Om ‘n flater met nog ‘n flater te probeer toesmeer

Afriforum het pas ‘n peiling op die UV se kampus gedoen oor die universiteitsowerhede se besluit om God uit die leuse weg te laat. Sowat 93 % van die studente, wit en swart, wat aan die peiling deelgeneem het, het aangedui dat hulle teen die besluit gekant is.

Dit plaas ‘n vraagteken oor die UV-bestuur se aansprake dat wyd oor die besluit gekonsulteer is, ook met die studente. Presies hoe met die studente gekonsulteer is, is nie duidelik nie omdat Kovsies oor dié kwessie die kaarte styf teen die bors speel. Studentepolitiek op partypolitieke grondslag op die kampus is verbied, en daar is geen behoorlike verteenwoordigende studenteliggaam nie.

Ongeveer al wat bekend is, is dat dit deel van die transformasieproses uitmaak. Hoe by daardie sommetjie uitgekom word, is ook nie bekend nie. Ongelukkig is dit ook nie die eerste keer dat die UV-owerhede aanspraak maak dat ‘n besluit na oorleg met die studente geneem is, maar selfs studenteleiers aandui dat hulle nie van enige raadpleging bewus was nie.

Met eier in die gesig reageer die UV-bestuur nou deur onder meer met hofstappe te dreig, en aan te voer dat Afriforum se optrede rassespanning op die kampus kan laat ontbrand. Gegewe die uitslag van die peiling is dit ook ‘n bisarre gevolgtrekking.

Boonop het baie studente gister, toe die referendum volgens berigte by die UV se hekke sou plaasvind, opgeruk om te gaan stem. Deur dié misverstand het talle wat moeite gedoen het om teen die UV-besluit te stem, onverrigtersake teruggekeer.

Die regte manier sou wees om nie vooraf te besluit hoe watter rassegroep standpunt oor sake sal inneem nie. Bykans die helfte van die deelnemers aan Afriforum se peiling was swart, en met die hoë persentasie wat teen die weglating van God uit die leuse gestem het, beteken dit verreweg die meeste swart deelnemers is teen die weglating gekant. In hierdie geval sou ‘n referendum – en Afriforum het gewys hoe maklik so iets aangepak kan word – die vrae laat opklaar het. Dan weet almal waar hulle staan.

Sou die meerderheid vir die behoud stem, dan het die UV-bestuur ‘n kort skande as hulle dit as skande wil beskou. Deur die kwessie in die transformasie-doofpot te wil druk, is ‘n lang ongelukkigheid die voorland.

Kovsies se bestuur weet nou wat die pad is om geloofwaardigheid en respek te herwin. Los die dreigpraatjies, en toets op ‘n aanvaarbare manier die menings van studente en dosente.

Moenie van die universiteit se afdeling strategiese kommunikasie ‘n propaganda-liggaam maak nie, want as dit eers geloofwaardigheid verloor het, gaan die UV sukkel om sy beeld te herstel.

Dan het die debat oor die beginselkwessie van die weglating van God uit die leuse nog nie eens begin nie. Om die weglatingbesluit uit die leuse aan transformasie te koppel is bisar, in die lig daarvan dat die eerste deel van die post-1994 SA se volkslied ‘n gebed is, en dit weer deel van die grondwet is. Is die behoud hiervan dan nie ook logies ‘n struikelblok vir transformasie nie.

Die ironie is dat transformasie, anders as groepe se godsdiensregte, nie in die grondwet voorkom nie.

‘n Opvoedkundige instelling wat in effek deelneem aan die vertrapping van die grondbeginsels wat die grondwet onderlê, moet hard gaan dink.

оборудования для шиномонтажапрокурор Фильчаков

Wat van ‘n leuenverklikkertoets?

SARS het onlangs ‘n televisie-advertensieveldtog gehad wat wys hoe mense met ‘n leuenverklikker getoets word, en al die vrae eerlik antwoord, totdat hulle gevra word of hulle eerlik was op hulle belastingopgawes. Van die vrae wat gevra was, is onder andere of jy al ooit bedrog gepleeg het, of oneerlik was. Maar natuurlik, as die vraag oor die belastingopgawe gevra word, word almal uitgevang.

Die advertensieveldtog is natuurlik gerig op die belastingbetaler, maar wat van die mense of instansies wat die geld moet spandeer, tot voordeel van die belastingbetalers – die ANC regering?

Praag moet ‘n uitdaging aan SARS rig, dat al die ministers, MEC’s van provinsies, hulle DG’s en aankope-afdelings in die openbaar aan sulke leuenverklikker toetse onderwerp word. Wat gaan die uitslae wees?

бра настенные плоскиеДанильченко Юрий отзывы

Met liefde, uit die Karoo

Soos baie ander Blikore is die Ore die vakansie ook bietjie Kaap toe – Onrus toe – om langs die groot dam te gaan voetjies hang. Die voete, het dit geblyk, was nodig om anker in die sand te slaan want die wind het woes gewaai – dit reën mos in die binneland.

Mev. Oor het ook vir Beaufort-Wes ‘n paar kanne water ingelaai, sodat die kroos op die agtersitplek skaars plek gehad het om asem te haal. Net na die water afgelaai is, keer die man met die wit handskoen my voor. Ek is op die plek die blikoorskater in, en ek is lus en draai om en loop gooi daai kanne water uit, of piepie daarin. Nou sal dit ook nie meer help om van boosheid in die water te gaan piepie nie, want hulle suiwer dit weer.

Maar dit blyk die man met die wit handskoene gaan net die kar en my rybewys na.

Na die terugkeer kom die berigte en gerugte van mense wat so vreeslik in die Karoo gevang is, mense wat beweer hulle het g’n te vinnig gery nie, en selfs mense wat sê daai dag was hulle glad nie in die omgewing nie. Vir weke word die posbus dopgehou – en toe op ‘n dag, toe is die liefdesbrief uit die Karoo daar.

Nie van Beaufort-Wes nie, maar van Ubuntu by Richmond. Die Blikke het met die gaan en terugkom juis nie Richmond om gery nie, en met die terugkom boonop Orania om gery. Maar Ubuntu is groot, en die Blikke is by Drie Susters gevang – teen 117 op ‘n 100 kilometer-sone. Die bedraggie om Richmond kop bo water te laat hou, is dus nie vreeslik groot nie.

As daar egter iemand is wat ek regtig hoop vasgetrek is, is dit ‘n man in ‘n luukse motor. Van voor Laingsburg af is hy kort-kort teen ‘n vreeslike hoë spoed by die Blikke se Kaspaas verby, net om ‘n ent verder langs die pad te staan. Die derde (en laaste keer) dat hy verby is, is hy teen ‘n blinde hoogte en op ‘n sperstreep by Kaspaas verby. By Prins Albertweg het die Blikke hom by die polisie verkla. Nie oor die vinnig ry nie, maar oor die laag vlieg.

Uiteindelik, met die Heer se genade, is ons almal veilig tuis. En ons hou duime vas daar kom nie nog sulke verrassings uit die Karoo nie.

светодиодные лампы дляДанильченко Юрий Брониславович

Stabiliteit deur realiteit in Libanon

Terwyl staatkundige rustigheid op die oog af na Libanon terugkeer, is daar steeds ‘n donker terreurwolk wat oor die land hang.

Die rede vir hierdie donker wolk is dat die nuwe regering deur Hisbollah gesteun word. Die VSA en sy bondgenote beskou Hisbollah as terreurorganisasie, en sanksies geld teen die organisasie en sy ondersteuners.

Die feite op die grond spreek egter ‘n ietwat ander storie. Selfs na die VSA $720 miljoen sedert 2006 aan militêre hulp aan Libanon gegee het om die regering sterk en pro-Westers te probeer hou, is Hisbollah steeds die sterkste militêre mag in die land.

Toe Hisbollah parlementêr die pro-Westerse regering tot ‘n val gebring het, is vermoed dat dié organisasie nie self sou belangstel om die bewind oor te neem nie. Dit sou immers die fyn balans tussen Christen, Soenie en Sjiïet versteur. Hisbollah, radikaal Sjiïties het uiteindelik ook nie regeringsopsies uitgeoefen nie, en ‘n neutrale Soenie-sakeman as Premier laat toetree. Hierdeur is die balans behou waar die premier tradisioneel ‘n Soenie is, die speaker ‘n Sjiïet en die president ‘n Maroniete – Christen. Elkeen verteenwoordig ongeveer ‘n derde van die bevolking.

Hisbollah se optrede is egter ver van gerusstellend. Met die verwikkelinge het Hisbollah se leier in ‘n TV-onderhoud gesê dat, terwyl die Libanese bevolking, Christen, Soenie en Sjiïet saans rustig slaap, gaan sy organisasie voort met militêre opleiding, met die implikasie dat ‘n veldtog teen Israel beplan word.

Voorts is daar veel meer groeperings in Libanon as dit wat deur hoë ampte by die eenheidsregering betrek word. Die Christenbevolking bestaan uit talle groeperings waarvan nie almal etniese Libanese is nie, terwyl die Moslem-bevolking ook heelwat meer fraksies bevat, en boonop ‘n groot Palestynse bevolking in diaspora huisves.

Hisbollah se noue bande met Iran en ander terreurorganisies is ook nie bemoedigend nie. Moontlik kan die Libanese bevolking nou rustig slaap, maar solank Hisbollah by sy doelwitte bly, is daar min slaap vir die bure.

детски иглобановский класс харьков

Transformasie versus die grondwet

Die twee universiteite in die Vrystaat, die Vrystaatse Universiteit en die Sentrale Universiteit vir Tegnologie – die ou Technikon) is vroeg vanjaar in die nuus oor aspekte wat verband hou met die opstel van transformasie teenoor die grondwet en sy bepalings.

Eers het die UV aan die beurt gekom met ‘n besluit wat skynbaar nie behoorlik gekommunikeer is nie, naamlik om God uit die universiteit se leuse weg te laat.

Kort hierna blyk dit dat derdejaar landboustudente aan die SUT ontdek het dat hulle hul studies nou in Engels moet voltooi. Van die studente beweer hulle het maar ‘n week of wat gelede van dié toedrag van sake verneem, terwyl die SUT beweer studente is jare lank al hierop voorberei. Volgens ‘n hoofartikel in vandag se Volksblad mag studente ook nie eens hul vraestelle in Afrikaans beantwoord nie. Verskeie het glo by die aanbreek van hul derde studiejaar hul studies opgeskort omdat hulle voel hulle is nie goed genoeg toegerus om hul studies in Engels te probeer voltooi nie. Een het byvoorbeeld disleksie wat dit vir hom moeilik genoeg gemaak het.

Maar wat sê die grondwet? In Artikel 6 van die grondwet, wat deel van die hoofstuk oor die grondslae van die grondwet is, word dit duidelik gestel dat die staat stappe sal neem om die inheemse tale te bevorder. In artikel 5 word Afrikaans, ook ‘n inheemse taal, as een van die land se amptelike tale gelys.

Artikel 7 gee aan provinsies die reg om as’t ware die elf tale as groslys te gebruik om amptelike tale vir die provinsie te lys. Afrikaans is ook een van die amptelike provinsiale tale.

In Kovsies se geval is so ver gegaan om transformasie – ‘n woord wat nie in die grondwet voorkom nie – as rede te gebruik om die besluit om God uit die leuse te verwyder.

Transformasie kom omheilspellend dikwels in die weg van die grondwet en grondwetlike beginsels. Formeel streef die grondwet nie-rassigheid na en verbied diskriminasie onder meer op grond van ras. In die praktyk is ras allesbepalend. Boonop is arbeidswetsontwerpe nou in die proses wat, as dit goedgekeur word, provinsiale raskwotas sal afskaf, en die indiensneembaarheid van bruin mense in die Wes- en Noord-Kaap sal benadeel, en Indiërs in KwaZulu-Natal. Voortaan – as dit so deurgevoer word – sal werkgewers nasionale kwotas moet handhaaf.

Dit behoef geen profeet om te besef dit gaan die druk op Afrikaans verder verhoog nie. Nog meer personeel, ook doserende personeel – sal ingevolge transformasiedoelwitte aangestel moet word wat nie Afrikaans magtig is nie, of wil wees nie.

Die impak op die Afrikaanse media sal ook ingrypend wees. In dié stadium oorkom Afrikaanse koerante die probleem deur baie bruin Afrikaanssprekendes aan te stel, ook in provinsies met klein bruin bevolkings. Swart kwotas word gewoonlik in die administratiewe en bemarkingsafdelings geakkommodeer. Die nuwe voorgestelde wetgewing gaan dit vir koerante nog moeiliker maak om genoeg mense aan te stel wat Afrikaans voldoende magtig is om hoë gehalte Afrikaans aan lesers op te dis.

Wanneer hierdie transformasie agter die skerms plaasvind, en die publiek wat geraak word eers in ‘n baie laat stadium daarvan bewus word, is dit dikwels te laat om deur onderhandelings stappe te neem. En hofsake kos baie geld.

Die Vrystaat was eens ‘n model-republiek. Nou is it die provinsie wat die swakste met verslae van die Ouditeur-generaal gevaar het. Dis die provinsie wat die meeste in die nuus is oor Eskom wat dreig om dorpe se kragtoevoer weens wanbetaling af te sny. Met so ‘n beeld en dit wat die UV en SUT nou uitstraal, is dit ook geen wonder dat borge kopsku raak om die rugbyspan te borg nie.

керамические брекеты с прозрачной дугойФильчаков прокурор харьков

Sport en politiek

Die Proteas se oorwinning oor die besoekende Indiese krieketspan in die eendagreeks gister, word bederf deur die regering se hernude inmenging in die binnewerking van die sportsoort.

Die meeste internasionale sportliggame, waaronder Fifa, die IOK en die Internasionale Rugbyraad verbied rassisme en politieke inmenging in sport.

Dit is ‘n reël wat al gesorg het dat verskeie lande soos Griekeland, Kenia en Iran al uit Fifa geskors is, en ander op terme geplaas is. Bykans sonder uitsondering het die regerings dan kopgegee.

Wanneer dit egter by Suid-Afrika kom, geld daar skynbaar ‘n ongeskrewe reël dat dié land ‘n uitsondering mag wees – rassisme in die vorm van kwotas geld breed, en die regering meng openlik in.

In die jongste voorval het die pikante situasie ontstaan dat die minister van sport, Fikile Mbalula, die Protea-kaptein gemaan het om nie sy neus by politiek in te steek nie. Smith het naamlik sy steun aan Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Gerald Majola, toegesê. Majola is haaks met die grootbaas van Suid-Afrikaanse krieket, dr. Mtutuzeli Nyoka.

In bykans enige ander land sou Nyoka sy goedjies gevat en geloop het na die nasionle krieketliggaam ‘n mosie van wantroue in hom gestel het. Dit word egter nou op 12 Februarie bespreek, en intussen meng die regering in die saak in.

Stilswye deur die Internasionale Krieketraad hieroor is kommerwekkend. Suid-Afrika het juis nou te kampe met ‘n regering wat skynbaar nie die grense tussen regerende party en die owerheid ken nie, waarvan sy kader-ontploooiingsbeleid maar een negatiewe uitvloeisel is.

Dit het voorts blykbaar ook nie veel van ‘n begrip oor die skeiding van owerheidsmagte, naamlik wetgewend, uitvoerend en regspraak nie.

Die kwotas wat op die privaat sektor afgedwing word, dui ook daarop dat die owerheid ‘n eina-begrip het oor waar owerheidsinmenging geregverdig is. Niemand sal byvoorbeeld meen die owerheid tree buite perke op as dit ‘n kerk tot orde roep as dit mense wat saamwoon begin teregstel nie.

In die geval van krieket lyk dit boonop of die regering inmeng ter wille daarvan om die bas van ‘n ontplooide kader te red.

Die minste wat die internasionale liggaam kan doen is om die regering te vermaan. Om die regering maar sonder uitsondering straffeloos daarmee te laat wegkom, beteken dat Suid-Afrika se vordering tot ‘n moderne staat in die wiele gery word.

millstreamлобановский александр интервью

Emigrasie: Moet ek bly of moet ek gaan?

My doel is nie om aan andere raad te gee oor die wenslikheid van emigrasie nie. Dit is ‘n diep persoonlike saak waaroor elke persoon vir homself moet besluit. Ek is egter ‘n paar keer gevra om ons familie se ervaringe met emigrasie hier op Praag te deel, en dit is al wat ek hieronder doen.

Sowat 15 jaar gelede het ek en my vrou besluit om te verkas Amerika toe. Ons kinders was nog op skool, maar ek was reeds in my vroeë vyftigs en dit was besig om te laat te word vir so ‘n groot aanpassing.

Ek was bevoorreg om in my vroeër jare vele lande te besoek. Lande wat ek besoek het sluit in Kanada, Australië, groot dele van Europa, Israel en plekke in die Ooste, soos Singapoer, Sjina, Taiwan en Hong Kong.  Amerika het ek ‘n hele paar keer besoek, en vir my vrou gesê as dit ooit tyd word om te verkas, gaan ons Amerika toe. Daar was ‘n hele paar redes vir hierdie keuse: ‘n Hoë lewensstandaard; daar is ‘n redelike groot aanvraag na tegniese mense en ek is ‘n elektroniese ingenieur van beroep; van al die nasies waarmee ek in aanraking gekom het, het ek die meeste van die Amerikaners gehou. Hulle is vriendelike mense, gewoond aan immigrante en met enkele uitsonderings na, laat  hulle jou nie voel soos ‘n “uitlander” in hulle land nie.

Toe ek begin rondkyk het vir werk in Amerika, was die Internet nog in sy kinderskoene. Maar daar was Compuserve, ‘n alternatiewe netwerk wat dwarsoor Amerika gestrek het, tot in Suid-Afrika. Maar Compuserve was duur. Ek kon net bekostig om elke dag ‘n enkele paar minute daarop te spandeer. Ek het werk begin soek op Compuserve en afgekom op ‘n prokureur in Maryland, wat iemand gesoek het wat vir ‘n kliënt ‘n databasis kon opstel en programmeer. Dis werk binne my vermoë en ek het aan hom voorgestel dat ek die werk sal kom doen, as hulle vir my ‘n visum reël om na Amerika toe te kom en daar te werk. So gesê, so gedaan. Ek moes eers ‘n oorhoofse plan opstel om te wys hoe my databasis sal werk. Hulle wou verseker dat ek wel die taak verstaan en kan voltooi. My plan is aanvaar en kort daarna was ek in besit van ‘n visum om in Amerika te woon en werk, saam met my onmiddelike familie.

Ons het ons kosbaarste besittingtjies in ‘n houer laat plaas en die res verkoop, insluitend ons huis. Die moeilikste vir my was die dag toe ek my vyf vuurwapens moes verkoop. Dis net te moeilik om ‘n permit te kry om dit in Amerika in te bring, en vuurwapens is hier vryelik beskikbaar en goedkoop. Maar ‘n Boer en sy roer word maar moeilik geskei. Die afskeidneem van ons familie was bitter swaar. Ek onthou nog hoe my arme vrou gehuil het, toe sy finaal van haar ma moes afskeid neem. Haar pa was reeds oorlede.

Die aand toe ons op Jan Smuts op die vliegtuig klim, het ek vir my vrou gesê dat ons die Suid-Afrika wat ons ken, nooit weer sal sien nie, want al keer ons eendag terug, sal die Suid-Afrika waarvoor ons lief is, weg wees. Min het ek geweet hoe waar die woorde was!

My nuwe werkgewer het iemand gestuur om ons op die lughawe te ontmoet en hulle het ons tydelik in ‘n klein huisie geplaas, tot ons ons voete kon vind. Alles was so vreemd! Die Amerikaners ry aan die verkeerde kant van die pad. Die winkels was so groot en die verskeidenheid items op die rakke was byna oorweldigend. Ons was in Washington DC en die strate se uitleg was anders as ons gewoond was. Die padtekens was vreemd. Afstande word gemeet in myle, voete en duime. Wat beteken dit as ‘n bord langs die pad vir jou sê dat die baan waarin jy is, in 2,000 voet doodloop? Ek het skoon bewerasie gekry die eerste paar keer wat ek moes bestuur. Aanvanklik het ek ‘n kar gehuur, maar binne ‘n paar weke, toe ek my voete beter in die verkeer gevind het, het ek ‘n nuwe Camry gekoop wat ek vandag nog ry. Ons het ook vir my vrou ‘n klein, tweedehandse Ford gekoop, sodat sy by die winkels kon kom om kos te koop. Sy het verbasend vinnig reggekom in die strate. Gelukkig is motors hier goedkoper as in Suid-Afrika.

Na ongeveer 8 maande, was my werk aan die databasis afgehandel, en moes ek rondkyk vir ander werk. Ek het tydelik werk gekry in North Carolina by IBM, waar ek honderde rekenaars saamgestel en aanmekaargeskroef het op hulle produksielyn. Die betaling was maar swak, dit was harde werk en boonop het ek nagskof gewerk. Mens is die hele tyd op jou voete en dis nie ‘n grap as jy reeds oor 50 is nie. My rug was so seer as ek in die vroeë oggendure by die huis kom, dat ek beswaarlik uit my kar kon kom. Die hele tyd wat ek vir IBM gewerk het, het ek meer geskikte werk vir ‘n ingenieur gesoek in die koerante. Ek het dosyne aansoeke gepos, maar nooit ‘n enkele reaksie gekry nie. ‘n Vriend by die werk het aanbeveel dat ek na die kantore van die “Employment Security Commission” moes gaan, want hulle help mense werk kry wat basies sonder werk sit. So gesê, so gedaan. Toe tref die geluk my. Die klerk by die ESC sê vir my ek mors my tyd met koerantadvertensies. Ingenieurs kry werk op die Internet. Ek moet na die “America’s Job Bank” se webwerf gaan. Die Internet was nog redelik vreemd vir my. Ek kon epos stuur, maar dit was omtrent al. Op daardie werf kry ek toe skielik skakels na ‘n halfdosyn ander werwe toe, waar honderde poste vir mense met my kwalifikasies geadverteer word. Vinnig het ek my aansoek oorgesit in elektroniese formaat, sodat ek dit direk kon pos op daardie webwerwe wat voorsiening daarvoor gemaak het, en as epos kon stuur waar daar net ‘n epos adres was. Waar ek voorheen miskien ‘n dosyn aansoeke per week met moeite per pos kon stuur, kon ek nou twintig per dag uitstuur. Binne twee weke is ek genooi na twee onderhoude toe: Een by Intel in Arizona, en een by ‘n firma wat braaiers vir MacDonalds vervaardig het, in Louisiana. My aansoek by Intel was nie suksesvol nie, maar binne ‘n week was daar ‘n werksaanbod vanuit Louisiana. Om ‘n lang storie kort te maak, ons het Louisiana toe getrek, waar ek vir omtrent 8 maande mikrorekenaar-gebaseerde beheerders vir braaiers ontwerp het. Die salaris was egter baie laag en ek het geweet ek kon beter doen. Ek het werk teen beter besoldiging gekry in Maryland by ‘n firma wat broeikaste vir pasgebore babas vervaardig. Ek was ‘n paar jaar by hulle, waar ek mikrorekenaars vir die broeikaste ontwerp en geprogrammeer het. My aftrede het egter op die horison verskyn, en ons wou graag in Florida aftree waar die weer baie meer geskik vir “ou” mense is. Ek het werk gekry in Florida waar ek 8 jaar lank mikrorekenaars vir industriële toerusting ontwerp en geprogrammeer het. Verlede jaar aan die einde van Mei het ek afgetree en woon nou baie rustig in Florida.

Deesdae hou ek myself besig om ‘n webwerf uit te lê wat die algemene agteruitgang in Suid-Afrika, veral sover dit die Afrikaner betref, aan die wêreld gaan toon. Die werk is nog ver van klaar, maar dit vorder.

Intussen het ons kinders al drie grade in die VSA verwerf. Ons oudste seun het ‘n doktorsgraad in Fisika van MIT verwerf en die twee meisies het elk ‘n BA graad in Grafiese Kuns. Al drie is goed ingeburger in Amerika en baie gelukkig hier. Hulle spreek gereeld hulle waardering uit omdat ek hulle uit die Nuwe SA gekry het.

Aan mense wat dit ernstig oorweeg om te emigreer uit SA, wil ek graag die volgende sê:

  1. Of jy suksesvol gaan wees, hang tot ‘n groot mate af van hoe aanpasbaar jy is. Bly in SA as jy nie by ‘n vreemde kultuur kan aanpas nie. Onthou, die mense in jou nuwe land het jou nie genooi nie. Jy het gevra om by hulle aan te sluit. Jy kan nie verwag dat hulle moet verander om by jou aan te pas nie. Jy moet by hulle aanpas. In meeste Westerse lande is godsdiens byvoorbeeld glad nie so belangrik as wat dit vir baie Afrikaners is nie. Vriende van ons in Pretoria het met groot fanfare hulle huis verkoop, hulle goed opgepak en Australië toe verhuis. Ses maande later was hulle terug, sonder hulle huis en sonder meeste van hulle geld, omdat die Australiërs so “goddeloos” was dat hulle nie op Sondagaande kerkdienste gehad het nie. As jy so onaanpasbaar is, bly in SA. Emigrasie is nie vir jou nie.
  2. Moenie die mag van heimwee onderskat nie. Jy gaan verlang na jou familie en jou land. Met tyd stomp die heimweë egter af en raak dit meer draaglik. Die Internet het ook die wêreld klein gemaak. Daar is nie net epos nie, maar dinge soos Skype. My vrou se suster woon in Australië. Haar broer is nog in SA. Hulle sit elke week ure lank en gesels op Skype, met volle beeld, rondom die wêreld!
  3. Jou familie en kennisse gaan op verskillende maniere op jou emigrasie reageer. Sommige wens jou alles van die beste toe, en ander beskou jou as volksverraaier. Ek ken ‘n jong man hier in Amerika wie se ouma nie meer met hom praat nie, omdat hy sy volk verraai het deur te emigreer.
  4. Jy gaan heel waarskynlik swaar leef aan die begin. Jy begin basies van voor af. Jy gaan dalk aanvanklik net werk kry in laer posisies waar die betaling maar swak is. Met volharding sal jy mettertyd jouself bewys en dinge behoort geleidelik beter te gaan. Moet net nie met sterre in jou oë op die vliegtuig klim en dink jy is op pad Utopia toe nie. Jy kan dalk wreed ontnugter word!
  5. Doen navorsing voor jy finaal besluit. Kry brosjures van die lande waarin jy belangstel se ambassades af. Brosjures wat handel oor immigrasie in hulle lande en hulle toelatingsvereistes. Daar behoort ook heelwat op hulle webwerwe te wees.
  6. Dit help as jy ‘n tegniese kwalifikasie het wat in aanvraag in die betrokke land is. Baie lande soek byvoorbeeld ingenieurs, elektrisiëns, motorwerktuigkundiges, verpleegsters, ens. Snaaks genoeg stel Australië glad nie belang in mediese dokters nie. Dit was in elk geval waar 15 jaar terug. Ek weet nie wat die situasie vandag is nie.
  7. Dinge is maar moeilik op die oomblik hier in Amerika met die resessie. Werk is skaars, maar die resessie gaan ook een of ander tyd tot ‘n einde kom.
  8. Wanneer jy eendag ingesweer word as burger van jou nuwe land, gaan daar van jou verwag word om alle getrouheid aan jou land van herkoms af te sweer. Is jy bereid om dit te doen? Vir my was dit maklik, want ek het getrouheid afgesweer aan die “Nuwe” Suid-Afrika. Ek sou baie harder hieroor moes dink dertig jaar vroeër.
  9. Dit beteken NIE dat jy getrouheid aan jou kultuur moet afsweer nie. Ek is nog steeds ‘n Afrikaner en sal dit bly tot my dood. Daar sal altyd ‘n holte in my hart wees vir die Afrikaner. 

 Ek beskou ons emigrasie as ‘n sukses, alhoewel dit nie sonder probleme verloop het nie.Veral die eerste jaar of twee was swaar. Maar ons is nou gelukkig hier, burgers van Amerika en trots daarop! Afrikaners in ons hart en trots daarop! Ons praat nog steeds Afrikaans in die huis. Een van my kosbaarste besittings is die ou Afrikaanse digbundel wat my ma in haar matriekjaar in die negentien dertigs gebruik het. Die omslae is lankal weg, maar ek lees nog gereeld die ou digters, soos Totius, Eugene Marais en D.F. Malherbe. Al wat weg is uit die inhoud van die boek, is die ou gedig van A.E. Schlengeman, “Die Namibwoestyn.” Ek kan die gedig nêrens op die Internet opspoor nie.

Ons is ontslae van die perverse vrees vir geweld deur jou medemens. Amerika het plekke waar dit onveilig is om te gaan, maar hierdie plekke is by verre in die minderheid en ek het nog nooit die nodigheid gevoel om ‘n vuurwapen te koop nie. Ons vergeet baie aande om ons deure te sluit. Jy hoef nie rond te kyk vir kar-kapers elke keer as jy by ‘n stopstraat stop nie. Hollywood se flieks en TV programme is nie ‘n ware weërspieling van toestande in Amerika nie.

Is emigrasie die oplossing vir jou? Dit hang van jou af en niemand anders nie! Met Afrikanerliefde uit Amerika; oor en uit.

насосного оборудованияалександр лобановский харьков

Studente-onrus in Nederland

Volgens aansprake gaan die grootste studente-betoging sedert 1988 vandag in Nederland plaasvind wanneer sowat 10 000 studente in Den Haag betoog.

Volgens die studente betoog hulle teen besuinigingsplanne deur die owerheid. Onder die kwessies wat krap is dat studente wat langer as twee jaar neem om hul studies te voltooi as die voorgeskrewe tydperk, 3 000 Euro’s moet opdok.

Soos dit met studentepolitiek gaan, staan die politieke partye nie ver van die toneel om te kyk watter munt uit die geleentheid geslaan kan word nie. Die studente het twee en ‘n half uur toestemming by die polisie vir die betoging gekry, en daarom kry net die PvdA van die D66 geleentheid om toesprake te hou. Die ander partye wat deelneem kry geleentheid om aan ‘n debat deel te neem waarvan die D66 en PvdA uitgesluit is.

In geheel neem partye van bykans oor die hele spektrum dus deel, maar die suur sop loop uit omdat die taamlike linkse Sosialisteparty nie gediend is met ‘n deelnamegeleentheid aan die debat nie, maar ook ‘n toespraak wil hou.

Die SP meen hy is die mond gesnoer, iets wat deur die studenteleiers ontken word.

Die interessante is dat hier geen sprake meer is dat linkse partye bykans vrypas kry om die studente te beïnvloed, terwyl behoudende partye soos melaatses op ‘n afstand gehou word nie. Onder die partye wat aan die debat deelneem, is die ChristenUnie, weliswaar kleiner as die CDA wat in die kabinet verteenwoordig is, maar wie se grondslae bykans net so uit die Nederlandse Geloofsbelydenis kom. Ook Geert Wilders se VVD en GroenLinks neem aan die debat deel.

‘n Woordvoerder van Den Haag se burgemeester, polisiehoof en hoof van Justisie het egter ‘n waarskuwing gerig dat radikale beplan om met die studente te meng, en konfrontasie af te dwing.

Vandag se studentebetoging staan ook nie heeltemal in isolasie nie. Maandag het studente in Amsterdam die Dienste- en Inligtingsentrum van die Universiteit van Amsterdam beset. Hierdeur het hulle die reg probeer afdwing om ook vandag te mag betoog.

Bykans alle universiteite en Hoër opvoedkundige instellings in Nederland het hul studente afgegee om aan vandag se verrigtinge te kan deelneem.

одежда для девочек школьная формаДанильченко Юрий Харьков

Openbare verantwoordelikheid

Staatsdepartemente op nasionale en provinsiale vlak gaan voortaan vir die eerste keer in 17 jaar elke drie maande geëvalueer word, aldus die Ouditeur-generaal nadat daar min vordering was om die jaarlikse siklus van verdoemende oudits die hoof te bied.

Ministers, LUR’e en premiers word op die vingers getik. Die OG stel dit duidelik dat hy nie van die politieke hoofde verwag om self die werk te doen nie, maar dat hulle genoegsaam verantwoordelikheid neem om toe te sien dat sake wel reggeruk word.

Dit vereis egter steeds ‘n mate van kundigheid van politieke ampsbekleërs om toe te sien dat sake reggeruk word, al is dit net om toe te sien dat die regte mense as departmentshoofde aangestel word, wat op hul beurt weer die regte vakkundiges kan aanstel. Die regering se verklaarde, en onlangs herbevestigde beleid van kaderontplooiing staan egter vierkantig in die pad hiervan. Die gevolg is dat basiese rekeningkundige dissipline personeelbestuur in 71% van alle staatsdepartemente op provinsiale en nasionale vlak ontbreek en ondoeltreffende ouditprosedures word vererger weens dié gebrekkige personeelbestuur. Nasionale Pers berig vanoggend dat minagting van wetgewing soos die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) en die oortreding van tesourie-regulasies en tenderprosedures op alle vlakke gebeur. Dié kwessies word jaarliks beklemtoon en dringende aandag word vereis om die gety te draai.

Die media berig gereeld oor voorbeelde van ontplooiing en herontplooiing wat die hare laat regop staan. Die leier van die minister van samewerkende regering se taakspan vir herontplooiing op munisipale vlak staan self agter die deur nadat hy eers by Bronkhorstspruit en toe Plettenbergbaai onder meer windaf van die OG beland het.

‘n Munisipale bestuurder wie se eie munisipaliteit onder administrasie was, is tydens hierdie ingryping as provinsiale LUR vir plaaslike regering aangestel. Sedertdien is Eskom voortdurende in dreigaksies om munisipaliteite in die betrokke provinsie se kragtoevoer weens wanbetalings af te sny betrokke.

‘n Persoon wat in senior hoedanighede verskeie verdoemende verslae van die OG en een van die Openbare Beskermer op die lyf geloop het, is in dieselfde provinsie ‘n LUR, en is die de facto vise-premier.

Hoewel daar plek-plek verbeterings was, is die kern van die saak dat onreëlmatige uitgawes by nasionale staatsdepartemente in een jaar van R1,3 miljard tot R3,9 miljard toegeneem het. Op provinsiale vlak is sewe van die departemente wat beter gevaar het, in die Wes-Kaap.

чэловэк пауклобановский александр игоревич харьков

Die besoek van Tsipi Livni

Die Valke is tans besig om te oorweeg of hulle Tzipi Livni, die huidige leier van die opposisie, en voormalige Minister van Buitelandse sake van Israel, gaan arresteer wanneer sy hier aanland op haar besoek na SA later vanjaar. Sy besoek SA op uitnoding van die Joodse Raad van Afgevaardiges. Die Valke meen sy was een van die “hoofargitekte” wat aandadig was aan die moord op Palestynse inwoners tydens die Gaza-oorlog in 2008-2009. Dit word ondersoek op die aandrang van die Palestinian Solidarity Alliance, die Media Review Network en die Lawyers for Human Rights.

Me Livni sou in volgende week aangekom het maar haar toer hierheen is uitgestel tot later omdat daar tans ‘n staking in Israel deur die staatsdiensunie heers, wat talle oorsese verpligtinge van ‘n aantal Israelse politici aan bande lê.

‘n Mens kan net jou hande saamslaan wanneer jy van hierdie stommiteite van die swart regering hoor. Hulle het absoluut niks met Israel uit te waai nie. Hulle kan nie eens vullisverwydering in ons stede en dorpe suksesvol reël nie, maar begeef hulle op ‘n terrein waarvan hulle bitter min weet.

As jy ‘n swart of Arabierse staatshoof is wat direk by moorde betrokke was, kom arrestasie nie eens ter sprake nie. Ons sogenaamde owerheid met sy amptenare staan hand om die blaas met die grootste Westerse vyande. Dink byvoorbeeld aan Ghadafi, Mugabe en Aristide, om net ‘n paar te noem. Mugabe het ‘n “demokratiese” verkiesing verloor, maar hy is nog steeds aan bewind. Die eintlike wenner is geheel en al “ontman”. Mugabe se hande is rooi van die bloed van die mense in Zimbabwe. Mugabe word egter soos ‘n held ontvang en geëer in Suid-Afrika.

Die feit dat die lafaards van die Islamitiese Hamas vir eers Israel met vuurpyle bestook het voordat Israel teen hulle opgetree het, is glad nie ter sake nie. Dit nadat hulle die Palestyne genoegsame waarskuwing gegee het om dit te staak. Hierdie lafaards het hulle egter tussen, onder andere, skole, hospitale en Moskees ingegrawe en daarvandaan vuurpyle op Israel gelanseer.

Sodra hulle teruggeslaan is deur die Jode, het hulle met groot vertoon met die wêreldmedia se hulp, simpatie gesoek. En natuurlik het hulle dit ook gekry van die liberales en humaniste. Dit was altyd interessant om te kyk hoe hulle die gewondes al skreeuende uit die ambulanse gedra het met die beseerdes se koppe en ledemate al swaaiende en stampende. Ek is oortuig daarvan dat hulle daardeur meer skade aan die gewondes veroorsaak het as die beserings wat die Israelse weermag kon aanrig.

Maar ophou vuurpyle afvuur? Nooit! Solank as wat die media hierdie beelde die wêreld instuur sal hulle aanhou om die Jode uit te daag en te tart. Onthou, die Moslems wil nie net deel van Israel word nie. Hulle baklei vir die totale uitwissing van die land Israel. Dan word Israel daarvan beskuldig dat hy ongelyke mag of “disproposionele” mag gebruik het om teen Hamas op te tree.

Enige person wat enigiets van oorlogvoering af weet, sal weet dat die regte manier om oorlog te maak, is om die vyand geheel en al in die kortste tyd met die minste verliese aan eie magte, te verslaan, indien nie te vernietig nie. Jy nooi nie jou vyand uit om te kom skaak speel teen jou nie! Daar word nou verwag dat die Jode stil moet sit terwyl hulle aangeval word. Hoe absurd. Die Israelse bevolking is ‘n trotse volk en het reeds ‘n geskiedenis van verdrukking. Hulle sal hulle nie weer laat boelie nie.

Hierdie houding van die swartes in SA is besonder dwaas. Die Moslemlande is sekerlik die van lande met die swakste geskiedenis van menseregte.

Die ANC-regering is daarbenewens deurspek met Moslems, ateïste, kommuniste, liberaliste, humaniste en voorvaderaanbidders. ‘n Mens wonder wat hulle oogmerk is om tot so ‘n stap oor te gaan. Wat beoog hulle? Wil hulle haar verhoor en dan hier in ‘n tronk gooi, of wil hulle haar voor die Wêreldhof bring?

Suid Afrika het reeds sy naam krater gemaak in die Dewani-saak en nou weer in die nuutste Winnie Mandela-saak. Dalk moet iemand die owerhede herinner wat destyds in Entebbe gebeur het! Die person/instansie/land wat hulle skuldig maak aan die vernietiging van Israel, maak ‘n baie groot fout!

As Christen gelowige wat glo dat die Bybel die geïnspireerde woord van God is, is hierdie vir my geweldige interessante tye. Die profesiëe van die ou profete in die Ou Testament het eeue gelede hierdie dinge oor Israel geprofeteer oor verskillende tydperke. Hulle is almal besig om een na die ander tot vervulling te kom. Trouens die meeste is al! Ek weet dat hierdie aanvalle teen die waarheid en teen Israel moet gebeur. God het self gesê dat Hy Sy volk sal red. Dan sal Hy vir die wêreld wys wie Hy is. Ek wag geduldig. Dit kom hopelik nog in my leeftyd. Maar dit kom. Dit staan so geskrywe!

Wanneer die Islamitiese ekstremiste eendag hulle eie kinders meer liefhet as wat hulle die Jode haat sal hierdie struwelinge dalk staak. Maar dit sal nie. Hierdie haat vir die Jode is ‘n allesverterende haat.

кариес молочных зубовФильчаков Александр Васильевич