“What, in fact, is ‘equality’? The term has been much invoked but little analyzed. A and B are ‘equal’ if they are identical to each other with respect to a given attribute. Thus, if Smith and Jones are both exactly six feet in height, then they may be said to be ‘equal’ in height. If two sticks are identical in length, then their lengths are ‘equal’, etc. There is one and only one way, then, in which any two people can really be ‘equal’ in the fullest sense: they must be identical in all of their attributes. This means, of course, that equality of all men – the egalitarian ideal – can only be achieved if all men are precisely uniform, precisely identical with respect to all of their attributes. The egalitarian world would necessarily be a world of horror fiction – a world of faceless and identical creatures, devoid of all individuality, variety, or special creativity.” [1]
“Egalitarianism as a Revolt Against Nature” deur die skrywer Murray N. Rothbard
Volgens die Engelse aanlyn Oxford Dictionaries, is ‘n egalitarian (voorstander van die gelykheidsdogma), iemand wat “believing in or based on the principle that all people are equal and deserve equal rights and opportunities” [2]. Die goeie vraag is natuurlik wat mense daarmee bedoel wanneer hulle verwys na die sg. “gelykheid” van álle mense. Is dit werklikwaar realisties om te glo dat álle mense op ‘n manier gelyk is, terwyl daar tog ooglopende verskille tussen hulle is betreffende hul intelligensie, skeppingsvermoë, liggaamsbou, ens.?
Uit die voorgaande is dit duidelik dat die stelling “alle mense is gelyk (geskape)”, teenstrydig is met die werklikheid betreffende beide ooglopende en minder ooglopende verskille, soos o.a. oorerflike genetiese verskille, tussen mense. Terwyl ek aan die een kant glo dat alle mense sowel as alle ander lewende wesens, ‘n gedeelde Goddelike essensie het, erken ek dat daar genetiese verskille tussen hulle is wat veroorsaak is deur miljoene jare se evolusionêre prosesse. Hierdie genetiese verskille veroorsaak dat ‘n kat ‘n ander geaardheid het as ‘n hond en dit kan selfs ‘n bepalende rol speel by die feit dat sommige mense meer intelligent en/of meer skeppend is as andere. Lewende wesens het daarom ook verskillende vlakke van ontwikkeling wat nie noodwendig impliseer dat diegene wat meer intelligent of skeppend is as andere, noodwendig “beter” is as hulle nie. Daar is talle voorbeelde in die geskiedenis van intelligente en skeppende mense wat al geweldige skade aan die omgewing en aan ander mense aangerig het. ‘n Geniale persoon is dus nie noodwendig ‘n goeie mens nie, en iemand wat Downs se sindroom het is nie noodwendig ‘n slegte mens nie.
Dit is belangrik om te onderskei tussen aan die een kant die Goddelike essensie wat alle lewende wesens op ‘n manier aan mekaar verbind, en aan die ander kant die ooglopende verskille tussen meer intelligente mense en minder intelligente mense, honde en katte, miere en olifante, ens. Alle lewende wesens het nie dieselfde vermoëns nie, omdat hulle verskillende gene oorgeërf het vanaf hul ouers. Indien ‘n hond byvoorbeeld dieselfde skole en universiteit as ‘n mens sou bywoon, sal die hond beslis nie in staat wees om ‘n boek te skryf nie. Dis doodeenvoudig onwetenskaplik om te wil beweer dat ménse ‘n uitsondering is op hierdie reël en dat alle mense dieselfde potensiaal het om ‘n geniale ruimtewetenskaplike te word, indien hy/sy onder ideale toestande sou grootword. Iemand wat met my hieroor verskil het gedurende ‘n debat, het selfs sover gegaan om te beweer dat Stephen Hawking ‘n baie goeie ma gehad het en dat haar optrede teenoor hom die hoofrede was vir sy latere genialiteit!
Daar is ‘n interessante verband tussen die idee dat alle mense “gelyk geskape is in die oë van God” en Marxiste se gelykheidsdogma waarvolgens alle mense gelyk is in die sin dat almal dieselfde vermoëns het. Volgens die tradisionele Christelike dogma het Jesus slegs vir die sondes van mense gesterf en was Sy kruisdood dus slegs van toepassing op mense en nie op nie-menslike diere nie. Sommige tradisionele Christene het daarom beweer dat die mens die kroon van God se Skepping is en dat die mens na die “beeld van God” geskape is. Sekere wette van God is hiervolgens blykbaar van toepassing op die mens, terwyl ander natuurwette van toepassing is op die res van God se Skepping. Terwyl die Ou Testament hoofsaaklik fokus op die verhouding tussen God en die volk Israel, het die latere Christene begin glo dat álle mense deur Jesus se soenoffer gered kan word. Vir baie jare was daar outokratiese regeringsvorms waarvolgens die gewone man op straat basies geen seggenskap gehad het oor regeringsake nie, maar die meeste Christene, Jode en Moslems het geglo dat die mens tog op ‘n manier meer spesiaal is as die ander diere op aarde, omdat slegs mense (na bewering) met God kan kommunikeer.
Sedert die Franse rewolusie van 1789 het die idee van “Vryheid, Gelykheid en Broederskap” begin populêr word onder baie Westerlinge, en is die voorheen outokratiese regeringsvorms geleidelik vervang met demokratiese regeringsvorms. Die idee dat alle mense gelyk is in die sin dat hulle gelyke regte behoort te hê, het die ou ongelyke regte tussen adellikes en die res van die feodale bevolkings, vervang. Voorheen kon lede van die adelstand sekere misdade pleeg waarvoor hulle nie vervolg is nie, maar waarvoor die gewone man op straat vervolg sou word indien hy dieselfde misdaad sou pleeg. Volgens die latere “linksgesinde” kommunistiese idees van Karl Marx en Friedrich Engels, is alle mense basies gelyk omdat hulle dieselfde potensiaal het. Mense se gene is hiervolgens van minder belang omdat mense se karaktereienskappe en lewenskwaliteit oorwegend bepaal word deur hul opvoeding en lewensomstandighede, in plaas van deur hul oorgeërfde gene. Indien ‘n toekomstige Marxistiese staat dus sou sorg dat alle inwoners van die land dieselfde opvoeding ontvang binne dieselfde ideale lewensomstandighede, sou die staat volgens Marxiste, verseker op pad wees na die bereiking van ‘n utopiese paradys waarbinne alle goedere deur almal besit word en aan alle mense se behoeftes voorsien sou word. Vergelyk die voorgaande Marxistiese idees met hierdie stelling wat ek op ‘n kreasionistiese, Christelike webblad raakgelees het: “Genetically, we are ‘equal’ as well. Now that the human genome has been deciphered, we know every human is so similar to everyone else that we are all essentially ‘clones’ of each other. The various expressions we recognize are best understood as designed adaptations.” [3]
Die idee dat alle mense gelyke stemreg behoort te hê, hou verband met die valse en onwetenskaplike aanname dat alle mense “gelyk geskep” is en dat almal gevolglik dieselfde vermoëns het. In werklikheid is daar omtrent nêrens in die natuur enige gelykheid nie, omdat die sterkere en meer aanpasbare lewende wesens gewoonlik triomfeer oor die swakkere, minder intelligente en gevolglik minder aanpasbare lewende wesens. Mense is so verskillend van mekaar dat selfs hulle vingerafdrukke en geslagsorgane uniek is! Intelligensievermoëns verskil ook omdat sommige mense dinge vinniger aanleer as ander, minder intelligente mense. Een persoon se tone of hare is nie eens dieselfde as ‘n ander persoon s’n nie! Die gelykheidsdogma kan dus ook as ‘n ongeldige metafisiese aanname of “geloof” beskou word omdat dit geensins gebaseer is op enige empiriese of waarneembare wetenskaplike getuienis nie.
Sommige sogenaamde demokratiese lande is meer effektief as andere, juis omdat die meeste inwoners van ‘n land nie noodwendig weet wat die beste besluite is wat geneem moet word om hul eie welsyn te bevorder nie. Indien ‘n land bestaan uit verskillende bevolkingsgroepe waarvan die oorgrote meerderheid van die inwoners aan een groep behoort, is die kanse goed dat die minderheidsgroepe benadeel sal word deur die meerderheid se “demokratiese” besluite. Indien die meeste inwoners maklik beïnvloedbaar is, kan die eienaars van die hoofstroommedia maklik indirek bepaal watter politieke besluite geneem word. Deur sommige politici in ‘n goeie lig te stel, kan hulle die uitslag van verkiesings voorafbepaal. Die onlangse Amerikaanse presidentsverkiesings is ‘n goeie voorbeeld hiervan.
Watter regeringsvorm is dan op die ou end die beste? Die geskiedenis het al verskeie kere aangetoon dat die lewenskwaliteit van ‘n land se inwoners grootliks bepaal word deur die kwaliteit van die inwoners van die land en dat die kwaliteit van die mense van ‘n land nié noodwendig afhanklik is van die land se regeringsvorm nie. ‘n Land wat deur ‘n koning regeer word, kan welvarend wees indien die koning werklik omgee vir sy onderdane. ‘n Demokrasie kan ten gronde gaan indien die stemmers nie genoegsaam ingelig is oor basiese politieke realiteite nie en opportunistiese politici hul kans dan kan waarneem om ‘n eenpartydiktatuur in te stel – soos al dikwels in Afrikalande soos bv. Zimbabwe plaasgevind het.
Kom ons veronderstel dat alle inwoners van ‘n land op ‘n dag sou besluit om spirituele beginsels te aanvaar, beginsels wat hulle daagliks motiveer om die welsyn van ál hul mede-landgenote te probeer bevorder. Daar is genoeg hulpbronne in die land en daar is geen probleem met oorbevolking in die land nie. Die inwoners is sodanig spiritueel volwasse en hul lewens so moreel onaantasbaar, dat nie een van hulle dit sal oorweeg om ‘n ander persoon te benadeel nie. In sulke ideale omstandighede sal daar nie eens die nodigheid vir ‘n regering wees nie en sal selfs ‘n toestand van anargie werkbaar wees. Daar sal miskien ‘n groep wysgere wees wat as raadgewers optree vir die res van die bevolking, maar hierdie raadgewers sal dit nie nodig ag om wette op te stel wat deur ‘n polisiemag afgedwing word nie en daar sal gevolglik ook nie tronke wees nie. Kom ons veronderstel verder dat daar ‘n ander land is waarvan alle inwoners ook sodanig spiritueel en moreel ingestel is, maar dat hulle ‘n diktator of ‘n koning het wat as alleenheerser regeer. Ek reken dat selfs so ‘n land ekonomiese vooruitgang sal toon en dat die meeste inwoners gelukkige mense sal wees. Miskien kan die geldigheid van my bewering eendag getoets word wanneer genoeg mense bereid sal wees om aan so ‘n eksperiment deel te neem?
Tradisionele Christene beweer dikwels dat die wêreld wel ‘n beter plek sou gewees het indien álle mense op ‘n dag sou besluit om God se gebooie te gehoorsaam en landswette op te stel wat in ooreenstemming is met Bybelse riglyne. ‘n Vraag wat tereg gevra kan word is watter denominasie se interpretasie van die Bybel dan nagevolg behoort te word binne so ‘n Christen-teokrasie? Tydens die Middeleeue was daar alreeds ‘n tipe teokrasie binne sekere Europese lande met die gepaardgaande nadelige invloede van die Donker Eeue en die onderdrukking van wetenskaplike ontdekkings. In Suid-Afrika het ons die voorbeeld van regse Christene, insluitende Calviniste en Israelvisie-ondersteuners, wat van mekaar verskil betreffende hul idees oor watter wette toegepas behoort te word binne so ‘n toekomstige teokrasie. Hulle stem egter almal saam dat daar teen gays en alle ander godsdienste en gelowe gediskrimineer behoort te word!
Sommige Materialistiese Ateïste is voorstanders van “etiese” humanisme. Hiervolgens behoort die mensdom sekere basiese etiese waardes na te volg. Die probleem hiermee is dat die meeste mense beslis nog nie bereid is om sodanige etiese beginsels te aanvaar nie en dat daar miskien ‘n tipe oorgangsfase moet plaasvind waartydens die res van die “onetiese” bevolking opgevoed moet word deur ‘n elite wat hulleself as meer “eties” as die res beskou. Miskien was die aaklige kommunistiese eenpartydiktature van die ou Sowjetunie en Rooi-Sjina ook op ‘n manier goeie voorbeelde van humaniste wat hulleself die reg toegeëien het om die gepeupel “op te voed”?
Daar is baie mense wat ‘n Spirituele lewensbeskouing het soortgelyk aan myne, maar wat beslis nié met my sal saamstem betreffende my bogenoemde kritiek teen demokrasie nie. Hierdie is dus my persoonlike politieke idees wat nie noodwendig deur baie spiritueel-bewuste mense ondersteun word nie, maar wat tog nié teenstrydig is met my godsbeskouing en idees oor lewe na die dood nie. Godsdienstige Fundamentaliste het deur die jare al verskeie regeringsvorms ondersteun. Terwyl die meeste van hulle jare gelede nie-demokratiese regeringsvorms ondersteun het, ondersteun die meeste van hulle deesdae demokratiese regeringsvorms. Daar is sommige van hulle wat nié ondersteuners is van ‘n “liberale” vorm van demokrasie nie en wat beoog om die regte van bevolkings binne demokrasieë te beperk, soos o.a. verregse Christene wat ‘n teokratiese regeringsvorm ondersteun, Joodse fundamentaliste wat ‘n vorm van apartheid tussen Jode en Palestyne ondersteun en Moslem-fundamentaliste wat ‘n regeringsvorm ondersteun wat op hul Sharia-wette gebaseer is. Die meeste ateïste en agnostici is deesdae geneig om ‘n sekulêre regeringsvorm te ondersteun waarbinne daar ‘n duidelike onderskeid tussen Kerk en Staat is.
Uit my voorgaande argumente probeer ek dit duidelik stel dat ‘n goeie regeringsvorm of selfs ‘n goeie konstitusie of landswette, op die ou end minder belangrik is as ‘n gesonde spirituele lewensbeskouing en hoë morele waardes van die breë gemeenskap.
[1] http://mises.org/daily/3071
[2] http://oxforddictionaries.com/definition/egalitarian
[3] http://www.icr.org/article/are-all-men-created-equal
прокурор харьковской области