Want in haar vorige rubriek op 6 Februarie vanjaar het sy ernstige feitefoute oor Sharpeville kwytgeraak en ook, na my en ander se mening, ‘n onbehoorlike aanval op genl. Johan van der Merwe gedoen.
Beeld het op 8 Februarie ‘n brief van Johan Botha, voorsitter van die Stigting vir Gelykheid voor die Reg, geplaas waarin hy daarop gewys het dat Landman feite foute maak deur te beweer dat “ongewapendes by Sharpeville uitmekaar geskiet is deur die ‘boys on the border back home’ en dat dit deur die wit kerk ondersteun is”.
Botha het tereg daarop gewys dat die polisiestasie by Sharpeville deur ‘n paar duisend mense gewapen met stokke en klippe aangeval is en ook dat daar in 1961 nog nie polisie (of weermag) op ons grense was nie.
Ek het toe gewag om te sien of Landman christelik genoeg is om in haar volgende skrywe die feitefout te erken, maar in Maandag se aflewering is daar nie ‘n woord daaroor nie. Blykbaar laat haar soort Here toe dat ‘n mens feite kan verdraai.
Ek – en andere wat hom ken – het ook gedink dat sy genl. Van der Merwe ‘n verskoning skuldig is oor haar kru verwysing na sy “vuil truuks oor Belhar” al verskil sy steeds van hom, maar toe gaan sy van erg na erger. Sy skryf nou: “En wanneer die NG Kerk besluit om die pad met Belhar te loop, dan sien ek my Here stap saam.” En sluit af met “Dis my Here daai.”
Die verstommende implikasie van daardie stellings is dat enige lid van die NG Kerk of Christen wat Belhar nie aanvaar nie en as politiekery beskou, nie saam met die Here stap nie en nie die Here dien nie.
Dit klink selfs vir ou heiden soos ek darem na alles behalwe “christelik”.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.