Die Botha-gesin is Woensdagaand by hul huis in Muldersdrift deur drie rowers ingewag. Die jongste dogter, Alyssa, is in die maag getref en het aan haar beserings beswyk. Haar ouer suster Megan is in beide haar bene getref en haar pa is ook geskiet. Beide pa en dogter is in ‘n ernstige toestand. Die rowers het met ‘n beursie en selfone gevlug en is steeds op vrye voet.
“Ek kan myself met die Botha-gesin assosieer. My oudste dogter, Bianca, is twaaf jaar gelede sonder rede geskiet. Sedertdien het niks verander nie. Die moorde op onskuldige landsburgers het ‘n alledaagse verskynsel geword. Die owerhede is apaties en doen niks om hul mense te beskerm nie”, so sê me. De Lange, wat 13 jaar lank streekvoorsitter van die Gemeenskap Polisieforum aan die Wesrand was.
“Die polisie is net so ontoereikend. Hul suksessyfers kan daarvan getuig. Hulle is dae lank in interne gesprekke en debatte oor of hulle moet skiet of nie. Intussen word mense wreed vermoor terwyl daar in raadsale gedebateer word. Ons kan eenvoudig nie meer so voortgaan nie. Hoeveel onskuldige kinders moet ons nog verloor terwyl politici hulle van die werklike probleme distansieer. Hoeveel gesinne moet wreed uitmekaar geskeur word terwyl senior amptenare die probleem van die een departement na die ander stuur?,” het sy gesê.
Die VF Plus het daarmee saam sy meegevoel aan die Botha-gesin betuig en hom weereens verbind tot aksie.
“Ons sal nie ophou om die owerhede tot verantwoording te roep nie. Ons sal nie ophou om moorde onder die aandag van die buiteland te bring nie en sal ook nie ophou om die regering by die hoogste gesag in die land en in die wêreld te verkla nie. Ons sal nie ophou totdat Suid-Afrika weer ‘n veilige plek vir almal is nie,” aldus mev. de Lange.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.