Die ma van die sewe maande oue baba, wat dood gevind is in ‘n plakkershut in Diepsloot, en haar kêrel is in hegtenis geneem, het die Gautengse polisie Donderdag gesê.
“Die ma is Dinsdagaand in ‘n kroeg in Randburg vasgetrek en haar kêrel is gister [Woensdag] in Diepsloot gearresteer,” het kapt. Tsekiso Mofokeng gesê.
Mofokeng het gesê die 23-jarige vrou word aangekla van kinderverwaarlosing en moord. Sy sal Donderdag in die landdroshof in Pretoria verskyn.
Haar 30-jarige kêrel word deur ‘n aanklagte van moord in die gesig gestaar. Hy sal Vrydag in die hof verskyn.
Die sewe maande oue babaseuntjie se verminkte liggaam (sy een voetjie is deur rotte afgebyt) is Sondag in die woning gekry. – Sapa
Die Valke wil ondersoek instel oor die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir se verbintenis met skietgevegte, bomaanvalle en moorde in Bedfordview.
Inwoners van Bedfordview, oos van Johannesburg vrees vir hul lewens weens die toename in geweldsmisdaad in die gebied
Die span wat Suid-Afrika se misdaad-onderwêreld te ondersoek is reeds maande gelede aangestel, maar bedrywighede is die afgelope ses weke verskerp, berig The Times.
In die mees onlangse voorval by Krejcir se onderneming Money Point is twee mense dood en vyf beseer.
Krejcir wou nie Woensdag kommentaar lewer nie.
Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het bevestig dat speurders met baie ervaring ’n reeks moorde, poging tot moord, ’n huisroof en ’n inbraak waartydens juweliersware van miljoene rande gesteel is, ondersoek.
Al dié voorvalle het die afgelope ses weke in Bedfordview aan die Oos-Rand plaasgevind en die span het afsonderlike sake waarin Krejcir die klaer is.
‘n Aantal voorvalle die afgelope paar maande het verskeie lewens in die gegoede buurt geëis. Inwoners sê dit is veral kommerwekkend dat die voorvalle skynbaar in intensiteit toeneem.
Verlede maand is twee mans, Bassam Issa en Veselin Laganin doodgeskiet.
Dinsdagaand is nog twee mans dood in ‘n bomontloffing by die Tsjeggiese voortvlugtige, Radavon Krejcir se winkel. Drie ander mense is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem.
Volgens berigte was die twee mans meelopers Krejcir.
Die mafiabaas probeer om sy uitlewering aan die Tsjeggiese republiek waar gevangenisstraf op verskeie aanklagte hom in die gesig staar, te fnuik.
Daar word gevrees dat honderde mense dood is nadat ‘n seldsame tropiese sikloon die noorde van Somalië die naweek getref het.
Die Verenigde Nasies sê swaar reën het oor die Puntland-gebied uitgesak. Kommunikasie-kabels en toegang tot die gebiede wat geraak is, is afgesny.
Dit bemoeilik noodleniging sowel as die bevestiging van berigte wat ontvang word.
Die Puntland-owerhede het die situasie tot ‘n noodtoestand verklaar en om hulp gevra. Die VN sê sowat 30.000 mense benodig voedsel, skuiling en mediese voorraad.
Die Wêreld Meteorologiese Organisasie het bevind dat vanjaar op ses na die warmste is sedert rekordhouding in 1850 begin het.
Die organisasie sê die stygende seevlak, wat deur klimaatsverandering veroorsaak word, vererger die uitwerking van storms soos Tifoon Haiyan in die Filippyne verder.
Die sekretaris-generaal van die WMO, Michel Jarraud sê meer kweekhuisgasse in die atmosfeer sal ‘n al hoe warmer toekoms tot gevolg hê.
Hy sê ook meer uitermatige weerstoestande is onvermydelik. Volgens die WMO was die eerste nege maande van 2013 saam met dié van 2003 die sewende warmste ooit.- RSG
Die oorlewendes van Tifoon Haiyan raak opstandig oor die stadige pas waarteen hulp versprei word. Die amptelike dodetal staan op meer as 2 300, maar noodwerkers sê die syfer kan aansienlik styg.
‘n Massabegrafnis van die slagoffers in Tacloban is afgestel toe geweerskote gehoor is en die stoet geen keuse gelaat is as om om te draai nie.
Agt mense is dood toe ‘n groot skare honegeres ‘n ryswinkel bestorm het. Die muur van die gebou het op die mense ingetuimel.
Daar is byna geen voedsel of water nie, en volgens berigte is oorlewendes desperaat om van die verwoesting te ontvlug.
Skermutselinge het uitgebreek tussen mense wat graag op die skaars beskikbare vlugte wil kom.
Die Filippynse regering het vroeër gesê hy het te kampe met die grootste logistieke uitdaging tot nog toe ná die verwoesting wat die tifoon gesaai het. Meer as 11miljoen mense is geraak deur die ramp.
Die kabinetsekretaris, Rene Almendras sê die regering is oorweldig deur die omvang van Haiyan se impak.
Amerikaanse militêre vliegtuie het begin land op die Tacloban-lughawe, met voorraad van die Wêreldvoedselprogram aan boord.
Amerikaanse soldate sal met die weermag se Osprey-vliegtuie poog om die mees afgeleë gebiede van hulp te voorsien.
Die Britse en Amerikaanse vloot het ook voorraad en bemanning per skip gestuur, wat na verwagting binne die volgende paar dae sal begin aankom.
Die Moslemliefdadigheidsorganisasie Gift of the Givers sal uit Suid-Afrika na die Filippyne vertrek om hulp aan tifoonslagoffers te verleen.
Die span bestaan uit twintig personeellede wat spesialiste is in reddingsoperasies en ook bestuurders, paramedici, ‘n trauma dokter en ‘n pediater.
Die span sal mediese voorraad, energie aanvullings asook kos en water saam met hulle neem.
Drie swart mans sal die 20ste November weer in verband met die moord op die 70-jarige John Noble en sy 68-jarige vrou, Hester in die Pinetown landdroshof, wes van Durban verskyn. Hester was ‘n Emphysemia-lyer.
Vyf ander verdagtes sal moontlik staatsgetuies word. Die moord op die bejaarde paartjie het plaaslike inwoners in die Shongweni-vallei verlede Donderdag geskok.
Die twee weerlose bejaardes is albei wreed vermoor. Hester is met haar suurstofpyp verwurg en John met ‘n stuk draad. Niks is uit die huis gesteel nie en hulle voertuig is ‘n entjie van hul woning verlate gevind.
Scelo Mathabane, Siyabonga Xaba en Philane Shange het Woensdag in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van moord en roof.
Die mans voer aan dat hulle veiligheid bedreig word, aangesien hulle glo dreigemente van die Hilcrest polisie ontvang het.
Landdros Ishmail Motaung het egter beslis dat hulle ter wille van ‘n spoedige ondersoek, in polisieaanhouding moet bly.
Hulle is vroeg Dinsdagoggend in hegtenis geneem en sal na verwagting die 20ste om borgtog aansoek doen.
Die menseregte-organisasie, Amnestie Internasionaal, het ‘n beroep op Suid-Afrika gedoen om die beweerde menseregteskendings deur die regering van Sri Lanka te veroordeel. Suid-Afrika is sedert 1994 weer deel van die Statebond.
Sri Lanka het die Britse premier David Cameron intussen gewaarsku dat hy geen reg het om die kwessie van menseregte te opper tydens sy besoek aan die Statebondberaad nie.
Sri Lanka se minister van inligting, het Cameron se “kommer” oor beweerde oorlogsmisdade tydens die konflik met die Tamil Tiere as ‘n foefie om die stemme van Brittanje se Tamil-gemeenskap te trek, afgemaak.
Meer as 100 Tamils was op pad na Colombo om by ‘n Statebondberaad te gaan betoog. Die weermag het egter hul busse voorgekeer om hulle te verhoed om na die in die hoofstad te reis.
‘n Span van die Verenigde Koninkryk se Kanaal 4 TV is verhinder om die voormalige oorlogsgebied in die noorde van die land te besoek.
Die regering beskuldig die TV-kanaal daarvan dat hulle die oud-rebelle ondersteun en konflik in die land wil aanblaas.
Callum Macrae, direkteur van Channel 4 se bekroonde dokumentêre stuk “Sri Lanka Killing Fields”, het gesê die polisie het gesê hulle moet terugkeer na die hoofstad.
Die tweejaarlikse beraad deur Statebonds-staatshoofde begin vandag in die hoofstad Colombo.
Menseregte-aktiviste het gewaarsku dat die Statebond sy relevansie in gevaar kan stel indien hy nie die kwessie van menseregte-skendings wat tydens Sri Lanka se burgeroorlog gepleeg is, hanteer nie.
Die beweerde skendings teenoor die Tamil-minderheid voor die einde van die burgeroorlog in 2009, duur na bewering steeds voort.
Die bewerings het daartoe gelei dat die Kanadese Eerste Minister, Stephen Harper nie die beraad bywoon nie en so ook nie Indië se eerste minister, Manmohan Singh nie.
Bomplanter Robert McBride is die regte man vir die pos het Nathi Mthethwa, minister van polisie, se kantoor gesê na McBride se benoeming as nuwe hoof van die polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).
McBride se rol in die Magoo’s Bar-bomaanval in 1986 in Durban waarin drie wit vroue gesterf en 69 mense beseer is, is bekend. McBride is in 1986 aan moord skuldig bevind weens die bomaanval wat hy as lid van umKhonto weSizwe (MK) uitgevoer het.
Hy is ter dood veroordeel, maar is later begenadig. Die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) het amnestie aan McBride verleen in 2001.
Volgens sy pa Derrick McBride het hy “swaar gely onder vooroordeel” deur die media. “Maar daar word deur wit mense oor hom verslag gedoen. En daar is druk op hom omdat hy drie wit vroue (in die Magoo’s Bar-bom) doodgemaak het.” Sy pa sê sy seun “moes al minister van polisie gewees het”.
McBride het vroeër gesê hy het nie alleen opgetree nie. Hy was onder die gesag van die ANC. Saam met Gordon Webster, het hy die eenheid vir spesiale operasies vanuit Gabarone bedryf en is opgekommandeer deur Aboobaker Ismail. Ismail het aan Joe Slovo verslag gedoen.
Zweli Mnisi, Mthethwa se woordvoerder, het gesê McBride het die nodige kwalifikasies met sy ervaring as oudmetropolisiehoof van Ekurhuleni.
Dr. Johan Burger, senior navorser aan die ISS, het by navraag aan Beeld gesê hy is “uit die veld geslaan”.
Hy was veral verras in die lig van McBride se onlangse verlede. “Die minister moes tog gedink het dat met al die moeilikheid in die polisie dié benoeming betwis sal word,” het Burger gesê.
Burger het egter aan die M&G gesê McBride sal waarskynlik sê al die voorvalle in sy onmiddellike verlede was blote bewerings en hy is vrygespreek van alle aanklagte.
Burger het gesê McBride is gekwalifiseer vir die pos. “In terme van kwalifikasies, weet ons hy het ‘n graad in polisiëring. Dus, in terme van kwalifikasies, het hy aan die vereistes voldoen. Dit moet ook in gedagte gehou word dat hy die hoof van ‘n polisie-agentskap was.”
Mthethwa het bevestig dat die kabinet McBride vir die pos aanbeveel het uit die nege kandidate vir die pos.
Dr. Mark Shaw, direkteur van gemeenskappe, misdaad en konflik by STATT Consulting in Hongkong, was een van die gunsteling-kandidate, berig Beeld.
STATT is ’n organisasie in Hongkong soortgelyk aan die plaaslike Instituut vir Sekerheidstudie (ISS).
McBride is in 1992 saam met 150 politieke gevangenes vrygelaat. In 1998 is hy as ’n hooggeplaaste amptenaar in die departement van buitelandse sake, in Mosambiek weens beweerde wapensmokkelary in hegtenis geneem.
Hy het aangevoer dat hy saam met die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA) gewerk het. Alle aanklagte teen hom is later laat vaar.
McBride, en die beweerde handlanger van die Tsjeggiese Mafiabaas Radovan Krejcir, Cyril Beeka en nog ’n man is vroeër weens aanranding aangekla by ‘n Kaapse ontkleeklub.
Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging het besluit om McBride nie te vervolg nie en Beeka en nog ’n beskuldigde het alleen tereggestaan.
In 2011 word McBride skuldig bevind aan dronkbestuur en regsverydeling ná ’n ongeluk in Desember 2006 toe sy ampsmotor naby Centurion op pad terug van ’n werkpartytjie naby die Hartbeespoortdam gerol het. Hy is later op appèl vrygespreek.
Die DA sê McBride is nie geskik vir die rol nie omdat Opod “daagliks met sensitiewe inligting werk”.
Die omstrede Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir wou nie Woensdag kommentaar lewer nie nadat twee mense in ’n bomontploffing by sy onderneming in Bedfordview gesterf het.
“Jammer, ek praat nie met die media nie,” het hy telefonies aan Sapa gesê.
Die polisie fynkam steeds die toneel van die ontploffing, waarin vyf mense ook gewond is.
Die toestel het Dinsdagmiddag by die onderneming Money Point naby die Eastgate-winkelsentrum ontplof.
Polisiehelikopters het Woensdagoggend op die toneel geland.
Forensiese kenners het laat Dinsdagaand gesê die gebou se dak het meegegee in die ontploffing.
’n Forensiese kenner, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê hulle probeer nog vasstel watter soort plofstof gebruik is.
“Ons moet nog vasstel watter soort bom dit was en watter komponente dit gehad het. Die beseerdes is na die Bedford Gardens-hospitaal geneem.
Krejcir was in Julie die teiken van ’n beweerde sluipmoordaanslag buite Money Point. Hy het die aanval oorleef.
Drie weke voor dié aanval was daar ’n inbraak by Money Point en juweliersware van sowat R3 miljoen is gesteel. – Sapa
Suid-Afrika is verkies tot die Verenigde Nasies se Menseregteraad.
Veertien lede word verkies om ‘n driejaartermyn te dien. Hulle word deur die 193 lede van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York aangewys.
Van die lande wat verkies is tot die Raad, soos Kuba en Saudi-Arabië, het twyfelagtige menseregterekords.
Suid-Afrika sluit by Namibië, Marokko en Algerië uit Afrika aan.
China, Rusland sowel as Viëtnam sal ook op die Raad dien.
Die ander twee is die Verenigde Koningkryk en Frankryk. Die lande se termyn begin op 1 Januarie 2014.
Die polisie op Wolmaranstad in Noordwes ondersoek twee plaasaanvalle in die omgewing.
‘n Vyftigjarige op die plaas Doringhoek is na bewering deur vier verdagtes in sy huis aangeval.
Daar word beweer dat hulle hom daarna geboei en met kookwater gebrand het.
Die verdagtes het daarna na bewering 20 diamante van sowat R600 000 gesteel, sowel as twee rewolwers en ‘n bakkie wat later op ‘n ander plaas gekry is.
In nog ‘n aanval op die plaas Klipdrif het drie verdagtes ‘n 83-jarige vrou en vier van haar werkers aangeval.
Sy het wonde aan haar liggaam en gesig opgedoen. Die verdagtes het met die slagoffer weggery, maar haar later ‘n ent van haar huis af afgelaai. – RSG