As ek terugdink aan my sosiologie-jare aan RAU, en ek bedoel nou die tyd toe daardie instelling nog Westerse standaarde gehandhaaf het, het ons in groepsverband Marx se kritiek op kapitalisme en die voordeel van kommunisme beoordeel. Een van die vernaamste punte wat gemaak is, is dat daardie sisteem teoreties goed is, maar in die praktyk skipbreuk gelei het weens sommige aspekte wat onuitvoerbaar was. Marx se benadering was te vereenvoudig om die ganse kompleksiteit van menslike handelinge saam te vat.Wie verder ondersoek instel na Marx se bedoelings, kry egter ‘n ander beeld te sien. Soos Ronald Reagan op ‘n stadium gesê het is ‘n kommunis iemand wat Karl Marx lees, en ‘n antikommunis iemand wat Marx verstaan.
Een van die skadeliker uitlatings van Marx was dat geloof die opium van die massa is; ‘n stelling wat oorspronklik ontleen was aan die Sionistiese denker Moses Hess. Die veronderstelling is dat geloof die gepeupel salig onbewus in hul verdrukte, vernederde posisie hou en dus deel uitmaak van die verdrukte karakter van die aanhangers. Daarbenewens is Marx se model van die struktuur van die samelewing, wat bestaan uit die onderbou, oftewel die werkersklas (proletariaat) en die bobou, oftewel die welgesteldes (bourgeoisie) ‘n model wat wanbalans impliseer. Hierdie wanbalans kan slegs deur middel van omverwerping en rewolusie uit die weg geruim word. En miljoene mense het kritiekloos hierdie model aangeneem.
Die verraderlike aspek van hierdie benadering is dat Marx se model geen heil behels nie, maar juis meer wanhoop in die verskiet het. Deur geloof te veroordeel as ‘n pilletjie vir die pyn het hy mense aangespoor om hul geloof af te sweer. Die resultaat is dat mense hul morele beginsels verloën het, tesame met hul hang na diepgewortelde gevoel vir regverdigheid en ordelike samesyn. Deur mense van hul moraal te beroof, word hulle ook van hul karakter ontneem. Hul identiteit en gevoel van sin in die lewe is saam met geloof oorboord gegooi. Gevolglik gaan hierdie mense nie meer leef ter wille van oordrag en verryking van hul kultuur aan die nageslag nie, maar ‘n grimmige hedonisme vul die vakuum waar geloof moes gewees het. Hierdie mense begin slegs te leef vir die hier-en-nou en hul fundamentele waardes vervlak tot tydelike, verbygaande tendense.
‘n Afwesigheid van karakter, beginsels of geloof lei noodgedwonge tot ‘n staat van nihilisme, en dit is hier waar die werklike opium van die massa sy intrede neem. As daar geen hoër moraal is om jou karakter aan te meet nie, vervaag die verhouding tussen lewe en dood, tydelik en ewig, en plig en plesier. Die lewe beteken niks nie, en die dood daarom ook nie. Die dood word goedgepraat en die lewe word as ‘n ongewenstheid beskou. Al hierdie gedagtegange het op een of ander stadium onder kommunistiese regimes geheers. Selfs ten tyde van die Franse Rewolusie – ‘n voorloper van die kommunistiese rewolusie – wat ook teen alle vorme van geloof gekant was, het die mees barbaarse slagtings en teregstellings plaasgevind.
Die ander kritiekpunt van Marx is dat die proletariaat bevry moes word van die effekte van die hoër kultuur. Deur hierdie hoër kultuur, oftewel die bourgeoisie af te breek, het egter dieselfde rigtingloosheid as gevolg. In byna alle gevalle is die struktuur van die samelewing eksterne manifestasies van die hoër spirituele strewes wat in die hart van die volkere vir baie jare gesetel was. Die Romeine byvoorbeeld het geglo dat daar honderde gode was, en elke god het ‘n heel spesifieke taak gehad. Een was vir landbou, een was vir reis op land, ‘n ander het geheers op see, en nog ander was vir welvaart. Vandag is daardie gode geëksternaliseer in die vorm van burokrate en amptenare wat oor verskillende ministeries regeer.
Volgens Marx se voorspellings het ‘n arbeider in Duitsland, Frankryk of Italië veel meer met mekaar in gemeen as met hul hoër kulture, vandaar sy oproep “Werkers van die wêreld, verenig!” Die realiteit het die teendeel bewys, naamlik dat werkers meer affiniteit met hul eie hoër kultuur voel as met dié van ander westerse lande. Volgens ‘n artikel wat ek van die geskiedkundige Ivor Benson gelees het, was selfs die Russiese boere wat die Tsaar moes vermoor nie bereid om tot hierdie daad oor te gaan nie. Hul gewete het hulle op die laaste oomblik teengehou. Dit is per slot van rekening hul keiser. Vandaar dat die Bolsjewiste belsuit het om buitelanders, vermoedelik Hongare, te kry om die keiser en sy familie dood te skiet (Anders as wat menige mense dink, het die Bolsjewiste self nie die sneller getrek nie.)
Die totale gebrek aan respek waarmee hulle die lyke vermink het om hulle onherkenbaar te maak is ‘n bewys waartoe ‘n volk in staat is as hulle in hierdie toestand van nihilisme beland het. Laat staan nog dat onder Stalin die verskillende oblastbaronne (plaaslike leiers) teen mekaar gekompeteer het wie die meeste mense kon doodmaak.
Marx se wens, ‘n diktatuur van die proletariaat, is presies wat dit is. Diegene met die minste ontwikkeling, die minste insigte en sedes, die slegste verteenwoordigers van hul eie kultuur is eintlik die ware proletariaat. Geen samelewing kan lank stand hou as die proletariaat regeer nie. Onder sulke omstandighede verval kulture in onbegrip, kortsigtigheid gebrek aan respek vir eie geskiedenis en onverskilligheid.
Met bogenoemde taktieke, wat teen geloof en hoër kultuur gerig is, skep ‘n mens ‘n teelaarde vir wat die Engelse filosoof Thomas Hobbes destyds ‘n oorlog van almal teen almal genoem het. Alle menslikheid verdwyn en dierlikheid begin kop uit te steek, en die sterkstes moor die swakkes uit vir hul eie tydelike gewin, om later weer vervang te word deur nog sterkes. Deur verder te stel dat almal gelyk is, verbied mense eweneens om hul ambisies te ontwikkel en na bo te streef sodat die samelewing in ‘n permanente staat van angs, rigtingloosheid en nihilisme verkeer. ‘n Mens durf byna beweer dat kommunisme teen die mens se geestelike natuur indruis.
Hoewel die indruk gewek word dat kommunisme se tyd uitgedien is, is die realiteit dat dit slegs in ‘n ander gedaante gemuteer het. Deesdae gebruik hulle arbeiders van vreemde kulture om die sedes van elke kultuur te verwar en te ondermyn, en noem dit “integrasie”. Enigiemand wat ‘n probleem het met hierdie integrasie kan ook reken om as ‘n paria beskou te word. ‘n Onlangse mosie wat deur die Europarlement aangeneem is waarin alle vorme van nasionalisme teëgewerk moet word, bewys dat hierdie ellende wat Marx veroorsaak het nog steeds nie uitgedien is nie.
‘n Herlewing van ‘n mens se eie kultuur is uiteindelik sy belangrikste bron van vitalisasie en ‘n manier om die wêreld te verklaar wat op sy manier sin maak.
Ek hoop dat dit nie te laat is nie om hierdie opvatting aan die volgende geslag deur te voer nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.