Proloog
Ek is gebore in millennium 1132, jaar 17, maand 2, dag 11; ons kalender gaan nie verder terug as ongeveer 11 miljoen jaar gelede nie. Ek veronderstel elke beskawing beskik oor sy jaar nul, sy ontstaansoomblik. Ons planeet is baie oud, amper so oud soos die sterrestelsel en ons son, die naaste ster waaromheen ons wentel. Hoe die wêreld gelyk het in die voortyd, voordat ons begin tel het, weet ek nie. Al wat ons het, is die fossiele, asook die voorstellings, die hipoteses en teorieë van wetenskaplikes.
Ek voel dat ek my verhaal móét vertel, vir diegene wat ná ons kom, vir my kinders en hulle kinders en hoe ver my nageslag ook al in die toekoms mag strek, wat seker nie te ver gaan wees nie. Want presies twee jaar voor my geboorte, het ‘n ongekende ramp Nemia getref. In die verafgeleë noordelike oerwoud het ‘n ruimteskip neergestort. Daar was ‘n groot ontploffing wat deur die seismograwe en die holograwe opgeteken is. Latere weergawes van die ruimteskip se noodlanding het dit aangetoon as ‘n min of meer ovaalvormige voorwerp wat die oppervlak van Nemia aanvanklik egalig genader het, maar toenemend onstabiel geraak en toe neergestort het. Enkele ure ná die neerstorting het ‘n groot ontploffing gevolg wat die wrakstukke oor ‘n wye oppervlak versprei het.
My vader Sarius, wat toe nog betreklik jonk was, was lid van die ondersoekspan wat na die ongeluksgebied uitgestuur is. Hy het dit onlangs aan my in groot besonderhede vertel en my jeugdige verbeelding het die res ingevul. Dit was amper asof ek self daar was. Of die hele ongeluk via intydse holografiese beelde, sekond vir sekond, gevolg het. In daardie oomblikke is die lot van ons beskawing en ons planeet verseël. Maar dit sou ons eers enkele jare later agterkom.
Die tuig was groot, groter as enigiets wat nog ooit op Nemia gebou is. Volgens my vader kon daar tot soveel as 7 000 Oertoeke aan boord gewees het. Agterna was daar bloot min of meer verkoolde lyke – karkasse is miskien ‘n meer gepaste woord, want ek beskou nie die Oertoeke as mense of hoër wesens nie – wat oor die ongeluksgebied verstrooi gelê het.
Toe die opperraad van hoëpriesters van die voorval te hore kom, het hulle onmiddellik die span wetenskaplikes en kundiges laat saamstel, wat per sweeftuig na die oerwoud versend is. Die werk was gevaarlik, want in die ongerepte oerwoud het allerlei gevaarlike reptiele en roofdiere geskuil wat die lede van die ondersoekspan kon bedreig. Ons Nemiane glo dat alle lewensvorme heilig is en daarom mag ons nie eens die diere wat ons aanval, doodmaak nie. Elke lid van die ondersoekspan is met ‘n laserskokpistool toegerus om die lastige attensies van roofdiere of reptiele die hoof te bied.
Volgens die scenario wat my vader-hulle agterna saamgestel het, het die ruimtetuig vol Oertoeke die bome se sambreeltakke eers begin breek soos ‘n groot bal wat daarop land en toe die grond teen ongeveer 30 meter per sekonde getref. Onmiddellik ná die slag was die meeste Oertoeke binne-in die tuig dalk beseer, maar nie dood nie. Daar was sitplekke met gordels aan wat hulle beskerm het, ook die kinders. Hul breë, plat, growwe gesigte moes tegelyk ontsteld en verdwaas na mekaar gekyk het. ‘n Geroesemoes van stemme in hul vreemde, frikatiewe taal, onderbreek deur daardie dierlike gromgeluide wat hulle ook maak, moes losgebars het.
Of die tuig se deure nog geredelik gewerk het vir die uitklimslag, weet ons nie. Mettertyd sou sekere Oertoeke egter hul weg na buite gevind het, al hoe verder van die gestrande ruimtetuig deur die ruie oerwoud begin dwaal het. Moontlik sou hulle van die meer intelligente en ondernemende tipe gewees het. Enkeles sou dalk deur ‘n skalmoen of ‘n basslang aangeval gewees het. Maar gegewe die Oertoek se inherente aggressie, sou hulle hulself met welslae teen sulke aanvalle verdedig het, moontlik selfs die doodgemaakte kat of reptiel op die plek verorber het, want ná die lang reis moes hulle honger gewees het.
Agterna het ons fisici en ander wetenskaplikes intens oor die aard van die ruimteskip se aandrywing gespekuleer. Die mees waarskynlike verklaring daarvoor, asook vir die ontploffing binne enkele ure ná die landing, was dat ‘n vorm van kernfusie die energie vir die tuig verskaf het. Hoewel my vader van beroep ‘n genetikus is, stel hy ook geweldig in chemie en fisika belang. Hy en sy kollegas meen dat ‘n vreemde, glasagtige element die ontwerpers van die skip in staat gestel het om groot hoeveelhede gas in ‘n enkele bal saam te pers, wat eers ‘n plasma sou vorm en daarna permanent sou begin brand. Presies hoe die energie van hierdie fusiereaktor gebruik is om die tuig aan te dryf, weet ons nie. Dit moes ‘n pragtige voorwerp gewees het, ‘n kristalbal wat vir alle praktiese doeleindes ‘n draagbare of vervoerbare klein sonnetjie was wat hulle op die lang reis vergesel het. Die moontlikhede wat so iets ingehou het, was legio, want met hul eie son aan boord kon hulle ook vars voedsel kweek. Met die hope energie kon hulle waterstof- en suurstofatome uit die ruimte onttrek en tot water sintetiseer.
Vanweë die botsing of ‘n fout van die bemanning – met hul klein breingrootte is die Oertoeke nie baie intelligent nie – het die reaktor egter binne enkele ure ontplof. Die oorblywende Oertoeke binne die skip is geheel en al vernietig. Op die landingsplek was slegs ‘n groot krater oor, maar kleiner wrakstukke van die skip is oor ‘n groot gebied in die oerwoud gevind. Oertoeke verder van die skip af is verkool en diegene wat reeds ver in hul verkenning van die oerwoud gevorder het, is bloot deur die lugdruk van die ontploffing gedood sodat hul bebloede karkasse of liggaamsdele in min of meer ongeskonde toestand op die grond of in die blou en groen mikke van boomstamme gevind is. Dit het die span van ongeveer honderd Nemiaanse wetenskaplikes en ondersoekbeamptes etlike dae geneem om die gebied vir getuienis te fynkam en vir enige oorlewendes te soek, maar geen is gevind nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.