Eers het die UV aan die beurt gekom met ‘n besluit wat skynbaar nie behoorlik gekommunikeer is nie, naamlik om God uit die universiteit se leuse weg te laat.
Kort hierna blyk dit dat derdejaar landboustudente aan die SUT ontdek het dat hulle hul studies nou in Engels moet voltooi. Van die studente beweer hulle het maar ‘n week of wat gelede van dié toedrag van sake verneem, terwyl die SUT beweer studente is jare lank al hierop voorberei. Volgens ‘n hoofartikel in vandag se Volksblad mag studente ook nie eens hul vraestelle in Afrikaans beantwoord nie. Verskeie het glo by die aanbreek van hul derde studiejaar hul studies opgeskort omdat hulle voel hulle is nie goed genoeg toegerus om hul studies in Engels te probeer voltooi nie. Een het byvoorbeeld disleksie wat dit vir hom moeilik genoeg gemaak het.
Maar wat sê die grondwet? In Artikel 6 van die grondwet, wat deel van die hoofstuk oor die grondslae van die grondwet is, word dit duidelik gestel dat die staat stappe sal neem om die inheemse tale te bevorder. In artikel 5 word Afrikaans, ook ‘n inheemse taal, as een van die land se amptelike tale gelys.
Artikel 7 gee aan provinsies die reg om as’t ware die elf tale as groslys te gebruik om amptelike tale vir die provinsie te lys. Afrikaans is ook een van die amptelike provinsiale tale.
In Kovsies se geval is so ver gegaan om transformasie – ‘n woord wat nie in die grondwet voorkom nie – as rede te gebruik om die besluit om God uit die leuse te verwyder.
Transformasie kom omheilspellend dikwels in die weg van die grondwet en grondwetlike beginsels. Formeel streef die grondwet nie-rassigheid na en verbied diskriminasie onder meer op grond van ras. In die praktyk is ras allesbepalend. Boonop is arbeidswetsontwerpe nou in die proses wat, as dit goedgekeur word, provinsiale raskwotas sal afskaf, en die indiensneembaarheid van bruin mense in die Wes- en Noord-Kaap sal benadeel, en Indiërs in KwaZulu-Natal. Voortaan – as dit so deurgevoer word – sal werkgewers nasionale kwotas moet handhaaf.
Dit behoef geen profeet om te besef dit gaan die druk op Afrikaans verder verhoog nie. Nog meer personeel, ook doserende personeel – sal ingevolge transformasiedoelwitte aangestel moet word wat nie Afrikaans magtig is nie, of wil wees nie.
Die impak op die Afrikaanse media sal ook ingrypend wees. In dié stadium oorkom Afrikaanse koerante die probleem deur baie bruin Afrikaanssprekendes aan te stel, ook in provinsies met klein bruin bevolkings. Swart kwotas word gewoonlik in die administratiewe en bemarkingsafdelings geakkommodeer. Die nuwe voorgestelde wetgewing gaan dit vir koerante nog moeiliker maak om genoeg mense aan te stel wat Afrikaans voldoende magtig is om hoë gehalte Afrikaans aan lesers op te dis.
Wanneer hierdie transformasie agter die skerms plaasvind, en die publiek wat geraak word eers in ‘n baie laat stadium daarvan bewus word, is dit dikwels te laat om deur onderhandelings stappe te neem. En hofsake kos baie geld.
Die Vrystaat was eens ‘n model-republiek. Nou is it die provinsie wat die swakste met verslae van die Ouditeur-generaal gevaar het. Dis die provinsie wat die meeste in die nuus is oor Eskom wat dreig om dorpe se kragtoevoer weens wanbetaling af te sny. Met so ‘n beeld en dit wat die UV en SUT nou uitstraal, is dit ook geen wonder dat borge kopsku raak om die rugbyspan te borg nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.