‘n Safarikamp sowat 30 km wes van Harare het Sondag heropen nadat dit sedert Vrydag deur meer as 200 Zanu-PF-ondersteuners afgesper is, het die kamp se eienaar, Gary Stafford, gesê.
Die Kuimba Shiri-kamp, met sewe wooneenhede, is ‘n gewilde wegbreekplek vir plaaslike en buitelandse besoekers, asook diplomate en personeel van die Verenigde Nasies.
Stafford het gesê die leiers van die ondersteuners het ‘n lys van die oord se besittings opgeskryf en dat daar “geen geweld of stropery” was nie. Hulle het aan hom gesê hulle doen ‘n voorraadopname en evaluering van eiendomme, ter ondersteuning van Mugabe se beleid dat 51 persent van sakeondernemings deur swartes besit moet word.
Een paartjie wat op besoek aan die oord was, was ‘n dag lank vasgekeer en die kamp “kon geen besoekers ontvang het nie”.
Bootklubs en ‘n karavaanpark is ook deur ondersteuners, waarvan sommige met knopkieries gewapen was en slagspreuke van Mugabe se party geskree het, besoek.
