praag.co.za

Werklose jeugdiges kan SA destabiliseer

Written by

in

“Die jeug in Suid-Afrika word baie hard getref deur die effek van groeiende werkloosheid en dit kan in die afsienbare toekoms tot uitbarsting kom indien daar nie oplossings gevind word en werkgeleenthede geskep word nie,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake.

Adv. Alberts het in ‘n toespraak in die parlement oor die Jeug in die sentrum van Ekonomiese Geleenthede, gewys op kommerwekkende statistiek en gesê dat 50% van alle mense onder die ouderdom van 25, wat gereed is vir die arbeidsmark, werkloos is.

Mense in dié ouderdomsgroep maak boonop 30% van die totale werkloosheidsyfer uit, 60% van alle skoolverlaters het nie matriek voltooi nie, dit neem gemiddeld 806 dae vir ‘n jeugdige om ‘n werk te vind en mense in hierdie ouderdomsgroep ding mee in ‘n poel van 6.5 miljoen werkloses om ‘n betrekking.

Hy sê die jeug van Suid-Afrika, asook in die res van die kontinent, is deel van ‘n ‘geskiedkundige demografiese dividend’ wat of ‘n geweldige ekonomiese hupstoot vir Afrika kan gee, of ‘n geweldige groot faktor kan wees in die destabilisering van state, insluitende Suid-Afrika.

Europa en Amerika, asook nou China tot ‘n mate, kon hierdie jeugdige werkmag effektief aanwend tot enorme ekonomiese groei en ontwikkeling met gepaardgaande groei in die ekonomiese welvaart van die gewone persoon in die straat.

“Hierdie stryd om werk te vind kan binnekort lei tot opstand onder gefrustreerde jong mense. Die antwoord is eenvoudig. Skep deur ekonomiese groei vinnige en volhoubare werkgeleenthede.

“Ongelukkig is dit so dat die onderliggende probleem wat die situasie veroorsaak het voor swak regeringsbeleid gelê kan word. Dis ook op die vlak waarop antwoorde vir die probleem gevind moet word,” sê Adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts skiet die regering se beleid vêr tekort op die volgende gebiede:

· In die eerste plek is basiese onderwys so swak dat diegene wat uit hierdie stelsel kom, veral arm swart jong mense, beskou word as onaanstelbaar, behalwe vir ongeskoolde arbeid. Dit is ‘n nasionale skande en mens kan net wonder of die regering opsetlik die massas ongeskool wil hou ten einde hulle makliker te beheer. Die eerste stap in die regstel hiervan is die instel van moedertaalonderrig, meer klem op wiskunde en wetenskap en die daarstel van hoër slaagstandaarde;

· In die tweede plek moet regstellende aksie nie toegepas word op enige persoon wat na 1994 gematrikuleer het nie om sodoende ‘n inklusiewe en diverse ekonomie te skep. Dit sal die ekonomie laat groei en werk skep. Waar geen geskikte swart kandidate beskikbaar is vir ‘n pos wat vir ‘n swart persoon gereserveer is nie, moet ander kleurgroepe aangestel word. Die gevolge van hierdie beleid van bevoordeling het skadelike nagevolge. ‘n Voorbeeld is dat die land ‘n nypende tekort aan veeartse het bloot omdat daar nie genoeg opgeleide swart persone is om die gereserveerde poste te vul nie. Dit doen groot skade aan die land se toekoms. Selfs in die regering is baie voorbeelde waar swart mense in oormaat voorkeur vir werk kry;

· “Die behandeling van hierdie probleme sal beide sosiale kohesie en ekonomiese ontwikkeling moontlik maak en Suid-Afrika op die pad plaas van ongekende groei.

“Die alternatief is dat die demografiese werkmag eerder ‘n las kan word wat die land uitmekaar kan skeur. Minderhede bied hul steun aan om die land werkbaar te maak, maar sou die hand weggeklap word en orde verval, sal nasionale minderhede geen keuse hê as om toevlug te neem tot die skepping van ‘n alternatiewe sosio-ekonomiese realiteit nie,” sê adv. Alberts.

Comments

Leave a Reply