Absa-bankroof: Vyf vas

Vyf mense is in hegtenis geneem na hulle ‘n Absa-tak Dinsdag in Joubertina beroof het, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.

“‘n Groep van meer as 10 rowers was vermoedelik betrokke in die rooftog en die polisie is nog op soek na minstens vyf verdagtes,” het brig. Marinda Mills, polisiewoordvoerder, gesê.

Mills het gesê die verdagtes het by ‘n padblokkade tussen Uniondale en George losgebrand op die polisie. Die polisie het teruggevuur en een van die rowers gewond.

Vyf mans is in hegtenis geneem en beamptes het beslag gelê op drie gesteelde voertuie.

Mills het gesê ‘n teller by die bank is tydens die rooftog met ‘n vuurwapen geslaan, maar die polisie het nie vuurwapens of geld gevind by die mans wat in hegtenis geneem is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae