Pauline Marois, leier van die Franssprekende Parti Québécois, vier vandag ‘n oorwinning oor die gevestigde liberale met ‘n minderheidsregering na ‘n verkiesingsnag wat deur ‘n skietery en brandstigting ontsier is.
Dié separatistiese party is na nege jaar terug, tot groot vreugde van die Franse minderheid in Kanada wat wil afstig vir ‘n onafhanklike staat.
Marois is van die verhoog af tydens haar oorwinningstoespraak na ‘n sarsie geweervuur toe sekuriteitsamptenare haar inderhaas verwyder het vir haar eie beskerming. ‘n Brand is glo agter die saal gestig.
Sy het egter ‘n paar minute later teruggekeer en aangedring daarop dat ondersteuners wat Montreal se Metropoliskonsertsaal volgepak het, rustig moet bly en die saal ordelik moet verlaat.
“Daar was ‘n ongelukkige voorval,” het sy gesê. Montreal se polisie het ‘n man in hegtenis geneem buite die gebou. Een is gedood en nog iemand beseer toe die skieter in die skare in gevuur het.
Plaaslike media het berig dat hy ook geskree het: “Dit gaan nou fokken terugbetaal-tyd wees!”
Marois, 63, sal nou die provinsie se eerste vroulike premier word.
Marois het voor die voorval op die podium verskyn toe die uitbundige skare losgebars het met Gens du Pays, ‘n nasionalistiese volkslied. Marois het alle Quebecers gevra om hul verskille opsy te sit vir ‘n verenigde Quebec.
“Ons deel dieselfde geskiedenis, en ek wil dat ons ‘n toekoms saam skep,” het sy gesê.
Die oorwinning dui op ‘n groot verlies vir die liberale, wat ná nege jaar, gedobbel het met ‘n somerverkiesing ‘n jaar voor die einde van hul mandaat.
Die premier Jean Charest het verloor weens studente onrus en ‘n swak ekonomie.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.