Kulturele selfbeskikking eerste doelwit

Flip Buys (Beeld, 4 Junie) bied ‘n onbevredigende siening van Afrikanerselfbeskikking as ” ‘n soort strategiese risikobestuursplan” aan. Die Afrikaner-geskiedenis word egter deur ‘n vryheidstrewe gekenmerk: godsdiens-, handels- en kulturele vryheid.

Daar heers konsensus oor ons “foute van die verlede”: Linkse Afrikaners glo dat apartheid nooit moes bestaan het nie en regse Afrikaners meen dat 1994 ‘n fout was, asook dat oudpres. FW de Klerk nooit Afrikaner-soewereiniteit moes prysgegee het nie.

In ‘n beroemde Londense uitspraak in 1997 het De Klerk dié besluit beskryf as “sekerlik een van die pynlikste wat enige leier of sy mense ooit gevra kon word om te doen”.

Die vraag oor selfbeskikking gaan dus oor hoe ons daardie “foute van die verlede” kan regstel en weer vryheid kan verwerf.

Die grootste teenkanting teen selfbeskikking kom nie van die ANC nie, maar van Afrikaners self of ten minste daardie Afrikaners wat slegs na hul eie individuele belang kyk.

Noem hulle die neokoloniale soewereine individue. In die huidige Suid-Afrika met sy korrupsie en wetteloosheid sien hulle ‘n geleentheid om vinnig ryk te word.

Sedert die Kosovo-mening van die Internasionale Geregshof in Den Haag op 22 Julie 2010 kan enige volk ter wêreld te eniger tyd sy soewereiniteit opeis omdat, soos die hof dit gestel het, “die volkereg geen verbod op onafhanklikheidsverklarings erken nie”.

Dit is ook nie waar dat Afrikaners, soos Buys beweer, oor “geen natuurlike, betekenisvolle meerderheid” in die land beskik nie.

Ongeveer 50% van Afrikaners woon in die PWV-gebied en in baie voorstede verteenwoordig hulle óf die meerderheid óf die grootste enkele etniese groep.

Indien 0,06% van daardie PWV-Afrikaners wat in Kleinfontein saamgetrek het reeds ‘n hoë mate van eie bestuur en selfbeskikking geniet, hoeveel te meer kan die anderhalf miljoen dit nie verwerf indien hulle soos die Kleinfonteiners die wil daartoe ontwikkel nie?

Kulturele selfbeskikking moet ons eerste doelwit wees.

Pleks van “risikobestuur” toe te pas, behoort ons oor te gaan tot omgewingsbestuur. Gebiede moet beveilig word en Afrikaans moet weer as openbare taal daar gevestig word. In Europa, soos in Suid-Afrika, neig mense natuurlikerwys om in gebiede te woon waarin hul eie taal oorheers.

Die meeste mense in ons land verkies ‘n Engelse omgewing en sal dus neig om Afrikaanse omgewings te verlaat, net soos hulle ook nie hul kinders na Afrikaanse skole stuur nie.

Hierdie kommentaar verskyn ook vandag as ‘n brief in Beeld.

Boer se lyk in vrieskas gevind

Die lyk van ‘n boer van Queenstown is in ‘n vrieskas gevind, het die polisie in die Oos-Kaap Dinsdag gesê.

Lt. kol. Pumzile Makaula het gesê die 67-jarige man se lyk is Maandag in sy winkel gevind.

Die man se werknemers het bekommerd geraak toe hy nie die hek vir hulle oopgemaak het nie. Hulle het toe na hom gaan soek en op sy lyk afgekom.

Makaula het gesê ‘n nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die boer se dood bepaal.

Niemand is in hegtenis geneem nie.

Polisie wat man doodslaan, intern verhoor

Vyf polisiebeamptes van Limpopo wat daarvan aangekla is dat hulle ‘n Nigeriese man doodgeslaan het, sal binnekort intern dissiplinêr verhoor word, het die polisie Dinsdag gesê.

“Die verhoor sal binnekort begin,” het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.

Een van die polisiemans, Clement Tsotsane, is Dinsdag borgtog deur die Polokwane-landdroshof geweier. Hy sal Woensdag saam met die ander polisiebeamptes ‘n formele borgaansoek bring.

Die beamptes word daarvan beskuldig dat hulle Onyechiabi Iwuaka aangerand het terwyl hy verlede Sondag ‘n vriend besoek het. Sy vriend kon daarin slaag om weg te kom. Iwuaka is op pad na die Polokwane-polisiestasie dood.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het gesê die polisiebeamptes het na die huis gegaan om ‘n saak van gewapende roof in Mokopane te ondersoek.

Absa-bankroof: Vyf vas

Vyf mense is in hegtenis geneem na hulle ‘n Absa-tak Dinsdag in Joubertina beroof het, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.

“‘n Groep van meer as 10 rowers was vermoedelik betrokke in die rooftog en die polisie is nog op soek na minstens vyf verdagtes,” het brig. Marinda Mills, polisiewoordvoerder, gesê.

Mills het gesê die verdagtes het by ‘n padblokkade tussen Uniondale en George losgebrand op die polisie. Die polisie het teruggevuur en een van die rowers gewond.

Vyf mans is in hegtenis geneem en beamptes het beslag gelê op drie gesteelde voertuie.

Mills het gesê ‘n teller by die bank is tydens die rooftog met ‘n vuurwapen geslaan, maar die polisie het nie vuurwapens of geld gevind by die mans wat in hegtenis geneem is nie.

Jeugliga gooi ontlasting voor Zille-toespraak

Die ANC-jeugliga het hom sterk uitgespreek teen opruiende gedrag deur sommige van sy lede in die Wes-Kaap, berig RSG.

In die jongste voorval is menslike ontlasting by ‘n saal in Khayelitsha uitgegooi waar die Wes-Kaapse premier, Helen Zille ‘n “110% Groen”-veldtog bygewoon het. Minstens twee betogers is in hegtenis geneem.

Die liga sê hy het begrip vir die lede se griewe, maar dat die wyse waarop hulle hul woede uitgedruk het, vieslik en laakbaar is.

Die protesoptrede was deel van plaaslike lede se pogings om van die emmerstelsel ontslae te raak.

“Ons word al vir ‘n lang tyd in die verleentheid gestel en verneder en wat ons nou probeer doen is om haar [Zille] te verneder, want ons wil alle Suid-Afrikaners bewus maak dat Helen Zille ons nie help nie,” het Andile Lili van die jeugliga in Kaapstad gesê.

Zille het die voorval bestempel as bewys dat die ANC-jeugliga besig is met ‘n veldtog om Kaapstad onregeerbaar te maak.

Werklose jeugdiges kan SA destabiliseer

“Die jeug in Suid-Afrika word baie hard getref deur die effek van groeiende werkloosheid en dit kan in die afsienbare toekoms tot uitbarsting kom indien daar nie oplossings gevind word en werkgeleenthede geskep word nie,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake.

Adv. Alberts het in ‘n toespraak in die parlement oor die Jeug in die sentrum van Ekonomiese Geleenthede, gewys op kommerwekkende statistiek en gesê dat 50% van alle mense onder die ouderdom van 25, wat gereed is vir die arbeidsmark, werkloos is.

Mense in dié ouderdomsgroep maak boonop 30% van die totale werkloosheidsyfer uit, 60% van alle skoolverlaters het nie matriek voltooi nie, dit neem gemiddeld 806 dae vir ‘n jeugdige om ‘n werk te vind en mense in hierdie ouderdomsgroep ding mee in ‘n poel van 6.5 miljoen werkloses om ‘n betrekking.

Hy sê die jeug van Suid-Afrika, asook in die res van die kontinent, is deel van ‘n ‘geskiedkundige demografiese dividend’ wat of ‘n geweldige ekonomiese hupstoot vir Afrika kan gee, of ‘n geweldige groot faktor kan wees in die destabilisering van state, insluitende Suid-Afrika.

Europa en Amerika, asook nou China tot ‘n mate, kon hierdie jeugdige werkmag effektief aanwend tot enorme ekonomiese groei en ontwikkeling met gepaardgaande groei in die ekonomiese welvaart van die gewone persoon in die straat.

“Hierdie stryd om werk te vind kan binnekort lei tot opstand onder gefrustreerde jong mense. Die antwoord is eenvoudig. Skep deur ekonomiese groei vinnige en volhoubare werkgeleenthede.

“Ongelukkig is dit so dat die onderliggende probleem wat die situasie veroorsaak het voor swak regeringsbeleid gelê kan word. Dis ook op die vlak waarop antwoorde vir die probleem gevind moet word,” sê Adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts skiet die regering se beleid vêr tekort op die volgende gebiede:

· In die eerste plek is basiese onderwys so swak dat diegene wat uit hierdie stelsel kom, veral arm swart jong mense, beskou word as onaanstelbaar, behalwe vir ongeskoolde arbeid. Dit is ‘n nasionale skande en mens kan net wonder of die regering opsetlik die massas ongeskool wil hou ten einde hulle makliker te beheer. Die eerste stap in die regstel hiervan is die instel van moedertaalonderrig, meer klem op wiskunde en wetenskap en die daarstel van hoër slaagstandaarde;

· In die tweede plek moet regstellende aksie nie toegepas word op enige persoon wat na 1994 gematrikuleer het nie om sodoende ‘n inklusiewe en diverse ekonomie te skep. Dit sal die ekonomie laat groei en werk skep. Waar geen geskikte swart kandidate beskikbaar is vir ‘n pos wat vir ‘n swart persoon gereserveer is nie, moet ander kleurgroepe aangestel word. Die gevolge van hierdie beleid van bevoordeling het skadelike nagevolge. ‘n Voorbeeld is dat die land ‘n nypende tekort aan veeartse het bloot omdat daar nie genoeg opgeleide swart persone is om die gereserveerde poste te vul nie. Dit doen groot skade aan die land se toekoms. Selfs in die regering is baie voorbeelde waar swart mense in oormaat voorkeur vir werk kry;

· “Die behandeling van hierdie probleme sal beide sosiale kohesie en ekonomiese ontwikkeling moontlik maak en Suid-Afrika op die pad plaas van ongekende groei.

“Die alternatief is dat die demografiese werkmag eerder ‘n las kan word wat die land uitmekaar kan skeur. Minderhede bied hul steun aan om die land werkbaar te maak, maar sou die hand weggeklap word en orde verval, sal nasionale minderhede geen keuse hê as om toevlug te neem tot die skepping van ‘n alternatiewe sosio-ekonomiese realiteit nie,” sê adv. Alberts.

Wanneer ekonomie die politiek oorskadu

Soos die meeste van ons al ondertussen weet, is Afrikaners die voorlopers onder die Westerse volkere wat moet toesien hoe ons lewenswyse en kultuur die onderspit moet delf ter wille van ander moonthede se belange. Anders as wat die radikale vryheidsprofete ons na die Tweede Wêreldoorlog voorgehou het, is mense uiteindelik nie so universeel geörienteerd as wat daar destyds aangeneem was nie, en die teenwoordige kinders van daardie vaders moet nou worstel met die wete datdie einde van die geskiedenis toe nie aangebreek het nie.

Ons sien hoe Stockholm die afgelope week in ligtelaaie gestaan het, met woedende immigrante wat meer eise begin stel oor hul lewensomstandighede: ‘n Pynlike bewys dat nie eens die Swede se befaamde knus welsynstaat ‘n einde kan maak aan die frustrasie van die nuwe generasie nie. Ofskoon baie immigrante in daardie land ‘n heelwat hoër lewensstandaard geniet, ervaar hulle nog steeds ‘n gevoel van deprivasie. Hul stemme word nie gehoor nie, of anders verdraai om by die gasland te mentaliteit aan te pas. Hul outentieke identiteit kan nie wortel skiet in hierdie vreemde aarde nie, en doen vervolgens wat hulle goed doen, naamlik belaglike eise stel omdat hulle nie weet wat hulle anders moet doen nie.

Egter, hoe meer die regering aan hul eise toegee, hoe meer buitensporig tree hulle op, aangesien dit as ‘n manier beskou word om persoonlike welvaart te genereer. Interessante statistieke oor die situasie in Ierland gee aan hoe algemene misdaad in daardie land gedaal het sedert die krisis, wat Ierland besonder hard getref het. Die Marxistiese verhaal oor materiële deprivasie kan ons dus finaal tot die asblik van die geskiedenis verban, aangesien die geldigheid daarvan uiters beperk blyk te wees – in ons huidige tydsgees altans.

Dit is onder sulke omstandighede dat mense ‘n politieke eenheid begin vorm aangesien hulle ‘n inskattingsfout gemaak het, naamlik om ekonomiese belange bo politieke belange te stel. Hulle bevind hulself in ‘n politieke vakuum en besef dat hulle ‘n soort Faustiaanse verbond gesluit het, naamlik om hul siel in te ruil vir die verwagting van beter welvaart.

Die Swede ervaar nou wat ‘n voorbode gaan wees vir die Weste in die komende tyd, naamlik ‘n losmaking van politieke belange ten behoewe van ekonomiese belange. Die EU, die Trans Pacific Partnership en BRICS-lande wys daarop dat hierdie tendens besig is om uitgebreid te ontwikkel, min wetende dat hierdie monsteragtige ekonomiese superstrukture sy eie onderdane mag verpletter en vervreem. Hierdie eenwêreldregering, oftewel MacWorld soos dit af en toe genoem word, gaan uiteindelik dieselfde aan die res van die wêreld doen as wat ons in Suid-Afrika al grondig kennis mee gemaak het, naamlik ‘n groter wordende kloof tussen ryk en arm veroorsaak. Die term “eenwêreldregering” is immers ‘n verkeerde benaming, aangesien dit geen werklike “regering” is nie, maar ‘n koterie van die magtigste bedrywe wat politieke belange ondermyn ter wille van ekonomiese belange.

Dit was presies die uiterstes waar Verwoerd destyds mee te kampe gehad het: Of jy probeer om mense terug te stuur na hul eie homogene gebiede en sorg dat hulle ontwikkel en selfredsaam word, of jy doen die teenoorgestelde, naamlik laat hulle die stede toestroom op soek na werk, en vervolgens verval in armoede, misdaad, vervreemding en die eindelose geweeklag van diskriminasie en rassisme. Die internasionale verkettering van apartheid, met massahisterie, Waarheidskommissie en al, was uiteindelik ‘n manier gewees om mense weg te laat breek van hul eie tradisies en kultuur om volkere meer oop te stel vir hierdie ekonomiese wêreldorde.

Ten einde hierdie volkerebredie nog verder te akkommodeer gaan die sillabusse op skole eweneens aangepas word om mense slegs resultaatgedrewe opleidings aan te bied. Met ander woorde suiwer kennis gaan nie meer aangebied word nie, en vervolgens verloor mense die vermoëns om krities na hul leefomstandighede te kyk. Die opleiding op skool is slegs goed genoeg om arbeiders van mense te maak, wat weereens die mens reduseer tot loonslaaf sonder kultuur en ‘n grondige ontwikkeling. Dit is dus nie verbasend nie dat die maatskappysielkundiges Jaime Napier en John Jost ontdek het dat mense met ‘n konserwatiewe lewensbeskouing gelukkiger as hul meer liberale landgenote is.

Origens het die politikoloog Robert Putnam ook navorsingsresultate gepubliseer (in Scandinavian Political Studies nogal) waarin geblyk het dat daar in multikulturele gemeenskappe heelwat minder maatskaplike betrokkenheid is as homogene gemeenskappe. Mense leef meer vir hulself, en die algemene liggaamlike en geestesgesondheid is minder goed as in homogene gemeenskappe. Interessant genoeg het die Afrikanerteoloog dr. Tobie Muller presies honderd jaar gelede dieselfde in sy befaamde “Beleidenis van ‘n nasionalis” gestel.

In ons alledaagse belewenis sien ons dieselfde. Daar is bittermin mense deesdae wat weet wat die verskil is tussen selfbeeld en selfrespek. Iemand met ‘n hoë selfbeeld het nie altyd selfrespek nie. ‘n Tipiese straatskollie kan veel van homself dink en almal inmekaar slaan wat nie respekvol met hom omgaan nie, maar hy het geen selfrespek nie. Selfrespek beteken dat jy leef om die regte ding te doen, en dikwels persoonlike opofferinge moet maak om dit te bereik. Waar selfrespek deesdae as belaglik en kleinlik afgemaak word, word ‘n hoë selfbeeld in ons woonkamers opgehemel met twak uit Hollywood en MTV, en temper die jeug met opvattings dat platvloersheid, egoïsme en arrogansie deugde is.

Dit rym goed met wat Oswald Spengler destyds geskryf het, naamlik dat in ekonomiese stelsels leef mense vir hulself en in politieke stelsels leef hulle vir ander. In politieke stelsels sterf mense vir iets en in ekonomiese stelsels sterf hulle as gevolg van iets.

En terug in Suid-Afrika sien ons dieselfde: Daar is geen konsentrasiekampe met wagte en sperdraad soos tydens die Boereoorlog nie, maar ‘n see van armoede en plakkerskampe. In politieke stelsels het die vyand ‘n gesig en ‘n uniform, maar in ekonomiese stelsels kan jy slegs eet as jy tydelik bruikbaar is.

Vandaar dat volkere teruggryp na ‘n politieke eenheid terwyl ekonomiese belange hierdie tendens verketter onder die vaandel van fascisme, rassisme ensovoorts.

‘n Belangrike uitgangspunt sou wees om te besef dat die ANC en hul marionette agter die skerms geen politieke belange behartig nie, maar slegs ekonomiese belange wat as politiek gemaskeer word.

Tensy die Afrikaner ‘n politieke eenheid vorm, lyk die kans klein of hy volgende eeu as volk sal oorleef. Soos NP van Wyk Louw geskryf het, sal sy hoogste strewe wees om nie net voort te bestaan nie, maar om voort te bestaan in geregtigheid.

Slegs dan sal die balans tussen politiek en ekonomie weer gesond word.

Jonathan Jansen vereer vir Afrika-onderwys

Die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, professor Jonathan Jansen het in New York die Afrika-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot onderwys ontvang.

Hy is vereer vir sy buitengewone werk “wat gehelp het dat Suid-Afrika uitgestyg het bo sy verlede”. Vorige ontvangers sluit in Sir Bob Geldof, sir Richard Branson, emeritus aartsbiskop Desmond Tutu en die voormalige burgemeester van New York, David Dinkins.

Die nie-winsgewende organisasie “Education Africa” help agtergeblewe Suid-Afrikaners om toegang tot hoër onderwys te kry.

Professor Jansen het tydens die seremonie gesê hy ontvang dit namens die honderde onderwysers in Suid-Afrika wat alles moontlik doen om ‘n beter lewe vir kinders te gee.

NUM-leier geskiet

‘n NUM-leier is doodgeskiet en ‘n ander gewond by ‘n Lonmin Platinum-myn in Suid-Afrika, sê die vakbond.

Dodelike geweld, onwettige stakings en binnegevegte teister Suid-Afrika se platinumgordel sedert verlede jaar.

Die geweld kom te midde van verhoogde spanning na ‘n reeks dodelike aanvalle op die platinum-myn.

Die plaaslike skagleier “is dood voor die uniekantore,” het die National Union of Mineworkers (NUM) se streeks-woordvoerder Mxhasi Sithethi gesê.

Die skietery by die Marikana-myn naby Rustenburg, noordwes van Johannesburg, volg na die moord van ‘n leier van die NUM se mededingervakbond, die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie-unie (Amcu), verlede maand.

Augustus verlede jaar, het die polisie minstens 34 mense in ‘n enkele dag by die Marikana-myn doodgeskiet tydens onrus.

Maandag, het twee onbekende mans die NUM-leier omstreeks 10:00 genader en op hom gevuur, het Sithethi gesê.

“Daar was geen konfrontasie nie. Niks nie,” het hy gesê. “Hy is terug na die kantoor. Hulle het hom gevolg en hom doodgemaak.”.

Die slagoffer, wie se identiteit nie bekend gemaak is nie, het na ten minste twee skietwonde aan die kop gesterf. Die aanvallers het daarna minstens ses keer op die Unie-tesourier gevuur toe hy hulle gekonfronteer het, volgens Sithethi.

Die tesourier is in ‘n “kritieke toestand” in die hospitaal, volgens NUM se sekretaris-generaal, Frans Baleni. Die polisie was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Maandag, het Business Day berig Lonmin het ingestem om bedingingsregteregte aan die vakbond Amcu  toe te staan en sodoende die mededingende vakbond National Union of Mineworkers (NUM), uit kollektiewe bedinging uit te sluit.

Die Business Day het Maandag berig Lonmin het tydens onderhandelinge met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ingestem om bedingingslregte van 35% vir basiese regte en 45% vir kollektiewe bedinging toe te staan aan voltydse vakbondverteenwoordigers.

Abey Kgotle, hoof van Lonmin se menslike hulpbronne, het gesê die regte van die meerderheid vakbond sal op 50% bly staan.

ʼn Vakbond sal hierdie vlakke van verteenwoordiging in die arbeidsmag moet kan behaal om die spesifieke regte te geniet.

Amcu verteenwoordig tans 70% ongeskoolde werkers en masjien-operateurs in die bedingingseenheid. Dit beteken dat NUM nie organisatoriese regte onder die lae-geskoolde werkers het nie. Na wat berig word verteenwoordig NUM slegs 20% van die mynwerkers by Lonmin.

Aanvallers laat vrou vir dood

Swart aanvallers in Bloemfontein het ‘n vrou vir dood agtergelaat nadat hulle haar twee keer met ‘n mes of skroewedraaier gesteek het.

Die voorval het by die gewilde Loch Logan-waterfront plaasgevind, het Volksblad Maandag berig.

Lauré Amicke van Rensburg (21), het vanaf die Waterfront na die nabygeleë Protea-hotel Willow Lake geloop toe die aanvallers haar Saterdagaand naby die dieretuin aangeval het.

Sy het gesê sy kan nie verstaan hoekom die aanvallers haar seergemaak het nie, omdat sy onder meer geld, ‘n selfoon en haar handsak aan hulle oorhandig het.

Van Rensburg, wat tans in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein behandel word, se een long is in die aanval raakgesteek.

Sy het probeer om weg te hardloop, maar een van die aanvallers het haar agternagesit en twee keer agter haar linkerskouer met ‘n mes of skroewedraaier gesteek.

‘n Verbyganger het haar na ‘n vriend by die hotel geneem. Haar pa het haar in ‘n plas bloed daar gevind en haar hospitaal toe geneem.

Meryl Henning, woordvoerder van die Waterfront, het die aanval op die jong vrou as “kommerwekkend” beskryf.