Sport en politiek

Die Proteas se oorwinning oor die besoekende Indiese krieketspan in die eendagreeks gister, word bederf deur die regering se hernude inmenging in die binnewerking van die sportsoort.

Die meeste internasionale sportliggame, waaronder Fifa, die IOK en die Internasionale Rugbyraad verbied rassisme en politieke inmenging in sport.

Dit is ‘n reël wat al gesorg het dat verskeie lande soos Griekeland, Kenia en Iran al uit Fifa geskors is, en ander op terme geplaas is. Bykans sonder uitsondering het die regerings dan kopgegee.

Wanneer dit egter by Suid-Afrika kom, geld daar skynbaar ‘n ongeskrewe reël dat dié land ‘n uitsondering mag wees – rassisme in die vorm van kwotas geld breed, en die regering meng openlik in.

In die jongste voorval het die pikante situasie ontstaan dat die minister van sport, Fikile Mbalula, die Protea-kaptein gemaan het om nie sy neus by politiek in te steek nie. Smith het naamlik sy steun aan Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Gerald Majola, toegesê. Majola is haaks met die grootbaas van Suid-Afrikaanse krieket, dr. Mtutuzeli Nyoka.

In bykans enige ander land sou Nyoka sy goedjies gevat en geloop het na die nasionle krieketliggaam ‘n mosie van wantroue in hom gestel het. Dit word egter nou op 12 Februarie bespreek, en intussen meng die regering in die saak in.

Stilswye deur die Internasionale Krieketraad hieroor is kommerwekkend. Suid-Afrika het juis nou te kampe met ‘n regering wat skynbaar nie die grense tussen regerende party en die owerheid ken nie, waarvan sy kader-ontploooiingsbeleid maar een negatiewe uitvloeisel is.

Dit het voorts blykbaar ook nie veel van ‘n begrip oor die skeiding van owerheidsmagte, naamlik wetgewend, uitvoerend en regspraak nie.

Die kwotas wat op die privaat sektor afgedwing word, dui ook daarop dat die owerheid ‘n eina-begrip het oor waar owerheidsinmenging geregverdig is. Niemand sal byvoorbeeld meen die owerheid tree buite perke op as dit ‘n kerk tot orde roep as dit mense wat saamwoon begin teregstel nie.

In die geval van krieket lyk dit boonop of die regering inmeng ter wille daarvan om die bas van ‘n ontplooide kader te red.

Die minste wat die internasionale liggaam kan doen is om die regering te vermaan. Om die regering maar sonder uitsondering straffeloos daarmee te laat wegkom, beteken dat Suid-Afrika se vordering tot ‘n moderne staat in die wiele gery word.

millstreamлобановский александр интервью

Maak 'n opvolg-bydrae