afrikaners, nes die Québekane, word omring deur honderde miljoene onderdane van die Britse Statebond wat Engels op ons afdwing en ons ekonomiese en kulturele vryheid deur rassistiese en chauvinistiese wetgewing beperk. Dit wil egter nie sê dat ons Suid-Afrika se totalitêre houding jeens veeltalgigheid met die meer verligte Kanadese weergawe wil vergelyk nie, maar ‘n klein volk en ‘n klein kultuur kan net binne ‘n eie staat vry wees.”

Dr. Roodt het ook ‘n beroep op die Afrikaner-separatistiese party, die Vryheidsfront Plus, gedoen “om te leer uit die welslae van die Parti Québecois en sy oortuigende oorwinning oor liberalisme, ten einde die Afrikaner se bevryding uit die kettings van die Engelse Statebondstaat van 1910 te verhaas. Ons kan ook liberalisme verslaan, net soos die Parti Québecois gedoen het.”

Sowel die Quebekane as Afrikaners beskik oor ‘n lang geskiedenis van taalstryd. Ook was beide volkere by tye die voorwerpe van Angel-Saksiese hoon. Roodt meen dat daar “groter samewerking tussen Quebekane, Afrikaners, Vlaminge en Katalane behoort te wees omdat hulle soortgelyke ervarings van meerderheidsverdrukking deel”. Hy is besonder geraak deur ‘n Twitter-boodskap vanuit Québec, wat in hoofletters verklaar: “ON VEUT UN PAYS!”, ons wil ‘n land hê.

“Die hemel weet, ons wil ook ‘n land hê. On veut un pays.” het hy afgesluit.

Фильчаков прокурор харькова

Quebec-separatiste wen verkiesing

Pauline Marois, leier van die Franssprekende Parti Québécois, vier vandag ‘n oorwinning oor die gevestigde liberale met ‘n minderheidsregering na ‘n verkiesingsnag wat deur ‘n skietery en brandstigting ontsier is.

Dié separatistiese party is na nege jaar terug, tot groot vreugde van die Franse minderheid in Kanada wat wil afstig vir ‘n onafhanklike staat.

Marois is van die verhoog af tydens haar oorwinningstoespraak na ‘n sarsie geweervuur toe sekuriteitsamptenare haar inderhaas verwyder het vir haar eie beskerming. ‘n Brand is glo agter die saal gestig.

Sy het egter ‘n paar minute later teruggekeer en aangedring daarop dat ondersteuners wat Montreal se Metropoliskonsertsaal volgepak het, rustig moet bly en die saal ordelik moet verlaat.

“Daar was ‘n ongelukkige voorval,” het sy gesê. Montreal se polisie het ‘n man in hegtenis geneem buite die gebou. Een is gedood en nog iemand beseer toe die skieter in die skare in gevuur het.

Hy is op kamera vasgevang tydens die arrestasie, terwyl hy geskree het: “Die Engelse word wakker!” wat aandui dat die skietery gemotiveer is deur vrese onder die provinsie se Engelssprekende minderheid dat die Franse hul onafhanklikheid van Kanada sal opeis.

Plaaslike media het berig dat hy ook geskree het: “Dit gaan nou fokken terugbetaal-tyd wees!”

Marois, 63, sal nou die provinsie se eerste vroulike premier word.

Marois het voor die voorval op die podium verskyn toe die uitbundige skare losgebars het met Gens du Pays, ‘n nasionalistiese volkslied. Marois het alle Quebecers gevra om hul verskille opsy te sit vir ‘n verenigde Quebec.

Sy het natuurlik Frans gepraat. In Engels egter, het Marois Engelssprekende Quebecers vertel dat hul regte gerespekteer sal word.

“Ons deel dieselfde geskiedenis, en ek wil dat ons ‘n toekoms saam skep,” het sy gesê.

Die oorwinning dui op ‘n groot verlies vir die liberale, wat ná nege jaar, gedobbel het met ‘n somerverkiesing ‘n jaar voor die einde van hul mandaat.

Die premier Jean Charest het verloor weens studente onrus en ‘n swak ekonomie.

Лобановский Харьков

Woolworths moet poste vir alle rasgroepe oopstel – Solidariteit

Die vakbond Solidariteit gaan môre om 12:00 met ʼn openbare veldtog teen Woolworths begin indien die groep nie advertensies vir poste, waarvoor slegs swart kandidate oorweeg sal word, terugtrek nie. Die veldtog sal grootliks op sosiale media gevoer word.

Solidariteit het vandag in ʼn brief aan Woolworths geëis dat die groep advertensies van poste, wat uitsluitlik vir “swart Afrikane” of slegs “Afrikane, kleurlinge en Indiërs” oop is, wysig sodat mense van alle rasgroepe daarvoor oorweeg sal word. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het in sy brief aan Woolworths geëis dat die groep die posadvertensies voor Woensdag 12:00 wysig. Hermann het aan Woolworths gesê dat sy toepassing van die Wet op Gelyke Indiensneming nie korrek is nie en neerkom op onbillike diskriminasie.

“Die Wet op Gelyke Indiensneming maak nie voorsiening vir die uitsluiting van enige ras wanneer dit kom by aansoeke nie. Hierdie advertensies kom neer op ʼn absolute kwota, wat die wet doelbewus verbied. Die vakbond het ʼn beroep gedoen op Woolworths om sy interne beleid van regstellende aksie te hersien sodat dit nie onbillik teen huidige of voornemende werknemers van enige rasgroep diskrimineer nie.” Volgens Solidariteit laat die wet nie sodanige diskriminasie toe nie, en gaan die openbare mening ook nie sulke diskriminasie toelaat nie.

лобановский депутат

PRAAG vra vir boikot van die ‘haatgroep’ Woolworths

WoolworthsDie Pro-Afrikaanse Aksiegroep doen ‘n beroep op alle verbruikers die kettingwinkel Woolworths, maar ook die maatskappy se Country Road-handelsmerk, te boikot. Woolworths het dit onlangs duidelik gemaak dat die groep nie blanke werkaansoekers in ag neem nie.

Dr. Dan Roodt, leier van PRAAG, verklaar: “Vir ‘n hele aantal jare reeds poog ons om met Woolworths oor hul anti-Afrikaanse beleid te praat, sonder enige welslae. Hierdie jongste uiting van antiblanke rassisme is die laaste strooi. Ons doen ‘n beroep op al ons lede en die algemene publiek, veral Afrikaners, maar ook alle blanke Suid-Afrikaners en nie-rassistiese mense onder ander bevolkingsgroepe om Woolworths te boikot.”

Die sanger Steve Hofmeyr en ander Afrikaanse openbare figure het hul reeds op Twitter ten gunste van ‘n boikot uitgespreek.

Gedurende ‘n noodvergadering van PRAAG se Menseregtekomitee is Woolworths as ‘n haatgroep geklassifiseer. “Dienooreenkomstig sal ons hierdie klassifikasie wêreldwyd aan menseregtegroepe kommunikeer, veral in lande met groot Europese bevolkings. Ons gaan insgelyks die Raad van Europa en die Europese Menseregtekommissie kontak en hulle versoek om Schengen-visums aan alle werknemers van Woolworths te weier. In dié opsig moet mnr. Simon Susman en sy medebestuurders dieselfde behandeling as Robert Mugabe en sy trawante ontvang. Indien Woolworths befondsing vanaf beleggers of banke ontvang, sal ons hulle ook teiken en versoek om beleggings in Woolworths te onttrek,” sê Roodt.

Hy is van mening dat Woolworths nie agter regeringswetgewing kan skuil nie. “Waar die regering wetgewing uitvaardig wat maatskappye verplig om suiwer op ‘n rassegrondslag teen blankes te diskrimineer, is dit strydig met die volkereg en behoort deur individue en privaatmaatskappye geïgnoreer te word. Suid-Afrika is ‘n ondertekenaar van die meeste internasionale menseregteverdrae wat sulke wette ongeldig maak.”

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) is ‘n NRO in Suid-Afrika, wat in Februarie 2000 gestig is. Dit is ‘n beweging van Afrikanerintellektuele, professionele lui, boere, studente en ander wat ‘n veldtog vir die regte van Afrikaners en blanke Afrikane in die algemeen voer, asook vir gelykheid met swartes wat eiendomsreg, taal, toegang tot onderwys en die reg om handel te dryf, betref.

топкарго отзывы

Nog ‘n natuurramp in wording

“Die VF Plus is sterk gekant teen die beoogde uitreiking van prospektering-en mynlisensies of permitte deur die department vir mineraalsake aan Ngwenya Mining and Exploration(Edms) Bpk. Ngweny Mining is ‘n yster- magnetiet myn in die Suikerboschrand- omgewing”, sê mnr Jaco Mulder, VF Plus hoofwoordvoeder oor water en –omgewingsake.

Die Heidelberg/ Midvaal omgewing is ‘n gevestigde bewaringsgebied met waardevolle landbougrond en ekotoerisme. Die Blesbokrivier- en Suikerboschrandrivier opvangsgebiede dien ook as ‘n waardevolle waterbron vir duisende inwoners stroom-af, en vorm deel van die Vaalrivierstelsel wat reeds onder druk verkeer vanweë dreigende suur mynwater vanuit die Oosrand se goud- en steenkoolvelde.

“Die regering se onvermoë tot nou, om die nakoming van wetsvereistes en die misbruik van waterlisensies te monitor, gaan lei tot die ontstaan van ‘n nuwe hulpbronkrisis in Suid Afrika”, sê Mulder.

Mulder het ‘n beroep op die publiek en omgewingsbewarings- agentskappe gedoen om alles in hul vermoë te doen om die beoogde vestiging van die myn, aangrensend aan die Suikerboschrand natuurreservaat, te stop.

Die VF Plus tree ook binnekort in gesprek met die Midvaal munisipaliteit . Die beoogde myn is geleë binne hierdie munisipaliteit se grense.

Данильченко