Die ANC-jeugliga het hom sterk uitgespreek teen opruiende gedrag deur sommige van sy lede in die Wes-Kaap, berig RSG.
In die jongste voorval is menslike ontlasting by ‘n saal in Khayelitsha uitgegooi waar die Wes-Kaapse premier, Helen Zille ‘n “110% Groen”-veldtog bygewoon het. Minstens twee betogers is in hegtenis geneem.
Die liga sê hy het begrip vir die lede se griewe, maar dat die wyse waarop hulle hul woede uitgedruk het, vieslik en laakbaar is.
Die protesoptrede was deel van plaaslike lede se pogings om van die emmerstelsel ontslae te raak.
“Ons word al vir ‘n lang tyd in die verleentheid gestel en verneder en wat ons nou probeer doen is om haar [Zille] te verneder, want ons wil alle Suid-Afrikaners bewus maak dat Helen Zille ons nie help nie,” het Andile Lili van die jeugliga in Kaapstad gesê.
Zille het die voorval bestempel as bewys dat die ANC-jeugliga besig is met ‘n veldtog om Kaapstad onregeerbaar te maak.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.