Onrusbarende tendens by Naspers

‘n Nuwe – en na my mening onrusbarende – tendens is besig om Naspers se media pos te vat – sentralisering van menings en standpunte oor kardinale kwessies.

Ek vermoed dit het reeds voorheen plaasgevind en daar was onlangs berigte oor groter sentralisering in Naspers ten opsigte van bestuur, redaksionele groottes en aanstellings, maar hierdie skynbaar nuwe tendens waar ‘n hoofartikel – die formele kommentaar van ‘n koerant – klaarblyklik op ‘n sentrale plek deur ‘n top amptenaar van Naspers geskryf word en dan presies net so in aldrie dagblaaie geplaas word, het my wenkbroue hoog laat lig.

Die betrokke hoofartikel oor die bloedige geveg tussen die DA en Cosatu het op 16 Mei gelykluidend in Beeld, Die Burger en Volksblad verskyn. Ek het dadelik ‘n brief (gelykluidend!) aan aldrie koerante gestuur om sekere vrae te stel, maar dit is nog nie gepubliseer nie en sal seker ook nie want Naspers duld nie enige vorm van kritiek of bevraagtekening nie.

Wat ek in die brief gevra het, is dat die skrywer van hoofartikels soos hierdie wat in aldrie Naspers-koerante verskyn, voortaan duidelik aangestip word, maw sy naam behoort duidelik aangetoon te word sodat ons kan weet wie se woord dit is wat gespreek word.

In die verlede toe hoofredakteurs pa gestaan het vir hoofartikels wat deur hulself of in hulle opdrag geskryf is, kon die redakteur behoorlik daarvoor verantwoordelik gehou word. Met hierdie gesentraliseerde redaksionele mening geld hierdie baie ou gebruik seker nie meer nie want die hoofredakteur het klaarblyklik nie ‘n keuse nie.

As oud-redakteur van ‘n dagblad en hoofredaksielid van verskeie Perskor-koerante wat hoofartikels geskryf het vir mense soos Dirk Richard, maar wat natuurlik deur hom gewysig of goedgekeur is, vind ek hierdie inbreuk op die onafhanklikheid en vryheid van mening van ‘n hoofredakteur verstommend, selfs kommerwekkend.

Vryheid van die pers het nog altyd eintlik en in die finale instansie in die hoofredakteur van ‘n publikasie gesetel. Klaarblyklik word dit nou toegeëien deur ‘n gesiglose superredakteur. Dit is nie goed en lekker nie, het ek in die brief geskryf.

Ek vind dit uiters jammer dat Naspers nie my brief gepubliseer en standpunt oor die kwessie inneem nie, want soos ek uiteengesit het, raak dit ‘n baie belangrike aspek van persvryheid soos ons dit ken. Ek kan my nie indink dat groot mediagroepe in Brittanje en die VSA so iets sou doen nie. Daar word uiteraard gewoonlik mense in topposte aangestel wat vertroud is met die groep se breë beleid en sieninge en dit gewoonlik verwoord, maar daar is tog tye dat daar binne ‘n groep verskille – hoofsaaklik klemverskille – kan ontstaan en dit is net bevorderlik vir goeie debat en ontleding. Ek het persoonlik daarvan ervaring gehad, maar dit is ‘n ander storie.

Ondertussen bly die identiteit van die skrywer van hierdie enkele hoofartikel geheim. Daar kan met aansienlike vertroue bespiegel word dat dit deur Tim du Plessis, hoof van Naspers se Afrikaanse koerante (wat dit ook al mag beteken), geskryf is, maar dit is nie noodwendig nie. Dit kon selfs deur Jakes Gerwel geskryf gewees het. Hy skryf redelik dikwels meningsartikels in die koerante. Dis nie onmoontlik dat iemand soos Peet Kruger, redakteur van Beeld, die artikel self geskryf het nie, maar steeds dan was dit in opdrag van ‘n sentrale besluitnemer gedoen en in aldrie koerante geplaas. Ek dink nie Kruger het die reg om vir die ander twee koerante se redakteurs voor te skryf nie.

Maak dit saak wie dit geskryf of dan goedgekeur het? Ja, nogal want dit is ‘n goeie aanduiding van wie in Naspers eintlik in beheer van denke en beleid is. En dit is weer ‘n aanduiding van hoe die wind vorentoe gaan waai.

прокурор Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae