Vyf polisiebeamptes van Limpopo wat daarvan aangekla is dat hulle ‘n Nigeriese man doodgeslaan het, sal binnekort intern dissiplinêr verhoor word, het die polisie Dinsdag gesê.
“Die verhoor sal binnekort begin,” het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
Een van die polisiemans, Clement Tsotsane, is Dinsdag borgtog deur die Polokwane-landdroshof geweier. Hy sal Woensdag saam met die ander polisiebeamptes ‘n formele borgaansoek bring.
Die beamptes word daarvan beskuldig dat hulle Onyechiabi Iwuaka aangerand het terwyl hy verlede Sondag ‘n vriend besoek het. Sy vriend kon daarin slaag om weg te kom. Iwuaka is op pad na die Polokwane-polisiestasie dood.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het gesê die polisiebeamptes het na die huis gegaan om ‘n saak van gewapende roof in Mokopane te ondersoek.
