Sodra ‘n mens die leerstelling aanvaar dat alle mense ewe begaaf is, dat almal die potensiaal het om in dieselfde mate te presteer mits hulle dieselfde geleenthede gebied word, kom jy by ‘n universiteit vir die gepeupel uit. Religieus kan ‘n mens in hierdie kwaad gesterk word deur te redeneer dat alle mense na die beeld van God geskape is. Almal kan dus maar tot die laagste gemene deler gereduseer word.
Ons ervaring van die werklikheid verskil egter hiervan. Daar is wel opsigte waarin mense eenders is, bv dat almal asemhaal, maar sulke ooreenkomste is dikwels op die liggaamlike vlak en ook daar kom groot verskille voor. ‘n Universiteit is egter op die gees (“mind”) van die mens ingestel en juis hier is daar groot variasies in bekwaamheid. Hoewel bv omgewingsfaktore ‘n rol speel, is dit deurslaggewend vanweë die geestelike vermoëns van mense dat sommige gebiede (bv lande, selfs ‘n kontinent) ontwikkeld en voorspoedig en ander agterlik en aalmoes-afhanklik is.
‘n Mens moet eerder die empiriese werklikheid ontvanklik in oënskou neem as om vas te klou aan ‘n onrealisties-idealistiese siening van mense. ‘n Universiteit is nie vir almal nie. Dit funksioneer op die derde/tersiêre (dus die hoogste) vlak van onderwys. Dit is veronderstel om net vir die beste van die bestes te wees, dus vir diegene wat reeds hulle geestelike uitnemendheid op die eerste en tweede onderwysvlak bewys het. ‘n Universiteit is nie veronderstel om ‘n instrument vir sosiale ingenieurswese ten behoewe van bv die regering te wees deur akademiese potensiaal (dus onbewese vermoëns) te soek nadat dit vir bykans twee dekades nog nie in kandidate na die oppervlak gekom het nie. Histories en inherent is ‘n universiteit nie veronderstel om regstellend ten behoewe van sosiale onvolmaakthede te funksioneer nie, maar eerder om bewese geestelike, spesifiek akademiese, bekwaamheid verder te ontwikkel.
Eintlik het die universiteit net twee funksies, naamlik onderrig en navorsing. Navorsingsresultate voed of onderskraag die onderrig. In die nuwe Suid-Afrika word ‘n derde funksie graag politiek-korrek beklemtoon, naamlik gemeenskapsdiens. Dit is egter iets wat die owerheid en vrywilligers behoort te onderneem. Dit is ‘n sosialisties/kommunistiese kenmerk om van universiteite gemeenskapsdiens te verwag. Die ANC-regering vereis op dieselfde ideologiese grondslag al hoe meer van afgestudeerde studente om vir ‘n jaar of langer verpligte gemeenskapsdiens te doen. Dit vloek natuurlik teen die veelgeroemde era van vryheid wat ons betree het. Maar dit is heeltemal in ooreenstemming met die kommunistiese leerstelling dat ons eintlik aan die staat behoort en dus die regering moet dien.
As UDF/ANC-aktivis is Botman meermale ingeperk. Dit het as springplank vir sy regstellende aanstelling as US-rektor gedien. Aan hom is in groot mate ‘n vrye hand in transformasie gegee. Anders as in die geval van sy blanke voorgangers, word hy politiek-korrek net ligweg gekritiseer, maar meesal glad nie. In sy akademiese pos kan hy dus sy politieke ideale uitleef, des te meer omdat hy vir ‘n tweede termyn van vyf jaar as rektor aangestel is, waaruit hy aflei dat hy volgens die universiteitsraad op die regte pad is: “My aanstelling vir ‘n tweede termyn deur die US-raad het die uitbou van transformasie as ‘n uitdruklike mandaat, wat ek gewis van plan is om te volbring.” Hier praat Botman die aktivis.
Omdat regstellende aanstellings nie suiwer op meriete geskied nie, bevind sodanige bevoordeeldes hulle op ‘n baie jonger ouderdom as voorheen (toe sulke betrekkings op meriete gevul is) in geil poste. Botman is klaarblyklik daarop uit om met radikale transformasie-inisiatiewe die ANC te beïndruk, sodat hy na sy uittrede as rektor aanspraak om ‘n geil pos in bv die politiek kan maak, al word hy etnies aan bande gelê deur die feit dat hy ‘n bruin-swarte en nie ‘n swart-swarte is nie.
Die rektor is veronderstel om die hoofakademikus van sy universiteit te wees; iemand na wie al die dosente en navorsers kan opsien vir akademiese leiding en voorbeeldstelling. As ‘n rektor egter om nie-akademiese redes en voordat hy hom daadwerklik akademies bewys het, jonk-jonk as rektor aangestel word, word hierdie tradisionele akademiese rol gesaboteer. Geen wonder dat so iemand hom dan eerder in sy spesialiteit, naamlik die politiek, uitleef nie. Die skuld hiervoor moet veral voor die deur van die universiteitsraad gelê word, wat sodanige aanstelling toegelaat het.
Die kanker loop dieper. Die rektor kan kwalik sy politieke oogmerke met ‘n universiteit bereik as hy nie steun uit die fakulteite ontvang nie. In die ou Suid-Afrika het die professore by die universiteitsraad aanbeveel wie as rektor aangestel moet word. Normaalweg is hierdie aanbeveling aanvaar. Die benoeming van dekane is deur die dosente in die betrokke fakulteit aanbeveel en die universiteitsraad het normaalweg daarmee akkoord gegaan. In albei gevalle (rektor en dekane) was die rol van die raad eintlik ‘n formaliteit. Op hierdie manier is gesorg dat sowel die rektor as die dekane gewoonlik deurwinterde akademici is wat hulle poste op grond van akademiese meriete beklee.
Die nuwe Suid-Afrika, wat voorgehou word as nie-rassisties en nie-seksisties, het die era van nie-meriete aanstellings ingelui. Die benoeming van die rektor en dekane is grootliks uit die hande van akademici geneem en aan die universiteitsrade toevertrou. Om te verseker dat hierdie rade volgens die wense van die ANC-regering handel, is hulle getransformeer deur bv daarop aan te dring dat hulle die demografie weerspieël, dus oorwegend swart moet wees, en die minister van hoër onderwys het hom aangematig om ‘n hele aantal raadslede te benoem wat dan volgens sy wense handel. Die akademiese kultuur aan universiteite word deesdae op hierdie manier deur ANC-politiek gerysmier.
Universiteitsonderrig is veronderstel om op die geestelike ontwikkeling van studente ingestel te wees. Met die oog hierop moet die akademiese klimaat aan die universiteit so min moontlik deur die regering van die oomblik versteur word. Hierdie “ivoortoringtydperk” van geestelike toewyding is absoluut noodsaaklik. Na afstudering kan sulke behoorlik ontwikkelde studente dan hulle kundigheid onder andere tot voordeel van die samelewing aanwend. Plaaslik word daar deesdae egter soveel moontlik politieke aktiviste in die kernposte aangestel; nie net in die geval van die rektor en die fakulteitsdekane nie, maar ook die studentedekaan.
Hierdie kernpersoneel verpolitiseer die hele akademiese opset, bv deur die universiteit as ‘n apologeet vir demokrasie te verklaar. In werklikheid is demokrasie (waarvan daar baie variasies is) net een van die politieke stelsels. Wat aan ‘n universiteit gedoen behoort te word, is om die verskillende soorte politieke stelsels na te vors, te bestudeer en te onderrig; nie om enigeen van hulle onkrities te propageer soos Botman doen nie.
Wat hy nie kan of wil begryp nie, is dat hy glad nie sy voorkeur vir demokrasie op sy universiteit moet projekteer nie. Die meerderheid weet nie noodwendig die beste nie, soos ‘n oomblik se nadenke duidelik uitwys, bv dat die meerderheid mense eens gefouteer het deur te dink dat die aarde plat is. Die universiteit is wesenlik ‘n hiërargiese en glad nie ‘n demokratiese inrigting nie. Die eerstejaarstudente is op ‘n laer vlak as die tweedejaars, ens. Die voorgraadse studente is op ‘n laer vlak as die nagraadse studente. Die amptenare in die administrasie is ten minste akademies op ‘n laer vlak as die akademiese personeel (dosente en navorsers). Voorheen was die dekane en die rektor akademies op ‘n hoër vlak as die ander akademiese personeel. Deesdae is die vergoeding van die dekane en rektor steeds hoër, maar weens die rol wat politiek speel, is hulle dikwels akademies minderwaardig. Die punt is: ‘n universiteit is nie ‘n gemeenskap van gelykes nie.
Weens sy oordrewe ingesteldheid op transformasie gaan dit vir Botman nie om die behoud van wat tradisioneel eie aan of kenmerkend van die US is (bv wittes, Afrikaans) nie, maar om die bevordering van wat vreemd is (nie-wittes, Engels). Onder die nie-wittes (sowel studente as dosente en ander personeel) is bruines by uitstek vir bevoordeling uitgesonder. Dit moet vir hom salig wees om sy eie mense so blatant te bevoordeel sonder om die wesenlike gevaar kan kritiek te loop, omdat enige beswaar as rassisties afgemaak kan word. Wat ook in Botman se gedrag opval, is dat hy baie traag is om te reageer as bv die afskaling van Afrikaans aangeroer of wittes benadeel word, maar dat hy dadelik en heftig reageer as daar die geringste sprake van “rassisme” ten koste van nie-wittes is.
Die primarius van een van die US-koshuise het onlangs op die oorspronklike gedagte gekom om soos ‘n Willie Jonker van weleer (namens alle NGK-lidmate) sonder ‘n mandaat sommer namens al die koshuisinwoners verskoning vir apartheid te vra. Die Burger was so beïndruk met hierdie meevallertjie dat hy verlede week ‘n berig daaroor op sy voorbladsy gepubliseer het. Dit was maklik voorspelbaar dat Botman dit as ‘n geleentheid sou aangryp om sy transformasie-agenda te bevorder; des te meer omdat hy op die internet kennis geneem het van ‘n ander misleide US-student wat om versnelde transformasie pleit. Hierdie twee gevalle toon myns insiens hoe doeltreffend die Botman-indoktrinasieveldtog op die kampus gevoer word. Dit het aanleiding gegee tot die Botman-artikel genoem in die eerste paragraaf hierbo, wat Die Burger met graagte gepubliseer het.
Wat doen Botman met hierdie gegewens? Hy loof hierdie “nuwe generasie studente” se insig en “denkleierskap”. Hy vind die apologie “verfrissend” maar “dat geen apologie vir apartheid die onregte van die verlede ongedaan sal maak nie”. Dus, die wittes bly skuldig en Botman, die UDF/ANC-aktivis, en soortgelykes bly onskuldig. Dit is seker ‘n toonbeeld van ware versoening. Dan kom hy behoorlik in rat met die ANC-woord “uitdagings”: “groter erkenning van die rol van die universiteit in die ongelykhede van die verlede”; ‘n geneul oor “die voortsetting van eksklusiwiteit”; ‘n gekla oor “die pyn van die verlede”; “groter toeganklikheid vir die verontregtes van apartheid” [al vier is teen die wittes gemik]; “diensbaarheid aan … alle mense in Suid-Afrika en die vasteland” [dus ‘n onderskrywing van die ANC se Afrika-beheptheid]; kortom: “totale transformasie” en “‘n onomkeerbare gees van verandering” [dus die diskreditering en uitwissing van alles wat met die US van weleer verband hou].
Botman beoog om die verswarting van die US “eksponensieel te versnel”. Hy opper ook die gedagte van “‘n eie herinneringstuin”, maar daarin sal die talle uitnemende wit US-akademici van weleer seker nie figureer nie. Dit is duidelik dat Botman in alle opsigte die ANC ter wille wil wees. Die enigste vlieg in die salf wat hy noem, is “die onlangse senior aanstellings van oorwegend wit mans”. Hy weet dit is ‘n doring in die vlees van die ANC, want Suid-Afrikaanse wit mans is saam met die Israelies bekend vir hulle doeltreffende uitroeiing van terroriste. Daarom word daar in die nuwe Suid-Afrika sover moontlik teen wit mans gediskrimineer. Botman troos hom egter daarmee dat “hierdie senior amptenare” moet “help om die transformasie pas te versnel”, dws hulle moet werk om hulleself uit hulle poste te kry.
Wat sê Botman oor Afrikaans as onderrigtaal aan die US? Hy verwys net indirek na hierdie lastigheid: “groter toeganklikheid vir die verontregtes van apartheid” en “groter toeganklikheid deur meertaligheid”. Die boodskap is myns insiens duidelik. Volgens die evangelie van Botman sal daar in die US-toekoms al hoe meer Engels en al hoe minder Afrikaans wees, totdat daar verkieslik geen Afrikaans oorbly nie; dus totale transformasie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.