praag.co.za

Emigrasie: Moet ek bly of moet ek gaan?

Written by

in

My doel is nie om aan andere raad te gee oor die wenslikheid van emigrasie nie. Dit is ‘n diep persoonlike saak waaroor elke persoon vir homself moet besluit. Ek is egter ‘n paar keer gevra om ons familie se ervaringe met emigrasie hier op Praag te deel, en dit is al wat ek hieronder doen.

Sowat 15 jaar gelede het ek en my vrou besluit om te verkas Amerika toe. Ons kinders was nog op skool, maar ek was reeds in my vroeë vyftigs en dit was besig om te laat te word vir so ‘n groot aanpassing.

Ek was bevoorreg om in my vroeër jare vele lande te besoek. Lande wat ek besoek het sluit in Kanada, Australië, groot dele van Europa, Israel en plekke in die Ooste, soos Singapoer, Sjina, Taiwan en Hong Kong.  Amerika het ek ‘n hele paar keer besoek, en vir my vrou gesê as dit ooit tyd word om te verkas, gaan ons Amerika toe. Daar was ‘n hele paar redes vir hierdie keuse: ‘n Hoë lewensstandaard; daar is ‘n redelike groot aanvraag na tegniese mense en ek is ‘n elektroniese ingenieur van beroep; van al die nasies waarmee ek in aanraking gekom het, het ek die meeste van die Amerikaners gehou. Hulle is vriendelike mense, gewoond aan immigrante en met enkele uitsonderings na, laat  hulle jou nie voel soos ‘n “uitlander” in hulle land nie.

Toe ek begin rondkyk het vir werk in Amerika, was die Internet nog in sy kinderskoene. Maar daar was Compuserve, ‘n alternatiewe netwerk wat dwarsoor Amerika gestrek het, tot in Suid-Afrika. Maar Compuserve was duur. Ek kon net bekostig om elke dag ‘n enkele paar minute daarop te spandeer. Ek het werk begin soek op Compuserve en afgekom op ‘n prokureur in Maryland, wat iemand gesoek het wat vir ‘n kliënt ‘n databasis kon opstel en programmeer. Dis werk binne my vermoë en ek het aan hom voorgestel dat ek die werk sal kom doen, as hulle vir my ‘n visum reël om na Amerika toe te kom en daar te werk. So gesê, so gedaan. Ek moes eers ‘n oorhoofse plan opstel om te wys hoe my databasis sal werk. Hulle wou verseker dat ek wel die taak verstaan en kan voltooi. My plan is aanvaar en kort daarna was ek in besit van ‘n visum om in Amerika te woon en werk, saam met my onmiddelike familie.

Ons het ons kosbaarste besittingtjies in ‘n houer laat plaas en die res verkoop, insluitend ons huis. Die moeilikste vir my was die dag toe ek my vyf vuurwapens moes verkoop. Dis net te moeilik om ‘n permit te kry om dit in Amerika in te bring, en vuurwapens is hier vryelik beskikbaar en goedkoop. Maar ‘n Boer en sy roer word maar moeilik geskei. Die afskeidneem van ons familie was bitter swaar. Ek onthou nog hoe my arme vrou gehuil het, toe sy finaal van haar ma moes afskeid neem. Haar pa was reeds oorlede.

Die aand toe ons op Jan Smuts op die vliegtuig klim, het ek vir my vrou gesê dat ons die Suid-Afrika wat ons ken, nooit weer sal sien nie, want al keer ons eendag terug, sal die Suid-Afrika waarvoor ons lief is, weg wees. Min het ek geweet hoe waar die woorde was!

My nuwe werkgewer het iemand gestuur om ons op die lughawe te ontmoet en hulle het ons tydelik in ‘n klein huisie geplaas, tot ons ons voete kon vind. Alles was so vreemd! Die Amerikaners ry aan die verkeerde kant van die pad. Die winkels was so groot en die verskeidenheid items op die rakke was byna oorweldigend. Ons was in Washington DC en die strate se uitleg was anders as ons gewoond was. Die padtekens was vreemd. Afstande word gemeet in myle, voete en duime. Wat beteken dit as ‘n bord langs die pad vir jou sê dat die baan waarin jy is, in 2,000 voet doodloop? Ek het skoon bewerasie gekry die eerste paar keer wat ek moes bestuur. Aanvanklik het ek ‘n kar gehuur, maar binne ‘n paar weke, toe ek my voete beter in die verkeer gevind het, het ek ‘n nuwe Camry gekoop wat ek vandag nog ry. Ons het ook vir my vrou ‘n klein, tweedehandse Ford gekoop, sodat sy by die winkels kon kom om kos te koop. Sy het verbasend vinnig reggekom in die strate. Gelukkig is motors hier goedkoper as in Suid-Afrika.

Na ongeveer 8 maande, was my werk aan die databasis afgehandel, en moes ek rondkyk vir ander werk. Ek het tydelik werk gekry in North Carolina by IBM, waar ek honderde rekenaars saamgestel en aanmekaargeskroef het op hulle produksielyn. Die betaling was maar swak, dit was harde werk en boonop het ek nagskof gewerk. Mens is die hele tyd op jou voete en dis nie ‘n grap as jy reeds oor 50 is nie. My rug was so seer as ek in die vroeë oggendure by die huis kom, dat ek beswaarlik uit my kar kon kom. Die hele tyd wat ek vir IBM gewerk het, het ek meer geskikte werk vir ‘n ingenieur gesoek in die koerante. Ek het dosyne aansoeke gepos, maar nooit ‘n enkele reaksie gekry nie. ‘n Vriend by die werk het aanbeveel dat ek na die kantore van die “Employment Security Commission” moes gaan, want hulle help mense werk kry wat basies sonder werk sit. So gesê, so gedaan. Toe tref die geluk my. Die klerk by die ESC sê vir my ek mors my tyd met koerantadvertensies. Ingenieurs kry werk op die Internet. Ek moet na die “America’s Job Bank” se webwerf gaan. Die Internet was nog redelik vreemd vir my. Ek kon epos stuur, maar dit was omtrent al. Op daardie werf kry ek toe skielik skakels na ‘n halfdosyn ander werwe toe, waar honderde poste vir mense met my kwalifikasies geadverteer word. Vinnig het ek my aansoek oorgesit in elektroniese formaat, sodat ek dit direk kon pos op daardie webwerwe wat voorsiening daarvoor gemaak het, en as epos kon stuur waar daar net ‘n epos adres was. Waar ek voorheen miskien ‘n dosyn aansoeke per week met moeite per pos kon stuur, kon ek nou twintig per dag uitstuur. Binne twee weke is ek genooi na twee onderhoude toe: Een by Intel in Arizona, en een by ‘n firma wat braaiers vir MacDonalds vervaardig het, in Louisiana. My aansoek by Intel was nie suksesvol nie, maar binne ‘n week was daar ‘n werksaanbod vanuit Louisiana. Om ‘n lang storie kort te maak, ons het Louisiana toe getrek, waar ek vir omtrent 8 maande mikrorekenaar-gebaseerde beheerders vir braaiers ontwerp het. Die salaris was egter baie laag en ek het geweet ek kon beter doen. Ek het werk teen beter besoldiging gekry in Maryland by ‘n firma wat broeikaste vir pasgebore babas vervaardig. Ek was ‘n paar jaar by hulle, waar ek mikrorekenaars vir die broeikaste ontwerp en geprogrammeer het. My aftrede het egter op die horison verskyn, en ons wou graag in Florida aftree waar die weer baie meer geskik vir “ou” mense is. Ek het werk gekry in Florida waar ek 8 jaar lank mikrorekenaars vir industriële toerusting ontwerp en geprogrammeer het. Verlede jaar aan die einde van Mei het ek afgetree en woon nou baie rustig in Florida.

Deesdae hou ek myself besig om ‘n webwerf uit te lê wat die algemene agteruitgang in Suid-Afrika, veral sover dit die Afrikaner betref, aan die wêreld gaan toon. Die werk is nog ver van klaar, maar dit vorder.

Intussen het ons kinders al drie grade in die VSA verwerf. Ons oudste seun het ‘n doktorsgraad in Fisika van MIT verwerf en die twee meisies het elk ‘n BA graad in Grafiese Kuns. Al drie is goed ingeburger in Amerika en baie gelukkig hier. Hulle spreek gereeld hulle waardering uit omdat ek hulle uit die Nuwe SA gekry het.

Aan mense wat dit ernstig oorweeg om te emigreer uit SA, wil ek graag die volgende sê:

  1. Of jy suksesvol gaan wees, hang tot ‘n groot mate af van hoe aanpasbaar jy is. Bly in SA as jy nie by ‘n vreemde kultuur kan aanpas nie. Onthou, die mense in jou nuwe land het jou nie genooi nie. Jy het gevra om by hulle aan te sluit. Jy kan nie verwag dat hulle moet verander om by jou aan te pas nie. Jy moet by hulle aanpas. In meeste Westerse lande is godsdiens byvoorbeeld glad nie so belangrik as wat dit vir baie Afrikaners is nie. Vriende van ons in Pretoria het met groot fanfare hulle huis verkoop, hulle goed opgepak en Australië toe verhuis. Ses maande later was hulle terug, sonder hulle huis en sonder meeste van hulle geld, omdat die Australiërs so “goddeloos” was dat hulle nie op Sondagaande kerkdienste gehad het nie. As jy so onaanpasbaar is, bly in SA. Emigrasie is nie vir jou nie.
  2. Moenie die mag van heimwee onderskat nie. Jy gaan verlang na jou familie en jou land. Met tyd stomp die heimweë egter af en raak dit meer draaglik. Die Internet het ook die wêreld klein gemaak. Daar is nie net epos nie, maar dinge soos Skype. My vrou se suster woon in Australië. Haar broer is nog in SA. Hulle sit elke week ure lank en gesels op Skype, met volle beeld, rondom die wêreld!
  3. Jou familie en kennisse gaan op verskillende maniere op jou emigrasie reageer. Sommige wens jou alles van die beste toe, en ander beskou jou as volksverraaier. Ek ken ‘n jong man hier in Amerika wie se ouma nie meer met hom praat nie, omdat hy sy volk verraai het deur te emigreer.
  4. Jy gaan heel waarskynlik swaar leef aan die begin. Jy begin basies van voor af. Jy gaan dalk aanvanklik net werk kry in laer posisies waar die betaling maar swak is. Met volharding sal jy mettertyd jouself bewys en dinge behoort geleidelik beter te gaan. Moet net nie met sterre in jou oë op die vliegtuig klim en dink jy is op pad Utopia toe nie. Jy kan dalk wreed ontnugter word!
  5. Doen navorsing voor jy finaal besluit. Kry brosjures van die lande waarin jy belangstel se ambassades af. Brosjures wat handel oor immigrasie in hulle lande en hulle toelatingsvereistes. Daar behoort ook heelwat op hulle webwerwe te wees.
  6. Dit help as jy ‘n tegniese kwalifikasie het wat in aanvraag in die betrokke land is. Baie lande soek byvoorbeeld ingenieurs, elektrisiëns, motorwerktuigkundiges, verpleegsters, ens. Snaaks genoeg stel Australië glad nie belang in mediese dokters nie. Dit was in elk geval waar 15 jaar terug. Ek weet nie wat die situasie vandag is nie.
  7. Dinge is maar moeilik op die oomblik hier in Amerika met die resessie. Werk is skaars, maar die resessie gaan ook een of ander tyd tot ‘n einde kom.
  8. Wanneer jy eendag ingesweer word as burger van jou nuwe land, gaan daar van jou verwag word om alle getrouheid aan jou land van herkoms af te sweer. Is jy bereid om dit te doen? Vir my was dit maklik, want ek het getrouheid afgesweer aan die “Nuwe” Suid-Afrika. Ek sou baie harder hieroor moes dink dertig jaar vroeër.
  9. Dit beteken NIE dat jy getrouheid aan jou kultuur moet afsweer nie. Ek is nog steeds ‘n Afrikaner en sal dit bly tot my dood. Daar sal altyd ‘n holte in my hart wees vir die Afrikaner. 

 Ek beskou ons emigrasie as ‘n sukses, alhoewel dit nie sonder probleme verloop het nie.Veral die eerste jaar of twee was swaar. Maar ons is nou gelukkig hier, burgers van Amerika en trots daarop! Afrikaners in ons hart en trots daarop! Ons praat nog steeds Afrikaans in die huis. Een van my kosbaarste besittings is die ou Afrikaanse digbundel wat my ma in haar matriekjaar in die negentien dertigs gebruik het. Die omslae is lankal weg, maar ek lees nog gereeld die ou digters, soos Totius, Eugene Marais en D.F. Malherbe. Al wat weg is uit die inhoud van die boek, is die ou gedig van A.E. Schlengeman, “Die Namibwoestyn.” Ek kan die gedig nêrens op die Internet opspoor nie.

Ons is ontslae van die perverse vrees vir geweld deur jou medemens. Amerika het plekke waar dit onveilig is om te gaan, maar hierdie plekke is by verre in die minderheid en ek het nog nooit die nodigheid gevoel om ‘n vuurwapen te koop nie. Ons vergeet baie aande om ons deure te sluit. Jy hoef nie rond te kyk vir kar-kapers elke keer as jy by ‘n stopstraat stop nie. Hollywood se flieks en TV programme is nie ‘n ware weërspieling van toestande in Amerika nie.

Is emigrasie die oplossing vir jou? Dit hang van jou af en niemand anders nie! Met Afrikanerliefde uit Amerika; oor en uit.

насосного оборудованияалександр лобановский харьков

Comments

Leave a Reply