Volgens die studente betoog hulle teen besuinigingsplanne deur die owerheid. Onder die kwessies wat krap is dat studente wat langer as twee jaar neem om hul studies te voltooi as die voorgeskrewe tydperk, 3 000 Euro’s moet opdok.
Soos dit met studentepolitiek gaan, staan die politieke partye nie ver van die toneel om te kyk watter munt uit die geleentheid geslaan kan word nie. Die studente het twee en ‘n half uur toestemming by die polisie vir die betoging gekry, en daarom kry net die PvdA van die D66 geleentheid om toesprake te hou. Die ander partye wat deelneem kry geleentheid om aan ‘n debat deel te neem waarvan die D66 en PvdA uitgesluit is.
In geheel neem partye van bykans oor die hele spektrum dus deel, maar die suur sop loop uit omdat die taamlike linkse Sosialisteparty nie gediend is met ‘n deelnamegeleentheid aan die debat nie, maar ook ‘n toespraak wil hou.
Die SP meen hy is die mond gesnoer, iets wat deur die studenteleiers ontken word.
Die interessante is dat hier geen sprake meer is dat linkse partye bykans vrypas kry om die studente te beïnvloed, terwyl behoudende partye soos melaatses op ‘n afstand gehou word nie. Onder die partye wat aan die debat deelneem, is die ChristenUnie, weliswaar kleiner as die CDA wat in die kabinet verteenwoordig is, maar wie se grondslae bykans net so uit die Nederlandse Geloofsbelydenis kom. Ook Geert Wilders se VVD en GroenLinks neem aan die debat deel.
‘n Woordvoerder van Den Haag se burgemeester, polisiehoof en hoof van Justisie het egter ‘n waarskuwing gerig dat radikale beplan om met die studente te meng, en konfrontasie af te dwing.
Vandag se studentebetoging staan ook nie heeltemal in isolasie nie. Maandag het studente in Amsterdam die Dienste- en Inligtingsentrum van die Universiteit van Amsterdam beset. Hierdeur het hulle die reg probeer afdwing om ook vandag te mag betoog.
Bykans alle universiteite en Hoër opvoedkundige instellings in Nederland het hul studente afgegee om aan vandag se verrigtinge te kan deelneem.
