Pro- of anti-Amerikaanse Frankryk?

Die oorlog in Afghanistan, die globale ekonomie, die verloop van Europese integrasie of disintegrasie, asook die Chinese en Amerikaanse invloed in Afrika gaan binnekort gekleur word deur die uitslag van die Franse verkiesing.

Een van die twee vernaamste aanspraakmakers – Nicolas Sarkozy van die sentrum-regse Unie vir ‘n Populêre Beweging en Francois Hollande van die sentrum-linkse Sosialistiese Party – sal op 6 Mei as wenner uitstap.

Meningsopnames gee Hollande die voorsprong. Vroeër vanjaar het die Amerikaanse graderingsagentskap Standard & Poor Frankryk van ‘n AAA-kredietgradering gestroop, ‘n teken dat Europese state nie genoeg doen om sistemiese probleme in die eurosone aan te spreek nie. Dié stap was nie gewild onder Franse nie.

In Frankryk, soos in baie ander lidlande van die Europese Unie, is daar gewoonlik min ideologiese afstand tussen die hoofstroom van die sentrum-regse en sentrum-linkse partye. Gedeeltelik as ‘n gevolg daarvan vaar kleiner, meer ekstremistiese partye goed, soos Jean-Luc Mélenchon, die ekstreemlinkse kandidaat gewys het. Ook Marine Le Pen van die regse Front National het uitstekend gevaar deur 20% van die stemme op haarself te verenig.

Tussen Le Pen en Sarkozy is daar egter tans insgelyks baie min verskille in standpunte en die president verwens Le Pen seker dat sy die belangrikste kwessie, naamlik ‘n anti-Moslemsentiment, gemonopoliseer het. Daaragter skuil op die koop toe ‘n nasionalisme wat niks goeds vir die VSA inhou nie.

Ten spyte van die ideologiese samevloeiing van die belangrikste partye, sal die uitslag van die verkiesing waarskynlik ‘n beduidende uitwerking op sowel buitelandse as binnelandse beleid hê. Hollande het belowe om die Franse troepe uit Afghanistan te onttrek aan die einde van 2012. Frankryk het tans ongeveer 3600 troepe in Afghanistan.

Sy veldtog het ook laat deurskemer dat hy dalk Sarkozy se 2007-besluit om deel te wees van NAVO se geïntegreerde bevelstruktuur, ‘n stap waarteen die Sosialiste gekant is, sal heroorweeg. Nie alleen die gemiddelde kieser nie, maar baie Moslems, is uiters kriewelrig oor Franse deelname daar. En Frankryk het Noord-Afrikabande om in ag te neem.

Hoewel Sarkozy waarskynlik Frankryk se mees pro-Amerikaanse leier sedert die Tweede Wêreldoorlog is, wil hy ook die onttrekking uit Afghanistan bespoedig, en Franse troepe teen die einde van 2013 uit hê.

Die volgende Franse president sal egter met sy NAVO-bondgenote moet reken en bly by ‘n onttrekkingsrooster waarop ooreengekom is vir die komende NAVO-beraad in Chicago. En hoewel Hollande laat deurskemer het dat hy Frankryk gaan distansieer van NAVO, sal hy die verhouding as gevolg daarvan moeilik ongedaan kan maak, hoop die VSA.

Frankryk se pogings om Europa se reaksie op die Arabiese lente en NAVO se optrede in Libië te lei, het dalk gehelp om Frankryk se aansien in Amerika te verbeter, maar nie tuis nie.

In Wes-Afrika sal Frankryk steeds meeding met die VSA en indien Hollande wen, gaan dié mededinging beslis verdiep. Amerika het in Suid-Afrika ‘n bondgenoot gevind teen China in die Franssprekende lande daar, maar die Franse het ‘n stewige voorsprong in hulle agterplaas vanweë taal, administrasie en die CFA-geldeenheid, en speel die twee groot moondhede teen mekaar af.

Wanneer dit kom by die Europese Unie en sy voortgesette finansiële krisis, is beide kandidate bewus van groeiende anti-EU-sentiment onder die publiek. Sarkozy het die vooruitsig van grensbeheer en die herwaardering van bestaande reëlings vir die vrye vloei van mense onder die lidstate gestel.

Intussen het Hollande aangedui dat hy van voornemens is om die EU se nuwe fiskale verdrag te onderhandel, en aangedring dat die transaksie meer bepalings wat groei sal stimuleer insluit. Hy praat ook van tariewe op invoere vanuit lande wat nie aan EU-standaarde voldoen nie.

Alhoewel beide Sarkozy en Hollande soms die anti-EU-kaart speel om die verregse en verlinkse publiek tevrede te hou, omdat beide vyandig teenoor globalisering en Europese integrasie staan, sal nie een van die twee die Europese projek verraai nie.

Die volgende Franse president sal eerder ‘n leidende rol speel om nuwe lewe in die EU te blaas, wat beteken dat hy voorsiening sal moet maak vir openbare skeptisisme oor Europese integrasie.

Die verkiesing beloof om ‘n impak te hê, hoewel ‘n beskeie een, op Duits-Franse verhoudinge, wat nog steeds die belangrikste skakel in die EU bly. Samewerking tussen Berlyn en Parys sal die EU se anker bly, wat enige Franse president min ruimte laat en ‘n frustrasie vir die Amerikaners bly.

Die ekonomiese planne wat aangebied word deur beide kandidate is daarop gemik om kiesers die hof te maak met meer as realistiese oplossings vir Frankryk se ekonomiese uitdagings. Frankryk se openbare besteding is die hoogste in die eurosone.

In die lig van Frankryk se geskiedenis van sosiale onrus en ontwrigtende stakings, bly politici van regoor die politieke spektrum lugtig vir drastiese stappe om die land se ekonomiese beleidsrigtings te verander.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae