Bykans 80 persent van ‘n groep hoërskoolleerlinge in Gauteng wat aan ‘n meningspeiling deelgeneem het, sê hulle gebruik gereeld alkohol.
Volgens die Buro vir Marknavorsing het meer as 66 persent van die sowat vierduisend-300 leerlinge in Grade 8 tot 12 wat deelgeneem het, gesê hulle was al dronk gewees, 44 persent het ook al fuifpartye gehou en 79 persent het gereeld gedrink.
Meer as ‘n kwart van die leerlinge wat aan die peiling deelgeneem het, sê hulle gebruik onwettige dwelms, waarvan dagga die gewildste is.
Sigarette en sogenaamde hubbly bubblies is veral gewild onder meisies. Die leerlinge sê hulle gebruik die middels vir stresverligting en ontspanning.
