Cosatu het die regering versoek om ‘n staatskonstruksie- en sementmaatskappy asook ‘n staalmaatskappy te vestig om bekostigbare insette te verseker in sy ambisieuse infrastruktuur-program.
Cosatu se sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, het gesê die program in sy huidige vorm sal waarskynlik misluk agv die tenderproses.
“Geen van die vinnig groeiende ekonomieë ontwikkel hul infrastruktuur deur middel van tenders nie,” sê Vavi.
Hy het by die Ekonomiese Ontwikkeling Infrastruktuur-konferensie in Boksburg aan die Oos-Rand Vrydag kritiek gelewer op die nasionale infrastruktuur-program. “Die staat is hoofsaaklik beperk tot besteding aan infrastruktuur, nie konstruksie nie. Dit het gelei tot ‘n vermorsing van hulpbronne deur, byvoorbeeld, die koste van tenders.”
President Jacob Zuma het vroeër vanjaar aangekondig dat ‘n groot infrastruktuurontwikkelingsplan van stapel gestuur sal word.
Die plan bevat ‘n lys van 17 projekte in verskeie sektore, insluitende spoor-, pad-, skool-en hospitaalkonstruksie, in al nege provinsies.
Vavi het gesê die staat het nie beheer oor die waardeketting van insette om infrastruktuur te bou nie.
