Ons donker planeet, deel 2

Ons donker planeet, deel 1

Soos ek grootgeword het, het my vader my al hoe meer besonderhede omtrent die rare gebeurtenis vertel.

“Kaio, my seun,” het hy gewoonlik gesê. “Ons was binne enkele ure op die ongelukstoneel, met ons sweeftuie wat geluidloos oor die boomtakke skeer. Ons het die swart krater gesien waar die ontploffing plaasgevind het. Dit was steeds warm van al die energie. Van daar af het ons in spanne uitwaarts beweeg en oral na oorlewendes of liggame gesoek. Die grootste deel van die noordelike halfrond bestaan uit water en dele wat as ekologies sensitief beskou word, daarom ken ons dit net van kaarte en holografiese beelde. Dwarsdeur die woud was die dierelewe half verskrik en onrustig en het voortdurend voor ons uit gevlug. In die middag het dit begin reën, daardie deurdringende stortreën wat naby die ewenaar voorkom en ons moes eers skuiling soek en ons ondersoek onderbreek. Redelik laat in die nag het ons by kunsmatige lig voortgegaan toe die reën eers ophou.”

My vader, soos die meeste van ons Nemiane, is ‘n ernstige man wat byna nooit korswel of skerts nie. Ek kon hom glo, want op Nemia word die waarheid hoog geskat en dit is byna onbekend vir enigeen om leuens te vertel. Teoreties bestaan leuens, of onwaarhede, maar ons leer bloot daarvan in die wiskunde- en logikakursusse wat tuis deur ons moeders met behulp van die holografiese netwerk gedoseer word. Soos alle Nemiane, is my vader gewoonlik geklee in ‘n lang, vloeiende gewaad van ‘n wit of ligte pastelkleur wat sag om sy lyf vou. Aangesien dit in ons sektor byna heel jaar deur warm is, dra hy gewoonlik sandale aan sy voete, wat van ‘n sintetiese stof gemaak is. Ons woon in ‘n semiwoestyngebied met golwende heuwels, enkele kaktusse of bossies, maar feitlik geen bome nie. Ons huis is teen ‘n effense heuwel ver weg van ander huise gebou en bedags terwyl ek my huiswerk doen, kan ek deur die helder venster ver oor die droë heuwels tuur. Ons huis behoort reeds duisende jare aan ons familie en bestaan uit geometriese vorms wat uit klip, rots en graniet saamgestel is. Tydens ons gesprekke, baai die ligbronne wat iewers naby aan die dak rondsweef die gesig van my vader in sagte lig en laat sy grys hare blink. Ons Nemiane word met reguit grys hare gebore, wat deur mans en vroue lank gedra word, en sover ek weet was dit nog nooit anders nie.

Die nuus van die ruimteskip se neerstorting op Nemia het binne enkele ure ons hele planeet aan die gons gehad. Holografiese beelde is na elke huishouding versend en hoewel die meer grusame besonderhede van die breë publiek weerhou is, kon elkeen gou-gou ‘n indruk verkry van wat aan’t gebeur was. Wilde gerugte oor die besoek van wesens uit die buitenste ruim het die rondte begin doen, sodat lede van die opperraad van hoëpriesters in hul bedaarde, gewigtige stemme ‘n beroep op kalmte via die holografiese netwerk moes doen. Selfs die etnarg, ons planetêre leier wat onder direkte gesag van God staan, het op die netwerk verskyn en gesê dat die neerstorting van die ruimteskip die wil van God was en dat ons Nemiane daarom die gebeurtenis met respek en ontsag moes benader.

“Aanvanklik was ons baie gretig – maar ook half bang – om ‘n lewende Oertoek te vind. Maar hoe meer dooies ons teëgekom het, hoe meer het dié hoop of begeerte vervaag,” het my vader voortgegaan. “Ná ‘n paar dae was ons so uitgeput deur die soektog en die spanning dat ons geen hoop meer gehad het om ‘n lewende Oertoek te vind nie. Ook het ons nie eintlik meer omgegee nie. Meer as enigiemand was ek as genetikus egter so opgewonde soos ‘n klein seuntjie op sy verjaardag. Sover as wat ek gaan, het ek probeer om DNS-monsters van die vreemde wesens te versamel. Aanvanklik was ek teleurgestel vanweë die verkoolde liggame, maar soos wat ons verder van die episentrum van die ontploffing beweeg het, het ek al hoe beter monsters teëgekom. Ek onthou dat ek my instrumente kort-kort uit die houers gehaal het en nog DNS in ‘n medium vir bewaring geplaas het. Die noodpersoneel het een liggaam na die ander in verkoelde houers begin plaas om terug na die laboratoria in die suide te verskeep waar die fisioloë hulle sou ontleed. Op die ou einde was daar egter te veel oorledenes om almal terug te neem en ons het besluit om die res bloot in die oerwoud agter te laat sodat die natuur met hulle kon handel soos sy met alle dooies handel.”

Nemia is klein en yl bevolk. Trouens, in millennium 3 reeds het etnarg Piotron VII ná vergaderings van die opperraad van hoëpriesters aangekondig dat ons bevolking nie verder as vier miljoen moet groei nie. Van toe af word ons aanwas streng beheer en mag geen Nemiaan sonder toestemming ‘n vrou bevrug of mag geen vrou ‘n kind sonder magtiging in die wêreld bring nie. Sedertdien verkeer mens en dier en plant op Nemia in volmaakte ewewig en is daar genoeg oorlewingsruimte vir almal. Ons glo in orde. Die heelal is volmaak deur God geskep en dit is vir ons om die volmaakte orde daarvan te interpreteer en ons daarby aan te pas.

‘n Jaar1 het verbygegaan. Die genetici, fisioloë, neuroloë en ander wetenskaplikes het intussen elke aspek van die Oertoeke ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat hulle diere is. Hul breingrootte is slegs een kwart van Nemiane s’n en hul intelligensie skaars hoër as sommige primate wie se habitat in die noordelike oerwoude geleë is. Waar hulle aan die ruimtetuig gekom het, weet nugter, want self sou hulle nooit in staat gewees het om so iets uit te dink nie, wat nog te sê op ‘n lang ruimtereis van een deel van die sterrestelsel na ‘n ander te vertrek. En met watter doel? Toenemend het die koms van die Oertoeke bloot vrae na vore gebring. Niks het sin gemaak nie.

1. ‘n Jaar op Nemia is gelykstaande aan ongeveer 3 aardjare, aangesien dit die klein planeet so lank neem om om sy son te wentel.

Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae