Onrusbarende tendens by Naspers

‘n Nuwe – en na my mening onrusbarende – tendens is besig om Naspers se media pos te vat – sentralisering van menings en standpunte oor kardinale kwessies.

Ek vermoed dit het reeds voorheen plaasgevind en daar was onlangs berigte oor groter sentralisering in Naspers ten opsigte van bestuur, redaksionele groottes en aanstellings, maar hierdie skynbaar nuwe tendens waar ‘n hoofartikel – die formele kommentaar van ‘n koerant – klaarblyklik op ‘n sentrale plek deur ‘n top amptenaar van Naspers geskryf word en dan presies net so in aldrie dagblaaie geplaas word, het my wenkbroue hoog laat lig.

Die betrokke hoofartikel oor die bloedige geveg tussen die DA en Cosatu het op 16 Mei gelykluidend in Beeld, Die Burger en Volksblad verskyn. Ek het dadelik ‘n brief (gelykluidend!) aan aldrie koerante gestuur om sekere vrae te stel, maar dit is nog nie gepubliseer nie en sal seker ook nie want Naspers duld nie enige vorm van kritiek of bevraagtekening nie.

Wat ek in die brief gevra het, is dat die skrywer van hoofartikels soos hierdie wat in aldrie Naspers-koerante verskyn, voortaan duidelik aangestip word, maw sy naam behoort duidelik aangetoon te word sodat ons kan weet wie se woord dit is wat gespreek word.

In die verlede toe hoofredakteurs pa gestaan het vir hoofartikels wat deur hulself of in hulle opdrag geskryf is, kon die redakteur behoorlik daarvoor verantwoordelik gehou word. Met hierdie gesentraliseerde redaksionele mening geld hierdie baie ou gebruik seker nie meer nie want die hoofredakteur het klaarblyklik nie ‘n keuse nie.

As oud-redakteur van ‘n dagblad en hoofredaksielid van verskeie Perskor-koerante wat hoofartikels geskryf het vir mense soos Dirk Richard, maar wat natuurlik deur hom gewysig of goedgekeur is, vind ek hierdie inbreuk op die onafhanklikheid en vryheid van mening van ‘n hoofredakteur verstommend, selfs kommerwekkend.

Vryheid van die pers het nog altyd eintlik en in die finale instansie in die hoofredakteur van ‘n publikasie gesetel. Klaarblyklik word dit nou toegeëien deur ‘n gesiglose superredakteur. Dit is nie goed en lekker nie, het ek in die brief geskryf.

Ek vind dit uiters jammer dat Naspers nie my brief gepubliseer en standpunt oor die kwessie inneem nie, want soos ek uiteengesit het, raak dit ‘n baie belangrike aspek van persvryheid soos ons dit ken. Ek kan my nie indink dat groot mediagroepe in Brittanje en die VSA so iets sou doen nie. Daar word uiteraard gewoonlik mense in topposte aangestel wat vertroud is met die groep se breë beleid en sieninge en dit gewoonlik verwoord, maar daar is tog tye dat daar binne ‘n groep verskille – hoofsaaklik klemverskille – kan ontstaan en dit is net bevorderlik vir goeie debat en ontleding. Ek het persoonlik daarvan ervaring gehad, maar dit is ‘n ander storie.

Ondertussen bly die identiteit van die skrywer van hierdie enkele hoofartikel geheim. Daar kan met aansienlike vertroue bespiegel word dat dit deur Tim du Plessis, hoof van Naspers se Afrikaanse koerante (wat dit ook al mag beteken), geskryf is, maar dit is nie noodwendig nie. Dit kon selfs deur Jakes Gerwel geskryf gewees het. Hy skryf redelik dikwels meningsartikels in die koerante. Dis nie onmoontlik dat iemand soos Peet Kruger, redakteur van Beeld, die artikel self geskryf het nie, maar steeds dan was dit in opdrag van ‘n sentrale besluitnemer gedoen en in aldrie koerante geplaas. Ek dink nie Kruger het die reg om vir die ander twee koerante se redakteurs voor te skryf nie.

Maak dit saak wie dit geskryf of dan goedgekeur het? Ja, nogal want dit is ‘n goeie aanduiding van wie in Naspers eintlik in beheer van denke en beleid is. En dit is weer ‘n aanduiding van hoe die wind vorentoe gaan waai.

прокурор Фильчаков

Ope brief aan Piet Croucamp

Piet Croucamp skryf as volg in Rapport:
“My politieke instink het ‘n weersin in Afrikanerpolitiek en ek het dit van die begin duidelik gemaak dat die term Afrikaner ideologies gelaai is. Ek dink mense wat hulself as Afrikaners beskryf, beskou hulle nie as deel van Suid-Afrika nie en hul doelstellings korrespondeer nie met die Grondwet van die land nie. Wat my betref, is Afrikaners byna per definisie – of op enkele uitsonderings na – onverdraagsaam en waarskynlik ook rassiste.

Ek is oortuig daarvan dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ‘n rooksein en dat Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land beter daaraan toe is sonder Julius Malema.”

Hy is ‘n man wat gereeld sy opinie op televisie, die radio en in die koerante met ons deel. Ek neem aan hy moet vreeslik slim wees, want toe die ANC iemand soek om die gesprek tussen die Afrikaans(es) en die party te behartig, was dit op sy knoppie wat hulle gedruk het.

Nou lyk dit my Piet is baie kwaad omdat Afrikaner organisasies nie belangstel om saam met die ANC om die tafel te sit nie. So kwaad dat Piet in sy liberale, verligte, goddelike toestand van alwetendheid nie eers sien hoe groot rassis hy self is nie! Piet is sekerlik ‘n kenner van die Grondwet, want hy verwys juis nie die dokument in sy haatspraak.

Ek dink mense wat hulself as Afrikaners beskryf, beskou hulle nie as deel van Suid-Afrika nie en hul doelstellings korrespondeer nie met die Grondwet van die land nie.

Jy sien Piet, hier is jou eerste denkfout- Dit is nie ons wat ons nie as deel van Suid-Afrika beskou nie, dit is die ANC. Al gehoor van regstellende aksie, en Swart bemagtiging? Afrikaner-kinders wat op die kleur van hulle vel ontneem word van regte, mense wat wil werk en wat bevoeg is om te werk word weggewys oor hulle velkleur. Hoe de duiwel moet jy jouself as deel van iets beskou, wat jou nie akkomodeer nie?

Jou tweede denkfout- Ons ken die grondwet beter as enige ander groep in hierdie land, want ons moet gedurig toekyk hoe ons regte vertrap word. Dit is Afrikaner groepe wat elke keer hof toe moet gaan om basiese regte te beskerm in hierdie bestel. Dit is nie die grondwet wat ons taal en ons kultuur vertrap nie, dit is die ANC-besluitnemers wat dit doen. Hoe kan jy nou saam met ‘n groep sit en geselsies maak oor die wonderlike toekoms terwyl daardie einste groep besig is om jou regte al meer in te perk?

So gepraat van die Grondwet- Kom ons kyk hoeveel van my regte vertrap Piet met sy skrywe:

Menswaardigheid

Elkeen het ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word.

– “Wat my betref, is Afrikaners byna per definisie – of op enkele uitsonderings na – onverdraagsaam en waarskynlik ook rassiste.”

Wat iemand soos Piet nie verstaan nie is dat die Afrikaner groepe hulle besig hou met selfbeskikking. Ons gun elke groep, ras en volk presies dieselfde regte as wat ons eis. Ons probleem is nie met swart mense nie, dit is met die regering wat ons kultuur verdruk. Dit is net julle slim, liberale denkers wat nog vasgeval is in ras. Om ons as rassiste te probeer uitmaak is ‘n direkte aanval op ons menswaardigheid en jy het geen reg om sulke aantygings te maak nie!

Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening

Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.

Kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe

(1) Persone wat aan ‘n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap-

(a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en

(b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.

Vryheid van assosiasie

Elkeen het die reg op vryheid van assosiasie.

Al van die goed raakgelees in die Grondwet Piet?

“My politieke instink het ‘n weersin in Afrikanerpolitiek en ek het dit van die begin duidelik gemaak dat die term Afrikaner ideologies gelaai is”

“Ek is oortuig daarvan dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ‘n rooksein en dat Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land beter daaraan toe is sonder Julius Malema.”

Natuurlik is die term ideologies gelaai Piet, dit verwys na ‘n VOLK. Dit verwys na ‘n groep mense met ‘n identiteit, ‘n taal, ‘n kultuur, ‘n geskiedenis, bekommernis, vrese… Dit is ‘n groep mense wat julle erken wanneer hulle wil en ontken wanner dit julle nie pas nie. Die blote feit dat jy ‘n weersin in ons manier van politiek het is bloot ‘n manifistasie van jou weersin in die mense wat die politiek beoefen. Jy erken dit self later in jou skrywe- Dat die land beter sal wees sonder ons.

Malema sing “Kill the boer, kill the farmer”. Nou vergelyk jy ons, Afrikaners, met Malema wat haat aanblaas en mense se reg op lewe wil vertrap. Weereens is jy vinnig om die Afrikaners te beledig, maar jy maak jouself skuldig aan presies dieselfde haatspraak as Malema!

Die idee om al die Afrikaners te vermoor is presies wat jy diplometies verwoord wanneer jy skryf:

“Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners”

Daar is geen verskil tussen jou en Malema se uitsprake nie. Altwee van julle wil die Afrikaners “weg” maak. Nou gaan jy seker dink maar jy het die reg tot opinie en vryheid van spraak, maar kom ons gaan kyk na die Grondwet wat jy so graag noem-

Vrybeid van uitdrukking

(1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is-

(a) die vryheid van die pers en ander media;

(b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;

(c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en

(d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.

(2) Die reg in subartikel (1) omvat nie-

(a) propaganda vir oorlog nie;

(b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of

(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

Jy wens ‘n minderheidsgroep, wat jy by die naam noem, die Afrikaner, weg. As dit nie haatspraak is nie, dan weet ek nie. Die enigste verskil tussen jou en Malema is dat Malema die ruggraat het om dit reguit uit te blaker, terwyl jy dit verbloem met geleerde diplomasie.

Jy Piet, verwens my mense, my ouers, my kinders. Ja, jy reken die land sou ‘n beter plek wees sonder my twee Afrikaner-seuntjies. De hel met hulle regte tot vryheid van assosiasie, denke, oortuiging en menswaardigheid, want Piet Croucamp dink dit is beter as ons nie hier was nie.

Na 18 jaar van belasting betaal, bek-hou, baklei vir basiese regte, byda tot die ekonomie die slag as BEE en AA jou nie by die deur voorkeer nie, duisende plaasmoorde, korrupsie, misdaad en wat nog alles, neem jy ons kwalik as ons nie meer die ANC vertrou nie. Wens jy ons weg.

Kom ek vertel jou ‘n geheim Piet- Die Afrikaners, die Boere, noem ons wat jy wil, het nie ‘n probleem met ander rasse en kulture nie. Dit is mense wat soos ons lyk en praat, mense soos jy Piet, wat my, my nageslag en ons identiteit nie erken of respekteer nie. Julle wurg julle self om ons uit te maak as rassiste sodat julle nie die waarheid hoef te erken nie. Dit is mense soos jy, wat soveel haat het vir ons volk, dat jy ons sal wegwens, wat die ware rassiste is. Dit is julle wat nie die regte soos in die Grondwet opgeneem is, van my mense erken nie en dan die vermetelheid het om ons te beskuldig en te verkleineer…

александр лобановский класс

Die toekoms van NAVO

Die ingryping in Libië was ‘n besonder slegte advertensie vir NAVO. Volgens Robert Kaplan was die VSA soos ‘n reus tussen dwergies, onder meer Frankryk en Brittanje. Die dwerge het aan die VSA die diplomatieke vye blaar gebied om van agter te lei.

Meer as 80 persent van die brandstof wat gebruik is in die ingryping het van die VSA se militêre magte gekom. So ook die logistieke ondersteuning. Maar byna al die bevele in die operasie het van Amerikaners gekom. Slegs agt lugmagte is deur hul verdedigingsministries toegelaat om enige bomme te laat val. Baie oorvlugte is gedoen deur die alliansie, blykbaar net vir die simboliek daarvan. Terwyl die meeste lugaanvalle deur nie-Amerikaanse vliegtuie gedoen is, moes die VSA die operasie koördineer.

Dit kan hulle doen deur hulle groter slaankrag, goeie tegnologie en ruimtesatellietstelsels.

In 1980, het die Europese lande vir 40 persent van NAVO se totale verdedigingsbegroting ingestaan. Nou is hulle verantwoordelik vir 20 persent. Wes-Europa is gerig op humanitêre verligtingsoefeninge, met die uitsondering natuurlik van Frankryk en Brittanje.

Gedurende die Koue Oorlog, is NAVO geheel en al oorheers deur die Verenigde State en binne die EU veel meer deur Noord-Europese lande as hul suidelike bure. Niemand het werklik omgegee toe Griekse premier Andreas Papandreou in die 1980’s sy land se uittrede uit die verdrag aankondig nie, want hulle het geen impak meer gehad nie.

Omdat NAVO nie in warm oorloë gedurende die Koue Oorlog betrokke was nie, is die ongemaklike werklikheid van die spanning tussen die EU en die VSA in die alliansie versluier. Post-Libië, is dit nie meer nie.

Die oorspronklike kerndoelwit ontbreek vandag: Die verdediging van Sentraal-Europa teen die Sowjet-Unie. Die verdwyning van daardie kerndoel verswak NAVO. En die onttrekking van twee van die vier Amerikaanse brigades uit Europa teen 2014 sal dit verder aftakel.

Dit beteken dat Frankryk ‘n veel groter rol binne Europa sal kan speel sonder NAVO. In daardie opsig het die pro-Amerikaanse Sarkozy ‘n slag vir Frankryk geslaan teen die Amerikaners se betrokkenheid in Europa se verdediging. Die Franse het niks gehad om te verloor in Libië nie en alles om te wen aan eer en aansien vir sy magte op ‘n internasionale verhoog.

As ‘n politieke stabiliseringsagent in Europa self, wil dit voorkom of Frankryk daardie rol onder Hollande in die oog het.

NAVO is ‘n politieke, diplomatieke en militêre meganisme wat gerig is teen ‘n Russiese ontwerp. Hoe meer Europa onder sy skuldkrisis gebuk gaan, hoe groter is die moontlikheid van geopolitieke vordering wat gemaak sal word deur Rusland.

As Hollande nie oortuig kan word om binne die alliansie te bly nie, hoop die VSA dat NAVO ten minste die toekomstige geopolitieke rigting van Duitsland sal bly bepaal. Solank as wat NAVO bestaan ​​en Duitsland ‘n lid is, is die kanse van Duitsland binne ‘n alliansie met Rusland in die komende jaar kleiner.

NAVO soos dit nou daar uitsien is vir die Amerikaanse hegemonie die goedkoopste manier om mag uit te oefen. Sonder die bestaande konsensus, raak dit egter baie duurder, ook vir die VSA se beeldbou-oefening soos die Libiese lugaanval gewys het.

Daar is tans ‘n Nordiese Gevegsgroep wat die Baltiese en Skandinawiese lande asook Ierland insluit, en die Visegrad Groep wat Pole, Hongarye, die Tsjeggiese Republiek en Slowakye insluit wat binne die alliansie opereer.

NAVO is by uitstek geskik vir lug en die see reddingsendings in Afrika maar dien tans as ‘n voertuig vir Europese politieke samehang. Die “slim verdediging”-inisiatief waarvolgens individuele lande hul wapenaankope koördineer is ‘n goeie voorbeeld.

Byvoorbeeld, die Nederlanders het in die ontbinding van hulle tenkbataljonne vertroue in die Duitse eenhede gestel om Nederlandse gebied te verdedig. Met die besparing, het die Nederlanders belê in missielafweerradars vir fregatte, ‘n vermoë waarby alle alliansielede nou baat.

 

 

Фильчаков

Pro- of anti-Amerikaanse Frankryk?

Die oorlog in Afghanistan, die globale ekonomie, die verloop van Europese integrasie of disintegrasie, asook die Chinese en Amerikaanse invloed in Afrika gaan binnekort gekleur word deur die uitslag van die Franse verkiesing.

Een van die twee vernaamste aanspraakmakers – Nicolas Sarkozy van die sentrum-regse Unie vir ‘n Populêre Beweging en Francois Hollande van die sentrum-linkse Sosialistiese Party – sal op 6 Mei as wenner uitstap.

Meningsopnames gee Hollande die voorsprong. Vroeër vanjaar het die Amerikaanse graderingsagentskap Standard & Poor Frankryk van ‘n AAA-kredietgradering gestroop, ‘n teken dat Europese state nie genoeg doen om sistemiese probleme in die eurosone aan te spreek nie. Dié stap was nie gewild onder Franse nie.

In Frankryk, soos in baie ander lidlande van die Europese Unie, is daar gewoonlik min ideologiese afstand tussen die hoofstroom van die sentrum-regse en sentrum-linkse partye. Gedeeltelik as ‘n gevolg daarvan vaar kleiner, meer ekstremistiese partye goed, soos Jean-Luc Mélenchon, die ekstreemlinkse kandidaat gewys het. Ook Marine Le Pen van die regse Front National het uitstekend gevaar deur 20% van die stemme op haarself te verenig.

Tussen Le Pen en Sarkozy is daar egter tans insgelyks baie min verskille in standpunte en die president verwens Le Pen seker dat sy die belangrikste kwessie, naamlik ‘n anti-Moslemsentiment, gemonopoliseer het. Daaragter skuil op die koop toe ‘n nasionalisme wat niks goeds vir die VSA inhou nie.

Ten spyte van die ideologiese samevloeiing van die belangrikste partye, sal die uitslag van die verkiesing waarskynlik ‘n beduidende uitwerking op sowel buitelandse as binnelandse beleid hê. Hollande het belowe om die Franse troepe uit Afghanistan te onttrek aan die einde van 2012. Frankryk het tans ongeveer 3600 troepe in Afghanistan.

Sy veldtog het ook laat deurskemer dat hy dalk Sarkozy se 2007-besluit om deel te wees van NAVO se geïntegreerde bevelstruktuur, ‘n stap waarteen die Sosialiste gekant is, sal heroorweeg. Nie alleen die gemiddelde kieser nie, maar baie Moslems, is uiters kriewelrig oor Franse deelname daar. En Frankryk het Noord-Afrikabande om in ag te neem.

Hoewel Sarkozy waarskynlik Frankryk se mees pro-Amerikaanse leier sedert die Tweede Wêreldoorlog is, wil hy ook die onttrekking uit Afghanistan bespoedig, en Franse troepe teen die einde van 2013 uit hê.

Die volgende Franse president sal egter met sy NAVO-bondgenote moet reken en bly by ‘n onttrekkingsrooster waarop ooreengekom is vir die komende NAVO-beraad in Chicago. En hoewel Hollande laat deurskemer het dat hy Frankryk gaan distansieer van NAVO, sal hy die verhouding as gevolg daarvan moeilik ongedaan kan maak, hoop die VSA.

Frankryk se pogings om Europa se reaksie op die Arabiese lente en NAVO se optrede in Libië te lei, het dalk gehelp om Frankryk se aansien in Amerika te verbeter, maar nie tuis nie.

In Wes-Afrika sal Frankryk steeds meeding met die VSA en indien Hollande wen, gaan dié mededinging beslis verdiep. Amerika het in Suid-Afrika ‘n bondgenoot gevind teen China in die Franssprekende lande daar, maar die Franse het ‘n stewige voorsprong in hulle agterplaas vanweë taal, administrasie en die CFA-geldeenheid, en speel die twee groot moondhede teen mekaar af.

Wanneer dit kom by die Europese Unie en sy voortgesette finansiële krisis, is beide kandidate bewus van groeiende anti-EU-sentiment onder die publiek. Sarkozy het die vooruitsig van grensbeheer en die herwaardering van bestaande reëlings vir die vrye vloei van mense onder die lidstate gestel.

Intussen het Hollande aangedui dat hy van voornemens is om die EU se nuwe fiskale verdrag te onderhandel, en aangedring dat die transaksie meer bepalings wat groei sal stimuleer insluit. Hy praat ook van tariewe op invoere vanuit lande wat nie aan EU-standaarde voldoen nie.

Alhoewel beide Sarkozy en Hollande soms die anti-EU-kaart speel om die verregse en verlinkse publiek tevrede te hou, omdat beide vyandig teenoor globalisering en Europese integrasie staan, sal nie een van die twee die Europese projek verraai nie.

Die volgende Franse president sal eerder ‘n leidende rol speel om nuwe lewe in die EU te blaas, wat beteken dat hy voorsiening sal moet maak vir openbare skeptisisme oor Europese integrasie.

Die verkiesing beloof om ‘n impak te hê, hoewel ‘n beskeie een, op Duits-Franse verhoudinge, wat nog steeds die belangrikste skakel in die EU bly. Samewerking tussen Berlyn en Parys sal die EU se anker bly, wat enige Franse president min ruimte laat en ‘n frustrasie vir die Amerikaners bly.

Die ekonomiese planne wat aangebied word deur beide kandidate is daarop gemik om kiesers die hof te maak met meer as realistiese oplossings vir Frankryk se ekonomiese uitdagings. Frankryk se openbare besteding is die hoogste in die eurosone.

In die lig van Frankryk se geskiedenis van sosiale onrus en ontwrigtende stakings, bly politici van regoor die politieke spektrum lugtig vir drastiese stappe om die land se ekonomiese beleidsrigtings te verander.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Wanneer jy nie sterk is nie

… moet jy slim wees, lui die gesegde.

Die regering se dae is getel weens die gevolge van onverantwoordelikheid en wanbestuur. As gevolg van die volgehoue diskriminasie teen blankes deur die regering die afgelope 18 jaar, is die regering ook verantwoordelik vir die onoorbrugbare afgrond tussen wit en swart benewens ander vergrype van korrupsie en volksmoord, asook ongebreidelde misdaad op alle vlakke van die samelewing. Die regering se irrasionele en onverantwoordelike nepotisme het hulle verder verlam tot n groep onbekwames wat hoegenaamd nie in staat is om te regeer nie en die prys van algemene verval van Suid Afrika is waarneembaar vir almal om te sien.

Op hierdie stadium is ons Afrikaners net te min om deur die gewone kanale weer in beheer te kom, so moeilik as wat dit is vir ons is wat deur die verval van ons land Suid-Afrika gepynig word. Die Afrikaner is versprei met individuele bestaansbelange oor die lengte en breedte van Suid Afrika wat dit moeilik maak om te sentraliseer as ‘n gebiedsgebonde volksgroep. Dit beteken nie dat ons nie meer ‘n Afrikanervolk is nie; dit maak dit net moeilik om saam te funksioneer. Dit is die realiteit van ons Afrikanervolk wat dit vir ons bemoeilik om saam te staan as een groep en dit is waar die slimwees-planne moet inskop vir ‘n toekoms vir die Afrikanervolk met realisme in die situasie waarmee ons deur die verraad van FW de Klerk gekonfronteer is.

Олександр Фільчаков прокурор

E-tol: gaan jy die vampierstaat voer?

Die deelstaat Kalifornië is in 1978 geskud deur ‘n belastingbetalerskawolt. As gevolg van hoë inflasie het eiendomswaardasies die hoogte in geskiet, met gevolglike buitensporige verhogings in eiendomsbelasting. Uiteindelik het dié hoë eiendomsbelasting veral bejaardes begin bedreig. Bejaardes kon nie meer hul eiendomsbelasting betaal nie. In 1978 is Voorstel 13 deur ‘n referendum aanvaar. Die nommer 13 was inderdaad ongelukkig vir die Kaliforniese monsterstaat wat verslaaf was aan belasting. Dit het die maksimumbelasting tot 1% van enige eiendom se waarde beperk, en ook die maksimum jaarlikse verhogings in eiendomswaardasies vasgestel. Sommige mense meen selfs dat belastingbetalerkawolte soos Voorstel 13 regstreeks tot Ronald Reagan se verkiesing bygedra het.

Suid-Afrika se ANC-vampierstaat word tans deur sy eie Voorstel 13 in die gesig gestaar: ‘n belastingbetalerkawolt in die Gautengprovinsie teen ons eie vampierstaat. Baie dink sekerlik dit gaan bloot oor tolgeld, maar dit is eintlik ‘n veel dieper kawolt, ‘n opstand teen die ANC-kaders se vergrype. Mense is keelvol daarvoor om te lees van uitspattige partytjies, verkwisting, korrupsie, plundery en onbekwaamheid. Ons voel eendragtig gewalg deur Malema se R250 000-Breitlinghorlosie, Zuma se soveelste vrou en die uitspattige vergrype van Khulubuse Zuma en ander parasietkaders.

Die belastingbetalers in Gauteng kan voorts eenvoudig nie die buitensporige tolgelde wat die ANC se vampierstaat deur middel van Scamral (Sanral) wil hef, bekostig nie. Vir baie huishoudings is dit ‘n keuse tussen kos in hul kinders se monde, of die voortgesette voerdery van die vampierkaders van die ANC. Is Khulubuse Zuma nie reeds vet genoeg nie?

Die saak staan nou só: Daar is geen manier dat Scamral sonder die publiek se samewerking ‘n sukses van sy rooftollery kan maak nie. Koop te min mense e-skyfies, stort die ganse gekkespul onmiddelik in duie, en ly die tenderpreneurs wat ongetwyfeld hul smerige vingers iewers in die spul het, enorme verliese. Weier ons om soos wafferse skape ter slagting e-skyfies te koop, moet Scamral ‘n omslagtige proses volg om ons te beroof.

Hulle moet jou motor eerstens vanaf ‘n foto identifiseer. Daar is weliswaar outomatiese maniere om so te maak, maar dit werk nie 100% van die tyd nie, en sowat 15% van alle nommerplate is vervals.

Tweedens moet hulle dan vir jou ‘n rekening stuur, wat ‘n enorme las op beide Scamral asook die SA Poskantoor gaan plaas. Die Poskantoor sukkel reeds om sy gewone werkslas uit te voer sonder dat sy werknemers die inhoud van posstukke bevry, laat staan nog miljoene ekstra posstukke aflewer en miljoene betalings terugdra na Scamral se bendehoofkwartier.

Derdens moet Scamral se RA-aanstellings by sy bendehoofkwartier dan miljoene betalings met die hand prosesseer (dis nou as genoeg van ons slim en moedswillig genoeg is om hulle per tjek te betaal, om hul las sodoende nog erger te maak.)

Bostaande is ‘n onbegonne taak en ‘n ondraagbare las op Scamral. Hy kan dit onmoontlik nie volhou nie.

Jy en ek staan hier voor ‘n unieke geleentheid. Ons kan nie ons ander belasting maklik van die ANC se vampierstaat weerhou nie, maar ons kan wel sorg dat die rooftollery in duie stort. Al wat nodig is, is om te weier om vrywillig deur die slagpale se drukgang te loop, indien ‘n mens vir deur vir Scamral se e-skyfiebedrog sou registreer.

Registreer jy nié, gaan jy weliswaar moontlik op die korttermyn meer moet betaal. Scamral besef baie goed dat hy nie sonder e-skyfies die mas kan opkom nie, en het straftariewe vir nie-geregistreerdes ingestel. Hierdie gaan egter ‘n korttermynsituasie wees. As genoeg Gautengse lammertjies weier om vrywillig by die slagpale aan te meld, gaan die tolrowery vroeër of later eenvoudig in duie stort.

Koop jy wel ‘n e-skyfie, sorg jy dat jy en jou medepadgebruiker ad infinitum die vampierstaat gaan voer, en jy kan doodseker wees dat jou korttermynbesparings in 2013, 2014 en verder die toekoms in vernietig sal word deur Eskom-agtige verhogings in tolgeld.

Wat gaan dit dus wees? Gaan jy jou gedweë, e-skyfie in die hand, by die slagpale aanmeld, of gaan jy die ANC se vampierkaders ‘n les leer wat hulle nooit sal vergeet nie, deur te weier om by Scamral te registreer?

Данильченко Юрий Брониславович Харьков

Sênet

SêNet – tot onlangs gunsteling raas- en spoegplek van veral die Kaapse slinkslinkse liberales – is besig om vinnig agteruit te gaan. Dit is nie mooi duidelik wat die rede hiervoor is nie, maar die verandering in formaat en wyse waarop deelgeneem kan word, kan die grootste oorsaak wees.

SêNet – wat graag deur die linksliberales as ‘n alternatief tot Praag aangebied is en onder meer steun kry van instansies soos die ATKV en Dagbreektrust – was eens ‘n taamlike bedrywige debatteer plek, maar met ‘n kenmerkende anti-Afrikaner inslag.

As iemand wat so af en toe gaan kyk het wat daar aangaan en by geleentheid dit geniet het om van die slinkses aan te vat, het ek betreklik onlangs gevind dat dit moeilik is om op die webblad in te kom en iets te plak. Dit was ook duidelik dat die debatte baie afgewater en bra flou is.

Dis nie net ek wat so dink nie. ‘n Vroeëre gereelde SêNet-gebruik skryf nou onder die naam Gerrida dat die webblad het “het nou ‘n vreemde, leë plek geword met min verskeidenheid briewe en erg vervelig, soos ‘n kuierplek wat ‘n besliste toemaak in die gesig staar. Die forum het sy hart verloor.
Wat my betref kan dit gerus maar sluit.

“Dit is asof niemand meer die vrymoedigheid het om sommer net lekker te gesels of net iets wat jou na aan die hart lê met ander te deel nie, want die plek is nie vriendelik nie, amper verwyder van en verhewe bo die alledaagse, skryf Gerrida

Die webblad is deel van die groter Litnet en word deur Naspers beheer.

Александр Фильчаков Васильевич

Breivik, Quisling, die verhoor van psigiatrie

Die wêreld kyk na die komende verhoor van Anders Breivik, wat aangekla word van die moord op 77, meestal wit, blou-oog tieners. Vir baie, nasionaliste veral, is Breivik se beweerde gedrag so vreemd dat hy net doodeenvoudig stapelgek moet wees.

In teenstelling met wat die vermeende dader grinnikend en selftevrede beweer, was sy optrede beslis nie die van ‘n kerngesonde nasionalis nie, laat staan nog ‘n kritikus van Islam of multikulti. Sy optrede weerspreek elke rede wat hy tot dusver kon aanvoer omdat dit sal lei tot ‘n weersin in nasionaliste, Christene en anti-intergrasie aktviste.

Breivik is al met Vidkun Quisling vergelyk, ‘n mede-Noor en ywerige Nazi. Vir Quisling se verraad teenoor sy volksgenote gedurende die Tweede Wêreldoorlog word sy naam in alle tale gebruik om ‘n verraaier wat saam met sy land se vyande sy eie mense onderdruk, te beskryf.

Noorweërs maak reg vir ‘n verskriklike opvoering, ‘n tweede, waarin Breivik in sy “gevegsuniform”, ‘n uitrusting wat baie na ‘n polisie-uniform lyk, wou optree.

Aanvanklik is hy deur psigiaters ondersoek en onbevoeg verklaar om verhoor te word. Dit is net ‘n herhaling van ‘n gebeurtenis wat 67 jaar gelede die wêreld se aandag getrek het: Die verhoor van Quisling self.

Terwyl daar ‘n begeerte was om geregtigheid te sien geskied, het baie twyfel oor Quisling se gesonde verstand bestaan. In die 1920’s was hy ‘n nasionale held wat duisende honger Oekraïners en Armeense slagoffers van die Ottomaanse volksmoord gered het.

Wat gevolg het, was ook in wese ‘n verhoor van die mediese beroep eerder as tussen die vervolging en verweerder. Sielkunde en psigiatrie is vandag weer die nie-amptelike deelnemer, sê ‘n bekende Australiese psigiater.

Tydens ‘n roetine-psigiatriese ondersoek destyds, het die psigiater Jon Leikvam gesê Quisling het geen bewyse van paranoïese denkbeeldvorming getoon nie. Leikvam het dit só uitgedruk: “As Quisling as kranksinnig beskou word, dan het ek nie nie veel hoop vir die res van ons nie.”

Die psigiaters is daarna deur die neuroloë vervang. Georg Monrad-Krohn, Noorweë se voorste neuroloog, was getref deur die kontras tussen Quisling se vlugtelingwerk en sy gedrag as die Noorweegse diktator. Dit het Monrad-Krohn laat besluit dat net ‘n organiese brein disfunksie Quisling se daaropvolgende onmenslike gedrag sou kon verduidelik.

Neuroloog Sigvald Refsum het egter bevind Quisling was neurologies normaal. Uiteindelik het die aanklaer gesê sielkunde is “‘n eienaardige wetenskap”, want dit kon nie ‘n verduideliking vir die verweerder se optrede gee nie. Henrik Bergh, Quisling se regsverteenwoordiger het geantwoord dat sy kliënt “‘n merkwaardige man” was, ‘n raaisel. Sy toestand was ‘n anomalie buite die raamwerk van wetlike psigiatriese definisies.

Op 10 September 1945, is Quisling skuldig bevind en gevonnis tot die dood. Johan Scharffenberg, die psigiater wat die Noorweegse weerstand geïnspireer het, het hom in sy tronksel ondersoek, en tot die gevolgtrekking gekom dat Quisling sy sin vir die werklikheid heeltemal verloor het.

Ná sy dood is Quisling as ‘n paranoïese sosiopaat met periodieke uitvalle van paranoïese psigose gediagnoseer.

Die kwessie van Quisling se gesonde verstand is steeds ‘n bron van heftige polemiek en na Breivik se verhoor gaan die meningsverskille oor sy geestesgesondheid ook beslis verdiep, ongeag die uitslag van die verhoor.

Op die ou end, is die psigiaters net so beperk deur die konseptuele probleme van die bepaling van psigose en skuld as wat hulle in die verhoor van Quisling was. Dit is ‘n dilemma wat forensiese psigiatrie nog nooit, en in alle waarskynlikheid, nooit in staat sal wees om op te los nie.

топкарго

Ontmoet Thabo, die DA se jongste mislukking

Ontmoet Thabo. Wie is Thabo? Hy is die DA se idee van ‘n reënboogmens en die party se jongste mislukking om swart steun te werf.

“Dit is ‘n spotprent wat ons gebruik om die boodskap van anti-tol op innoverende maniere oor te dra. Spotprente is pret en maak ‘n ernstige punt. Tolgeld gaan ‘n enorme invloed op Gauteng en alle soorte mense hê,” sê Jack Bloom, die DA se leier in die Gautengse wetgewer.

Volgens die jongste aanduidings gaan dit witmense ten seerste tref en dit is seker net ‘n bestiering dat Cosatu ook gekant is teen e-tol.

Thabo praat glo vir die “vergete” Suid-Afrika. “Hy is die stem van ons siekes in Alex, depressiewes in Diepsloot, swetendes in Sebokeng, ongelukkiges in Mamelodi, en hongeres in Hammanskraal,” sê sy Facebook-profiel.

Die DA se lomp internetveldtog – wat inderhaas weer verwyder is – is oudergewoonte die patroniserende boodskap van wit Engelssprekende Suid-Afrikaners wat nie net geen aanklank vind by swartes nie, maar hulle op die koop toe vervreem.

Thabo se uitroep “Eish Thabo!”  is blykbaar ook grammatikaal verkeerd en ‘n onsamehangende uitdrukking vir inheemse taal sprekers, sê ‘n swart joernalis Osiame Molefe.

Vir hom, sê hy, lyk dit na ‘n bemarkingsveldtog waar geen swart persoon moontlik in die nabyheid kon gewees het toe hulle dit vir ‘n swart teikenmark uitgedink het nie.

Bloom dink anders: “Die veldtog is om ondersteuning vir die wettige veldtog teen tol te monster. Ons het protes in die straat, maar regstappe teen die tol is die beste manier om dit te stop. Ons wou ondersteuning sodoende vergroot.”

Bloom, bekend daarvoor dat hy spog omdat hy oorslaap in lokasies rondom Gauteng, het saamgespan met illustreerder Tim Mostert om Thabo te skep. Mostert is die skepper van die “Speedy” spotprente wat in die Daily Sun verskyn.

“Ek is betrokke by ‘n groot nie-blanke demografie en ek wou iets doen sodat die nie-blanke demografie in Gauteng ‘n stem kon hê, en ek wou dit op ‘n humoristiese manier doen,” het Mostert gesê. Bloom was gaande oor sy idee.

Voordat die Facebookblad verwyder is, het Thabo se Facebook-biografie gelees, “Eish! Ek leer nog om te tik, en ek het al my eie Facebook!”

Dit is blitsig afgehaal nadat dit ‘n opskudding op Twitter veroorsaak het. Maar die biogafie was nie die enigste probleem nie.

“Wel, dit kom oor as so neerbuigend dat jou mond oophang, vir een ding, en dit wys weer op die persepsies dat die DA net nie die subtiliteite van tonaliteit kan regkry wanneer dit kom by die hantering van swart kiesers nie,” sê die bemarkingstrateeg Sarah Britten.

Niemand bevraagteken die impak van die uiters ongewilde tol op Gauteng se pendelaars nie en om openbare steun vir ‘n hofsaak te werf, moet maklik wees.

Die probleem is dat die Thabo-veldtog glad nie spreek tot hetsy die gemiddelde lokasiebewoner of middelinkomstegroep nie.

Maar ‘n veldtog wat fokus op een ras spesifiek, “van ‘n omstrede handelsmerk soos die DA, op ‘n platform waartoe almal teoreties toegang het, is redelik ontstellend om te sien”, sê Britten.

Die DA se nasionale kommunikasie-kantoor is eers Maandag oor die veldtog ingelig.

“Die party is gewaarsku deur die negatiewe sentiment op Twitter, en ons hersien die webwerf. Terwyl dit duidelik ‘n goeie inisiatief is in die sin dat dit bedoel is om ondersteuning vir ‘n regsaksie teen die tolpaaie te werf, was dit te maklik vir mense op sosiale netwerke om verkeerd te interpreteer,” sê Gavin Davis, nasionale hoof van die DA se kommunikasie.

Hy was onverstoord oor die ondeurdagte “Eish, Thabo” veldtog. Hy het gesê die party is “baie meer bekommerd oor die substantiewe kwessies wat die lewens van die alledaagse Suid-Afrikaners raak”.

Gegewe dat Thabo potensieel veral die swart middelklas aanstoot kan gee, moet die DA begin wonder oor hul grootse ambisies om die ANC uit die kussings te lig. Kennelik vaar hulle tans swakker as die NNP om buite hul tradisionele kiesersbasis te beweeg.

александр лобановский харьков

Christina Landman se ‘soort Here’

In haar rubriek in Beeld van Maandag 9 April gee Christina Landman hoog op oor haar “soort van Here”. Ek soek egter tevergeefs daarin dat haar Here in die waarheid is en wil hê dat ‘n mens verskoning vra as jy feitefoute gemaak of ander Christene liederlik aangeval het.

Want in haar vorige rubriek op 6 Februarie vanjaar het sy ernstige feitefoute oor Sharpeville kwytgeraak en ook, na my en ander se mening, ‘n onbehoorlike aanval op genl. Johan van der Merwe gedoen.

Beeld het op 8 Februarie ‘n brief van Johan Botha, voorsitter van die Stigting vir Gelykheid voor die Reg, geplaas waarin hy daarop gewys het dat Landman feite foute maak deur te beweer dat “ongewapendes by Sharpeville uitmekaar geskiet is deur die ‘boys on the border back home’ en dat dit deur die wit kerk ondersteun is”.

Botha het tereg daarop gewys dat die polisiestasie by Sharpeville deur ‘n paar duisend mense gewapen met stokke en klippe aangeval is en ook dat daar in 1961 nog nie polisie (of weermag) op ons grense was nie.

Ek het toe gewag om te sien of Landman christelik genoeg is om in haar volgende skrywe die feitefout te erken, maar in Maandag se aflewering is daar nie ‘n woord daaroor nie. Blykbaar laat haar soort Here toe dat ‘n mens feite kan verdraai.

Ek – en andere wat hom ken – het ook gedink dat sy genl. Van der Merwe ‘n verskoning skuldig is oor haar kru verwysing na sy “vuil truuks oor Belhar” al verskil sy steeds van hom, maar toe gaan sy van erg na erger. Sy skryf nou: “En wanneer die NG Kerk besluit om die pad met Belhar te loop, dan sien ek my Here stap saam.” En sluit af met “Dis my Here daai.”

Die verstommende implikasie van daardie stellings is dat enige lid van die NG Kerk of Christen wat Belhar nie aanvaar nie en as politiekery beskou, nie saam met die Here stap nie en nie die Here dien nie.

Dit klink selfs vir ou heiden soos ek darem na alles behalwe “christelik”.

Фільчаков прокурор

Zille krabbel terug oor ‘vlugtelinge’

DA-leier, Helen Zille het teruggekrabbel oor haar “vlugteling”-uitspraak nadat haar volgehoue “eurosentriese” vertolking van die term te veel swartes ontstel het.

Lukhona Mnguni, ‘n jeugaktivis, het haar intussen by die Menseregtekommissie gaan aankla omdat haar twiet “grondwetlike demokrasie ondermyn”. Hy het gesê haar opmerking klink asof sy meen hierdie mense het nie dienste en ondersteuning nodig nie en dat daar daarom teen hulle gediskrimineer sal word.

Zille het ‘n week gelede om verskoning gevra en getwiet dat sy “onnosel” was om die woord te gebruik. Sy het dit só gestel ná kritiek van die Sunday Times: “I’ve read Marvin’s [verwysende na adjunkredakteur Marvin Meintjies] piece. He’s right. I was a chop. Using language too loosely. Opened myself to this without thinking”

Dié beskrywing van Xhosas wat uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap trek agter beter geleenthede aan as “vlugtelinge”, was die tweede in ‘n kort rukkie wat haar ongewildheid ‘n hupstoot gegee het. Sy het voorheen in haar twis met die swart sanger Simphiwe Dana na “professionele swartes” verwys.

Zille het onlangs gesê dat niemand politieke storms akkuraat kan voorspel nie. Miskien nie, maar sy moet seker begin besef dat as die eerste swart donderweer dreun, die kanse beter as goed lyk.

Haar selfvoldane houding dat sy die swart psige beter as enige ander wit politikus gepeil het, is dus net dit: ‘n Houding en sonder substansie.

Zille bring blykbaar baie ure per dag op haar Twitter-rekening deur as leier van die DA. Haar voorliefde vir die soort hoofopskrif-, kort en bondige politieke slagspreuke pas natuurlik by Twitter. Dis net dat sy uit die oog verloor dat sy in haar omhelsing van digitale media nie besef dat daar denkende mense ook daarbuite is nie.

Dis net Hollywoodsterre en klatergoudsangers wat floreer op sulke leë klankgrepe en verlede week is die heesstem-DA-leier weer terug aarde toe gebring.

Met meer as 10 000 tweets en 129 000 volgelinge op die sosiale netwerk-webwerf ly haar pogings om ‘n politieke debat te stimuleer meer skade as wat sy enige noemenswaardige invloed op die huidige verwikkelinge uitoefen.

Meer kommerwekkend nog is dat sy onbesonne kommentaar lewer oor ‘n kwessie wat so sensitief en gevaarlik is soos openbare geweld oor dienslewering. 

Die stilte daar by Media24 oor Zille se blapse is dawerend. Haar onverantwoordelike opportunistime moes die bestuur ook opgeval het. Of dalk het hulle weer ore toegedruk vir die swaar donderweer.

Фільчаков Олександр Васильович

Ope brief aan die DA oor Pretoriase straatnaamsveranderinge

In ‘n berig deur die dagblad ‘Beeld’ 29 Maart 2012, ‘DA stem nie oor name’ het mnr Johan Jansen volgens die berig gestel: ‘Mnr. Johan Jansen (DA) het gesê hy sou wou sien dat Kerkstraat eerder na Nelson Mandela-rylaan verander word.’

Die uitlating of standpunt kan nie sondermeer gelaat word nie en die Kerkraad van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria sal mettertyd ‘n amptelike skrywe hieroor aan die toepaslike persone/instansies rig.

In my persoonlike hoedanigheid beskou ek mnr Jansen se mening as onsensitief en ‘n ontkenning van die historiese waarde van die betrokke gemeente wat twee maande voor Pretoria se stigting , op 8 en 9 September 1855, onder leiding van ds Dirk van der Hoff gestig is.  Gedurende November 1855 het die Volksraad van die Z.A.R. besluit om die Republiek se hoofsetel na Pretoria te verskuif en tereg dui die navorser/argivaris, Dr HM Rex, dit met die titel van sy boek (1960) aan: Pretoria- Van Kerkplaats na Regeringsetel.

Teen dié agtergrond het die betrokke gemeente en lidmate ‘n rol in die ontwikkeling van Suid-Afrika gespeel ondermeer in die konstitusionele gang, onderwys, en infra-struktuur.  Ten opsigte van laasgenoemde word verwys na die eerste kerkgebou wat in 1857 op Kerkplein opgerig is, in 1865 is die kerkgebou vergroot en na ‘n verwoestende brand in 1882 is ‘n sierlike kerkgebou op 23 Januarie 1885 ingewy en hier het president S J P Kruger met geleentheid besoek by die Hervormers afgelê.

Die gebou het ‘n belangrike rol gespeel in die godsdienstige- en kulturele lewe van die Afrikaner en nadat dit deur die Britse owerheid gesloop is, is die vierde en huidige kerkgebou in Du Toit str gedurende 1905 deur Genl. Louis Botha ingewy. Tydens die geleentheid het die Nederlandse hoogleraar, prof P J Muller, die inwyding van die nuwe kerkgebou gepas met  die teks uit Openbaring 21:5 ingelui; die preekteks is voorhande in die gemeentegeskiedenis: Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria 1855-1955 (prof S P Engelbrecht).  Behalwe laasgenoemde, was die gemeente dekades lank ‘n geestelike tuiste vir Nederlandsprekende Suid-Afrikaners, trouens die gemeente was van die laastes wat Nederlands as kanseltaal gebesig het.

Die verbintenis met die Nederlandse minderheid in Pretoria strek egter ook na die slagveld en word bevestig deur die gedenkplaat vir Nederlanders wat tydens die Tweede Anglo-Boere Oorlog (1899-1902) gesneuwel het; onder andere Cornelius van Gogh (1867-1900), broer van die impressionis, Vincent Willem van Gogh (30 Maart 1853-27 Julie 1890). Die gedenkplaat is teen die Oostelike wand van die kerkgebou aangebring en gedurende sy besoek aan Suid-Afrika, het Prins Bernard van Nederland die verbintenis erken deur ‘n krans by die gedenkplaat te lê.

Die rol wat die Kerk/kerk, in die besonder die Hervormde Gemeente Pretoria, in die gang van Pretoria gespeel het, word deur ‘Kerkstraat’ gehuldig.  In die verband wil ons u, mnr Jansen en belanghebbendes nooi om die S P Engelbrecht-museum, wat tans op die Oostelike en Noordelike galerye van die Kerkgebou ingerig is, te besoek – en die betekenis van dié kulturele sieraad, soos dit in ‘Kerkstraat’ weerklink, ontdek.

Ek sien uit na u besoek.

Met dank,

Dr Christo Pretorius

Pastor loci

Ned Herv Gemeente Pretoria

лобановский александр игоревич

PRAAG ondersteun Nederlands-Afrikaanse samewerking in stryd om straatname

PRAAG ondersteun die oproep deur die Nederlandse Partij voor de Vrijheid dat Nederlanders en Afrikaners moet saamstaan. om ons gedeelde kultuurerfenis te beskerm soos dit in Pretoriase straatname beliggaam word.

Koningin Wilhelmina word onthou vir haar dapper steun aan die Boere tydens die Tweede Vryheidsoorlog toe koloniale Brittanje ons land verwoes en ons vroue en kinders in konsentrasiekampe laat sterf het. Net so het koningin Beatrix veel gedoen om die aansien van die Afrikaanse kultuur in Nederland te bevorder en ons onthou haar heerskappy as ‘n tyd toe warme verhoudinge tussen ons twee volkere gegeld het.

Deur sy naamsveranderings is die ANC besig om die ergste aspekte van die koloniale Britse tradisie te omarm. Vir die eerste keer in die geskiedenis word ‘n inheemse Westerse volk, die Afrikaner, deur ‘n koloniale organisasie soos die ANC verdruk en kultureel verneder.

Ons doen ‘n beroep op alle Afrikaners en Nederlanders om teen die nuwe lords in Munitoria en die Uniegebou weerstand te bied.

лобановский александр интервью

Die perfekte WB-president is dalk die laaste

Jim Yong Kim se verrassende nominasie vir die posisie van Wêreldbankpresident is ‘n deurdagte ideologiese besluit deur die Amerikaanse president. Die genomineerde is van Oosterse afkoms, besit ‘n Amerikaanse paspoort en bekommer homself oor Afrika.

President Obama het die mediese dokter en Dartmouth College se president uitgesoek want hy is ‘n Koreaan. Dit rym met die VSA se strategiese sorge oor China. Maar meer nog is die dokter saam met Paul Farmer mede-stigter van ‘n liefdadigheidsorganisasie wat gevorderde mediese sorg in Haiti, sub-Sahara Afrika en ander verarmde streke lewer.

Die lande sluit Lesotho, Malawi en Rwanda in. Dit is lande wat die VSA ook toevallig as sleutelande vir Afrika sien in die politieke speelveld.

Soos die lowende hoofartikel in die Financial Times dit stel, is dr. Kim bewus van allerlei “antropologiese” kwessies. Kennelik is die woord “etnies” nie een wat inslag gaan vind by die lesers van die koerant nie.

Partners in Health (PIH) fokus glo nie soseer op medisyne as “ondersteuning” van gesondheid nie, dws die kulturele en etniese aspekte van sorg en voorkoming.

Een uitdaging vir dr. Kim sal wees om ekonomiese groei daadwerklik te stimuleer asook menslike vooruitgang. Baie van sy biljoene in jaarlikse lenings vloei na lande soos China, Indië en Meksiko wat maklik toegang tot krediet kan kry in private kapitaalmarkte. Die bank het ‘n neiging om korrupte regimes op allerlei maniere te ondersteun wat ontwikkeling striem en soms aktief ondermyn ter wille van politieke doelwitte.

Kim het min ondervinding in die ekonomie, beleid of ontwikkeling, maar met die Bank se swak rekord in ontwikkeling, is die belangrikste argument vir Amerikaanse ondersteuning dat die instelling Amerikaanse belange dien.

‘n “Globale” kandidaat soos die Nigeriese minister van finansies, Ngozi Okonjo-Iweala, sal dus nooit die pyp rook nie, al ondersteun Suid-Afrika en die Afrikavasteland haar aanstelling ywerig.

Haar ongewilde optrede om weg te doen met die petrolsubsidie het onlangs tot opstande in Nigerië gelei.

Nog steeds sal van die VSA se belastingbetaler verwag word om meer geld as enigiemand anders te voorsien om die instelling relevant te hou terwyl die multinasionale elite die meeste voordeel daaruit sal trek.

Dalk is dr. Kim die perfekte kandidaat, maar die moontlikheid bestaan ook dat hy die laaste een kan wees.

Олександр Васильович Фільчаков