Rose vir Yskassie

Ou Frik het haar self Yskassie genoem. Hulle was glo op skool al ge-“kys”, soos ons destyds verwys het na enige verhouding wat langer as twee soene gehou het. Hy was toe al in sy tweede jaar op Universiteit, maar hy was steeds smoorverlief op haar, al het sy hom op ‘n taamlike kille afstand gehou.

As ek na jare se lewenservaring so terugkyk dan wonder ek of die groot liefde ooit werklik wederkerig was. Dalk was sy later nie meer so geesdriftig oor die “kys” nie, dalk het sy al iemand anders ontmoet en dalk was dit net die afstand tussen die twee toe Frik universiteit toe is, maar ou Frik het beslis gevoel dat sake nie meer lekker is nie en dat sy al hoe meer afsydig, ja selfs koud, teenoor hom raak. Vandaar die ysige bynaam. Maar sover dit hom betref was sy steeds die nommer een meisie in sy lewe – eintlik die enigste een want hy het ondanks die vele mooi meisies op die kampus, nie met een van hulle “gesleep” nie.

Sleep – behoorlik in Afrikaans uitgespreek en hoegenaamd nie, nie eens naastenby met die konnotasie wat die Engelse woord met dieselfde spelling het nie – was wat jy en jou meisie saans na aandete ‘n hele halfuur lank oor die hele kampus gedoen het. Dit kom seker van die spreekwoordelike “vlerksleep” af, maar op die PUK het jy het haar as’t ware oor die een wandelpaadjie na die ander gesleep en kans vir veel meer as handjies hou tydens die wandeling was daar ook nie want daar was ‘n hele spul ander slepers en die kampus was ook nie só groot of dig begroeid dat daar veel geleentheid was vir iets anders nie.

Hoe min privaatheid daar met die slepery was, het goed geblyk uit die storie oor een van die voorste doppertokkelokke se waagmoed. Hy en sy meisie het vroeg by die dameskoshuis weggespring en stelling ingeneem op een van die enkele bankies wat daar so half verskuil tussen die bome was. Van haar vriendinne het gou die storie vertel dat hulle toevallig daar naby verby “gesleep” het toe hoor hulle so ‘n klapgeluidjie – tipies soos een hand wat op ‘n ander klap – en die bekende stem van die tokkelok se meisie kom deur die bome met ‘n onmiskenbare betigtiging: “Stoute handjie…!”.

Ek dink nie ou Frik het sulke dwalende hande gehad wat Yskassie afgesit het nie. Hy was te veel van ‘n ordentlike, opgevoede en opregte Afrikanerseun wat nie sulke kanse sou vat as daar nie eers ‘n behoorlik aanloop was nie! En beslis nie met hande wat sommer weer sou gedwaal het as daar die geringste betigtiging was nie. Maar dit was ander tye.

Frik en ek en ‘n paar ander manne het in ons tweede jaar nie plek in die beperkte koshuise van die PUK gekry nie en toe maar in ‘n “buitehuis” net oorkant die spoorlyn by privaat mense geloseer. Ons het lekker daar gebly vir die res van ons universiteitslewe want ons het elkeen sy eie kamertjie gehad en die kos was beter as in die koshuise waar selfs ‘n doppertokkelok een aand in die dankgebed ná ete mooi gevra het dat die kos volgende keer asseblief tog beter moet wees! En uiteraard het ons goeie vriende geword in ons eie klein gemeenskap binne die groter gemeenskap en het ons mekaar se persoonlike lewens geken en gedeel.

Dit was ook interessant dat nie een van ons met koshuismeisies gesleep het nie – behalwe dalk Snyman want hy het graag dikwels van “slepe” verander. In my geval was dit bloot omdat die koshuismeisies óf ouer óf langer as ek was. Ek was ‘n maer, kortgat 16-jarige toe ek op die PUK aangekom het. So jonk omdat ek in my vroeë skooljare sommer twee klasse in een jaar gespring het, nie oor ek sodanig slim was nie. Ek was blykbaar só skraal en petieterig, (maar darem al ‘n ervare roker) dat ou Wimpie, wat toe in sy finale jaar tokkelok en voorsitter van die Studenteraad was, kort na my aankoms as eerstejaar op my afgekom het waar ek op die gras gesit en rook het en toe ewe vir my vra: “Boetie, weet jou ma dat jy rook?” Ek moes maar nee antwoord want ma en pa het toe nog nie geweet nie.

Ek het my nie die “boetie”-woord aangetrek soos sommige ander mense nie. Baie jare later het die einste Wimpie vir ene Chris in ‘n koerantgebou se gang raakgeloop en hom ewe vriendelik gegroet met ‘n “Dag, Boetman”. Maar ou Chris wat maar altyd taamlik op sy eer en aansien gesteld was, was so ontstig – behoorlik die bliksem in – dat hy ‘n hele boek daaroor gaan staan en skryf het! As hy my gevra het sou ek hom kon vertel dat die “boetman”-woord maar net ‘n ou spreekwyse van Wimpie was teenoor iemand wat heelwat jonger as hy was.

Dit is egter nou maar ‘n feit van die jong lewe dat in die tienerstadium maak selfs net ‘n jaar eintlik groot verskil tussen seuns en meisies. Ek het dit met groot liefdesleed aan my eie bas gevoel. Wiesie en ek was van Graad 2 af tot in matriek klasmaats. Ek was ‘n skrale twee dae ouer as sy. So deur die jare was ons so aan en af gekys, maar toe op ‘n goeie dag – ek dink dit was in Graad 11 (of standerd nege soos ons dit geken het) – vind ek dat Wiesie nie meer in my belangstel nie behalwe as ‘n goeie ou vriend aan wie sy kon vertel van haar groot liefde vir ‘n ander een – ‘n jong man wat toe al gewerk het! Hy was duidelik darem so vol lewenswysheid en soveel meer ervare as ek, wat dikwels nog kortbroek gedra het! Binne ‘n enkele lang vakansie het sy my totaal ontgroei – fisies en emosioneel was sy skielik heelwat ouer as ek.

Selfs in ons tweede en derde jare het ons groepie in die buitehuis nie juis na die koshuismeisies gekyk vir “sleepkans” nie. Ou Roelf het glo ‘n meisie in dieVrystaat gehad en met sy ryk pa (wat selfs vir hom ‘n tikmasjien kon koop!) kon hy feitlik elke naweek gaan kuier. Mike was baie getrou aan sy meisie uit sy skooldae in Bloemfontein en is enkele dae nadat hy gehoor het dat hy sy finale eksamens geslaag het, met haar getroud. Ek self het vakansies met jonger meisies uit my skooldae gevry en so oral langs die spoorlyn van die Baai af ‘n meisie op sleeptou geneem op die plekke waar ek moes oorklim. Almal ‘n jaar of wat jonger, sommige eintlik nog aan die verkeerde kant van die magistraat se perk, maar op daardie ouerdom het dit ons nie gepla nie want ons “vryery” van daardie jare was maar bra mak.

En onse Frik het ook elke kans wat hy gekry het, met die trein afgesit Pretoria toe – en elke keer het hy met sy terugkoms meer bekaf gelyk as tevore. Die verhouding wou maar net nie blom nie – in Yskassie se kilheid kon niks blom nie.

Dit was taamlik vroeg in ons finale jaar dat Frik besluit het dat hy nog een keer gaan probeer om die ou liefde van die verlede weer in haar yskas van ‘n hart te laat ontvlam. Hy het plan gemaak om vroeg Saterdagoggend die trein Pretoria toe te vat en die saak nou finaal en klaar te gaan uitpraat. Reg of Weg!

Ons het natuurlik almal koppe bymekaar gesit en raad gegee oor wat hy moet sê en doen, maar ek dink dit was Snyman se idee dat Frik moes probeer om haar liefde weer te wen met ‘n yslike bos blomme. Dit moes Snyman gewees het want hy was blykbaar baie aantreklik vir die meisies en het nogal goed geweet hoe om hulle te hanteer – in meer as een sin van die woord!

Maar blomme kos geld en waar kry ‘n student daardie kommoditeit? Dan moet die blomme maar op een of ander manier gevind word. Dit was nog somertyd in die vroegjaar en iemand onthou toe van die yslike beddings vol rose in die ruim tuin van die ou Onderwyskollege, feitlik langsaan die Puk se kampus.

Daar was geen keer nie. Laatnag het ons in ‘n sterk ondersteunende gelid opgeruk en op die kollege se roostuin toegesak. Ons het nie wild en wakker gepluk en verniel nie en in elk geval was daar so baie pragtige rose in blom dat dit nouliks gemis sou word. Maar ons het ‘n groot bos rose – en ek bedoel yslik – bymekaar gemaak en gesorg dat ou Frik die vroegste trein daardie oggend haal. “Maak dit ‘n lekker lang naweek, ou Frik,” het ons raad gegee. “Kom eers Maandag terug want hierdie yslike bos rose moet selfs die kilste meisiehart verwarm en verbly.”

Darem wonderlik hoe ‘n meisie kan val vir iets soos ‘n blommetjie of twee, weet Snyman te vertel, maar ewe ordentlik het hy maar verder gewyg oor wat gebeur as sy eers goed geval het! Net sowel hy het nie te veel oor die wonderbaarlike uitwerking van blomme op die vrou se gemoed uitgewei nie want vroeg, sommer bra vroeg Sondagmiddag is Frik terug. Verslae en verslaan!

Nee, die blomme was nie pap en verwelk nie, het Frik verduidelik. Nog mooi gehou danksy die feit dat ons dit laatnag gepluk het. En Yskassie was oorstelp van vreugde oor die groot bos rose. Hom selfs ‘n yslike klapsoen gegee voor al die huis se mense. Maar dis waar dit gebly het. Hulle het Saterdagmiddag lank en innig gesels. Ou Frik het vertel dat hy eintlik al die praatwerk gedoen het. Maar laatmiddag het sy hom mooi laat verstaan dat die “kys” uit was en dat daar nooit iets van sou kan kom nie. Sy het nie laat blyk of daar iemand anders in haar lewe was nie en daaroor het ek haar eintlik verkwalik want ou Frik het al die indruk gelaat dat hy vermoed dat hy te lelik of te onordentlik is vir enige meisie om ooit lief te kry. Dit is beter om in sulke sensitiewe situasies maar selfs te maak of daar iemand anders in jou lewe gekom het want dan voel die een wat afgesê word nie dat hy of sy te kort skiet nie. Dit is jy wat ontrou was en dus al die skuld dra. Laat julle jonges maar hierdie gratis stukkie raad van ‘n ou kalant … ek bedoel ou oom aanvaar.

Dit was egter nie by ou Frik dat die fout gelê het nie. Hierdie storie se gelukkige einde bewys dit.

Die buitehuis het aan die begin van die jaar van eienaars verwissel toe die Burgers daar oorgeneem het sodat hulle oudste dogter haar universiteitsloopbaan kon begin. Mooi meisie, was sy. Ek het ‘n slag of wat probeer aanlê, maar Daleen het goed geweet van die jong dingetjie heel aan die anderkant van die dorp vir wie ek gereeld gaan kuier het. En toe, sommer so skielik op ‘n goeie dag, kom ons agter dat sy en ou Frik se ogies blink skitter as hulle bymekaar is en dat hulle sommer dikwels bymekaar is. Die einde van die jaar het ek, wonder bo wonder, my laaste vakke geslaag en ek is daar weg. ‘n Jaar of wat later gehoor dat die tweetjies getroud is, maar, soos dit ook dikwels in die lewe gaan, het ek hulle nooit weer gesien of van hulle gehoor nie want ons beroepslewe het ons ver uitmekaar geneem. Maar ek wil glo dat hulle ‘n goeie lewe saam gehad het want hulle het mekaar verdien.

Ek vertel hierdie storie omdat daar twee lesse uit Frik se liefdeservarings te leer is. Die een is dat die liefde net werklik kan blom as dit van beide kante kom. Dit is nou een ding in die lewe wat nie eensydig kan wees nie. Die ander is dat blomme nie werklik help nie. Jy kan net dankie sê met blomme soos by ‘n herdenking. Jy kan nooit iets daarmee”koop” nie. Veral nie by iemand wat ‘n hart soos ‘n yskas het nie.

Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae