President Obama het die mediese dokter en Dartmouth College se president uitgesoek want hy is ‘n Koreaan. Dit rym met die VSA se strategiese sorge oor China. Maar meer nog is die dokter saam met Paul Farmer mede-stigter van ‘n liefdadigheidsorganisasie wat gevorderde mediese sorg in Haiti, sub-Sahara Afrika en ander verarmde streke lewer.
Die lande sluit Lesotho, Malawi en Rwanda in. Dit is lande wat die VSA ook toevallig as sleutelande vir Afrika sien in die politieke speelveld.
Soos die lowende hoofartikel in die Financial Times dit stel, is dr. Kim bewus van allerlei “antropologiese” kwessies. Kennelik is die woord “etnies” nie een wat inslag gaan vind by die lesers van die koerant nie.
Partners in Health (PIH) fokus glo nie soseer op medisyne as “ondersteuning” van gesondheid nie, dws die kulturele en etniese aspekte van sorg en voorkoming.
Een uitdaging vir dr. Kim sal wees om ekonomiese groei daadwerklik te stimuleer asook menslike vooruitgang. Baie van sy biljoene in jaarlikse lenings vloei na lande soos China, Indië en Meksiko wat maklik toegang tot krediet kan kry in private kapitaalmarkte. Die bank het ‘n neiging om korrupte regimes op allerlei maniere te ondersteun wat ontwikkeling striem en soms aktief ondermyn ter wille van politieke doelwitte.
Kim het min ondervinding in die ekonomie, beleid of ontwikkeling, maar met die Bank se swak rekord in ontwikkeling, is die belangrikste argument vir Amerikaanse ondersteuning dat die instelling Amerikaanse belange dien.
‘n “Globale” kandidaat soos die Nigeriese minister van finansies, Ngozi Okonjo-Iweala, sal dus nooit die pyp rook nie, al ondersteun Suid-Afrika en die Afrikavasteland haar aanstelling ywerig.
Haar ongewilde optrede om weg te doen met die petrolsubsidie het onlangs tot opstande in Nigerië gelei.
Nog steeds sal van die VSA se belastingbetaler verwag word om meer geld as enigiemand anders te voorsien om die instelling relevant te hou terwyl die multinasionale elite die meeste voordeel daaruit sal trek.
Dalk is dr. Kim die perfekte kandidaat, maar die moontlikheid bestaan ook dat hy die laaste een kan wees.
