Poetin skei van sy vrou

Die Russiese president, Wladimir Poetin, en sy vrou, Ljudmila, het Donderdag aangekondig dat hulle ná ‘n huwelik van 30 jaar gaan skei.

Die paartjie het die aangekondiging op ‘n staatstelevisiekanaal gemaak nadat hulle ‘n balletvertoning by die Kremlin bygewoon het.

“Dit was ‘n gesamentlike besluit,” het Poetin gesê.

Ljudmila Poetin was weining tydens haar man se lang politieke loopbaan in die openbaar gesien.

“Ek hou nie van publisiteit nie en dit is vir my moeilik om te vlieg,” het sy gesê.

Die paartjie het op 28 Julie 1983 getrou en hulle het twee dogters, Maria en Jekaterina.

“Ons het mekaar amper nooit gesien nie. Elkeen het sy eie lewe gehad,” het Poetin gesê.

Ljudmila Putin het gesê: “Ons sal altyd baie geheg wees aan mekaar. Ek is dankbaar dat Wladimir Wladimirowitsj my ondersteun”.

Ramphele: Mandela moes 2 termyne dien

Suid-Afrika sou ‘n beter land wees indien Nelson Mandela vir ‘n tweede termyn as president gedien het, het dr. Mamphela Ramphele, Agang-leier, Donderdag gesê.

“Ek dink as ons die goeie geluk van Mandela vir twee termyne gehad het, sou ons ‘n beter kans gehad het, want hy was ‘n toegewyde demokraat,” het sy gesê.

“Ek is nie seker dat sy opvolgers so toegewyd is soos wat hy was nie.”

Ramphele is besig om voorbereidings om haar politieke party, Agang, amptelik bekend te stel, wat in volgende jaar se verkiesing teen die ANC te staan sal kom.

Sy het ook haar kommer uitgespreek oor menseregte, swak opvoeding en gesondheid en polisie vergrype.

“Die reis na demokratiese politiek is ‘n reis wat ons as land nie verstaan het ons moet ondergaan nie,” het Ramphele gesê.

Die ANC regeer die land sedert 1994, maar is onder druk omdat hy nie sy beloftes nakom nie.

“Wat ontmoedigend is, is die sin van gelatenheid wat so baie mense voel. Wat aangaan is sleg, maar mense sien nie ‘n alternatief nie,” het sy verder gesê.

Ná sowat 20 jaar van demokrasie is die land “heeltemal op die verkeerde spoor”.

Twee rand metropolisielid aan

Twee broers is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ‘n metropolisiebeampte van Germiston aangerand het, het die Ekurhuleni-metropolisie gesê.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago het gesê die beampte is Woensdagaand aangeval toe hy die mans in hegtenis wou neem. Dwelms is glo in hul besit gevind.

“Metropolisiebeamptes het ‘n man buite ‘n internetkafee genader. Dwelms is in die man se besit gevind.”

Die man het by die internetkafee ingehardloop toe die beampte hom in hegtenis wou neem. ‘n Tweede man het toe die beampte aangerand.

“Die metropolisiebeampte het ‘n gebreekte neus en ‘n gebreektee oogkas,” het Kgasago gesê.

‘n Ander metropolisiebeampte is beseer en het Donderdagaand ‘n operasie by die Union-hospitaal in Alberton ondergaan.

Die twee mans, wat broers is, is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van die besit van dwelms en die aanranding van ‘n polisiebeampte.

Hulle verskyn Vrydag in die Germiston-landdroshof.

SA se lewensgehalte beter sê Zuma

Suid-Afrikaners se lewensgehalte het met die koms van demokrasie geweldig verbeter, het pres. Jacob Zuma Donderdag aan buitelandse diplomate gesê.

“Ons het ons belofte nagekom om ‘n beter lewe vir almal te skep. Ons het die lewensgehalte van ons mense verbeter,” het Zuma gesê nadat hy briewe van geloofwaardigheid van ambassadeurs en hoëkommissarisse ontvang het.

Die geleentheid is by die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria gehou.

Vyf ambassasdeurs, wat Kenia, Malawië, Frankryk, Saoedi-Arabië en Pole het dokumente aan die president oorhandig en foto’s met hom geneem.

“Ons het meer werksgeleenthede geskep, die vlakke van armoede en werkloosheid verminder, maar dit het ons nie alleen bereik nie. Julle lande was daar toe ons beter geleenthede vir ons mense gesoek het,” het Zuma gesê.

Hy het die internasionale gemeenskap, veral Afrika-lande, bedank vir hul bydrae tot die stryd teen apartheid.

Zuma het gesê dit is te danke aan dié hulpverlening wat Suid-Afrika “anders is as wat dit 20 jaar gelede was”.

Hy het gesê 2013 was ‘n jaar van oorsig in Suid-Afrika voor die volgende nasionale verkiesing.

 

Onderwyser wat Malema langs bobbejane uitstal, geskors

‘n Onderwyser by ‘n Bloemfonteinse skool is geskors ná gerugte van rassisme het RSG Donderdag berig.

Die bewering teen die onderwyser, by Wilgehof Primêre Skool, is gemaak deur Craig Thiem, die pa van twee kinders, tussen die ouderdomme van 12 en 13, wat die enigste wit leerlinge by die skool is.

Amptenare van die departement van onderwys het die laerskool Wilgehof vroeër die week besoek, waar hulle op die ou Suid-Afrikaanse vlag en ‘n foto van die geskorste leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, langs bobbejane afgekom het.

Die onderwyser en die skoolhoof is aangesê om die items onmiddellik te verwyder.

Die Menseregtekommissie het ook ondersoek ingestel, en die waarnemende bestuurder van die kommissie, Buang Jones, het gesê die aantygings teen die onderwyser is baie ernstig.

Jones het gesê hulle wag op ‘n verslag van die departement van onderwys in die provinsie.

Die mite van Soweto, 1976

Soweto 1976, word voorgehou as ‘n opstand teen Afrikaans.

Dit was egter die uitkristallisasie van ‘n lang proses waarin belangrike feite van wat op 16 Junie 1976 in Soweto gebeur het, sistematies uit die openbare geheue uitgewis is, terwyl ‘n kragtige mite op die asse daarvan staangemaak is: dié van ‘n heroïese opstand teen ‘n taal wat deur ‘n hardkoppige owerheid in onwillige kele afgedruk is.

Wat was die feite in verband met taal in die onderwys rondom 16 Junie 1976 in Soweto?

Baie weergawes van die gebeurtenisse van dié dag is in die loop van die tyd gegee of gekonstrueer. ‘n Bepaalde weergawe daarvan word jaarliks by die graf van Hector Petersen, die eerste ongeval van die betogings, aangebied.

Die betroubaarste inligtingsbron hieroor is egter die nougesette en omvattende amptelike Verslag van die Kommissie van Ondersoek na die onluste in Soweto en elders (1979) deur regter P.M. Cillié. ‘n Ondersoek wat die kommissaris dus drie jaar besig gehou het.

Soweto 1976 het nie onverhoeds uit die lug geval nie. Dit het ‘n lang aanloop gehad.

Dit het in die vroeë 1950’s begin met die oorname deur die Sentrale Regering van swart onderwys in provinsiale skole en ‘n verskeidenheid kerklike strukture. Die doel was om eenvormigheid in swart onderwys tot stand te bring, onder meer wat onderrigmedium betref. Dit is Bantoe-onderwys genoem, in ooreenstemming met die internasionale gebruik deur taalkundiges van die term Bantoe as versamelnaam van die Sub-Sahara Afrikatale.

Na deeglike ondersoek deur die Departement van Onderwys en buitekundiges is ‘n beleid saamgestel. In die laerskool (dit wil sê tot en met graad 8) sou leerders slegs in hul moedertaal onderrig word. In die hoërskool (grade 9 – 13) moes die moedertaal nog steeds gebruik word, en wel vir nie-eksamenvakke en vir die taal as vak. Vir eksamenvakke in die hoërskool moes Afrikaans en Engels so ver moontlik gelykop gebruik word.

Dit was ‘n voor die hand liggende en rasionele besluit. Afrikaans en Engels was op dié tydstip die twee amptelike tale van die land. Studie deur middel van die twee tale sou die skolier voorberei vir die werksomgewing, een wat oorwegend Afrikaans en Engels was. Met taal sou afgestudeerdes dus hul brood kon verdien. Die potensialiteit van so ‘n besluit het reeds heelwat vroeër in die geval van blanke skole geblyk. Anders as die Engelssprekendes, het die Afrikaners erns gemaak met tweetaligheid. Omdat hulle die mees tweetalige mense was, het een van die belangrikste werksektore in die land as’t ware in hul skoot geval: die staatsdiens.

Daar was groeipyne met die implementering van die beleid, wat normaal is in die geval van grootskaalse onderwyshervorming. Die huidige probleme met die infasering van uitkomsgebaseerde onderwys is ‘n tipiese illustrasie daarvan.

Die groeipyne was veral die gevolg van ‘n paar oorsigte in die beplanningsfase. Daar was bv. vir sekere vakke wat aan Afrikaans toegewys is, nie handboeke voorhande nie. Ook was daar in baie skole nie genoeg onderwysers wat in staat was om die vakke wat aan Afrikaans toegewys is, te onderrig nie.

Vir sulke gevalle moes daar aansoek gedoen word om vrystelling van die verpligte gebruik van Afrikaans binne die vyftig-vyftig-raamwerk.

Die beleid van en benadering tot die verlening van vrystelling is van tyd tot tyd in omsendbriewe deur die Onderwysdepartement verduidelik. Omdat die verwagting, veral van die kant van die departement, was dat die geïdentifiseerde leemtes in die loop van die tyd uitgewis sou wees, is daar reeds vanaf 1959, ses jaar na die oorname van die skole, gewaarsku dat vrystellings nie meer so geredelik as voorheen verleen sou word nie. Alleen die onvermoë van ‘n onderwyser om die taal te gebruik, sou vir vrystelling kwalifiseer, dus bv. nie die taal-onvermoë van die skolier nie, ‘n faktor wat dikwels as motivering vir aansoeke om vrystelling gebruik is.

Wesenlik was daar niks vreemds aan laasgenoemde beperking nie. Dis normaal om ‘n taal wat jy nie ken nie, deur middel van die studie daarvan as vak te bemagtig. Hier verskaf die huidige praktyk as’t ware ‘n aweregse perspektief op die Departement se beperking. In baie swart skole word kinders met ‘n Afrikataal as moedertaal vanaf die vroegste stadium aan Engels as vak blootgestel, en boonop as medium van onderrig van alle vakke, laasgenoemde met sy bekende duur skade in die vorm van druiping, uitval en swak beheersing van nie net Engels nie, maar selfs van die moedertaal.

In 1972 is besluit om die onderwysstelsel vanaf 1975 te omskep van ‘n dertienjarige na ‘n twaalfjarige: ses jaar elk in die laer- en hoërskool. Sekere bepalings van die heersende stelsel sou onveranderd bly, soos dat in die laerskool die huistaal die medium van onderrig sal wees en in die hoërskool die medium vir nie-eksamenvakke, terwyl in die hoërskool eksamenvakke op ‘n gelyke basis deur medium van Engels en Afrikaans aangebied sal word. Met die oog op indiensneming na skool sou die omgewing waarin ‘n skool gevestig is, sy taalmedium bepaal: óf Engels, óf Afrikaans, óf Engels én Afrikaans op ‘n vyftig-vyftig-grondslag.

Om voor te berei vir die oorskakeling is ‘n omsendbrief in 1973 aan ‘n wye kader van belanghebbendes gestuur. Dit het enersyds die Departement se beleid met betrekking tot onderrigtale uiteengesit, en andersyds kommentaar daarop van skoolrade gevra. Die Sekretaris van die Departement sou die finale besluit hê.

Die rade is gevra om in hul kommentaar ‘n reeks faktore in ag te neem, soos eenvormigheid tussen voeder- en ontvangerskole, die onderrigmedium van ander skole in dieselfde omgewing, die wenslikheid al dan nie van enkelmediumskole, en of die onvermoë van onderwysers om in ‘n bepaalde taal te doseer, deurslaggewend behoort te wees.

Ten spyte van ‘n uitdruklike stelling in die omsendbrief dat die finale besluit by die Sekretaris van Onderwys berus, het die blyke van groter konsultasie van die kant van die Departement by sommiges die indruk gewek dat skoolrade nou vryelik sou kon besluit oor die onderrigmedium van hul skole.

Na aanleiding van die resultate van die opname is die Minister se besluit in 1974 per omsendbrief aan belanghebbendes oorgedra: dat die status quo met betrekking tot die gelyke gebruik van Engels en Afrikaans waar moontlik op sekondêre vlak gehandhaaf moes word en dat departementele goedkeuring vir enige afwyking van die besluit nodig is. Goedkeuring sou hoofsaaklik afhang van die beskikbaarheid al dan nie van bevoegde onderwysers om onderrig in die betrokke taal te gee.

Die woorde waar moontlik in die minister se antwoord het net in die Afrikaanse teks van die omsendbrief voorgekom. Dit het ruimte gelaat vir misverstand by diegene wat slegs die Engelse teks gelees het.

Die weglating van die twee woorde was ‘n administratiewe fout met verreikende gevolge.

In ‘n latere omsendbrief is die besluit van ‘n Transvaalse inspekteurskonferensie oor die oorskakeling na die twaalf-jaar-skoolprogram bekend gemaak. Die konferensie het besluit dat eenvormigheid in belang van die onderwys en skoliere is. Die onderrigtaal vir eksamenvakke sou op die vyftig-vyftig-lees geskoei wees. Verder is aanbeveel dat Rekenkunde en Maatskaplike studies die twee vakke vir onderrig in Afrikaans sal wees.

Die omsendbrief het egter geen melding gemaak van die vroeëre prosedure met betrekking tot aansoeke om vrystelling van die reël in bepaalde gevalle nie, terwyl die woorde “waar moontlik” in die vorige omsendbrief nie herhaal is nie.

Vir die leser sonder die agtergrond van al die vorige omsendbriewe kon dit net beteken: ‘n vyftig-vyftig-beleid, en basta! Getuies voor die latere Cillié-kommissie het getuig dat hulle verstaan het dat van ‘n streng vyftig-vyftig-beginsel afgesien is, maar dat Afrikaans tog nog in hul kele afgedruk word. Hulle is in dié afleiding gesterk deurdat aansoeke om vrystelling toenemend afgekeur is.

Skoolrade het hul teenkanting insgelyks toenemend laat hoor. Op ‘n vergadering van 91 afgevaardiges van skoolrade in Desember 1974 aan die Oos-Rand is met teleurstelling verneem van die getal afgekeurde aansoeke. Die persepsie van ‘n hardvogtiger toepassing van taalbeleid is daardeur versterk. Dit het aanleiding gegee tot ‘n uitlating van ‘n afgevaardigde dat daar meer militant opgetree moet word en dat ‘n skoolboikot oorweeg moet word. Dié uitlating het wye rugbaarheid gekry deur die publikasie daarvan in die Rand Daily Mail.

Vir sover volwassenes nie alreeds betrokke was by die monstering van die skooljeug nie – die uitlating van die aangehaalde afgevaardigde dui daarop – het die Mail-berig swartmagorganisasies hulle ore laat spits. Waar vroeëre agitasies teen kernaspekte van die apartheidsbeleid deur volwassenes beplan en gelei is maar misluk het, soos in die geval van Sharpeville in 1960 wat die pasboekstelsel as teiken gehad het, het ‘n nuwe moontlikheid en ‘n nuwe teiken hulle voorgedoen: ‘n agitasie deur die jeug, en wel deur skoolkinders oor ‘n saak waarvan hulle kennis gehad het: Bantoe-onderwys, met sy klem op moedertaal en meertaligheid.

Die lang gekibbel oor die skoolbeleid het ‘n plofbare mengsel laat ontstaan. Wat kortgekom het, was ‘n vonk. Afrikaans is gesien as ‘n handige vonk – dié taal het immers meermale in die imperialistiese verlede ‘n wettige slaansak geblyk te wees.

Die res is geskiedenis

‘n Deel van dié geskiedenis is die jaarlikse funksie by die graf van Hector Petersen. By dié geleentheid word wesensbelangrike feite verswyg. Dat taal, en spesifiek Afrikaans, nie die primêre belang was wat met die agitasie gedien moes word nie, maar iets omvattenders, naamlik Bantoe-onderwys, word op indirekte manier bevestig deur die feit dat van die sewe agiterende Soweto-skole op 16 Junie 1976 ses Engelsmediumskole was, terwyl by die sewende slegs ‘n enkele vak in Afrikaans aangebied is.

Die oorwig van feite is dat Afrikaans nie die aanleidende oorsaak van Soweto 16 Junie 1976 was nie, maar die sondebok daarvan gemaak is.

Prof F.I.J. van Rensburg was professor in Afrikaans aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit. Dié stuk het op 6 Junie 2005 in die Vrye Afrikaan verskyn.

Amcu staak vir meerderheidsvakbond-plek

Die mynwerkersvakbond AMCU sal Woensdag met ‘n beskermde staking begin, indien Lonmin hom nie tot die meerderheidsvakbond by die myn verklaar nie.

Die besluit is Woensdagaand op ‘n massavergadering geneem wat deur die president van die vakbond, Joseph Mathunjwa, bygewoon is.

Mthunjwa sê hulle sal Lonmin oor hulle besluit inlig, en hulle 48 uur tyd gee om op die griewe te reageer.

Indien dit nie gebeur nie, sal alle produksie tot stilstand gebring word.

Hy het ook hulle versoek herhaal dat die ander mynvakbond die NUM sy kantore by die myn ontruim, maar het daarop gewys dat dit ‘n afsonderlike kwessie is.

Obama kies herdenking van 16 Junie-geweld vir SA-besoek

President Barack Obama van die VSA sal Suid-Afrika vir die eerste keer as President besoek te midde van vieringe op 16 Junie wat die opstande in Soweto herdenk. Die opstande word voorgehou as ‘n opstand teen Afrikaans as skooltaal.

Die besoek vorm deel van sy drienasietoer om Amerikaanse betrekkinge met Afrika Suid van die Sahara te verstewig.

Die Withuis sê Obama en sy vrou, Michelle, sal van 16 Junie tot die derde Julie besoek bring aan Senegal, Suid-Afrika en Tanzanië.

Obama het Suid-Afrika in 2006 besoek toe hy nog ‘n junior senator vir die staat Illinois was en het ‘n aantal van Suid-Afrika se regters in die Grondwethof ontmoet.

Michelle Obama het in 2011 ‘n weeklange besoek aan Suid-Afrika en Botswana gebring waar sy met jongmense oor onder meer leierskap, onderwys, gesondheid en welsynskwessies gepraat het.

Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, sê Obama se besoek is ‘n groot geleentheid vir die land.

Die internasionale graderingsagentskap Standard en Poor sê Suid-Afrika se teleurstellende ekonomiese groei en hernude maatskaplike spannig vergroot die land se ekonomiese probleme.

Volgens die agentskap kan dit tot ‘n verdere verlaging van die land se kredietgradering lei. Standard en Poor het Suid-Afrika se gradering in Oktober verlaag tot trippel-B.

Hy het as motivering aangevoer dat stakings in die mynbedryf en maatskaplike spanning die ekonomiese groei kan belemmer en die land se finansiële veerkragtigheid raak.

Vroeër die week het die Reserwebank aangekondig dat die jongste syfers daarop dui dat groeivooruitsigte afwaarts aangepas moet word. Die Bank het ook gesê die skerp styging in arbeidskoste weens hoë salarisverhogings hou ‘n inflasierisiko in.

Burgemeester vas vir dronkbestuur

Mahole Simon Mofokeng, burgemeester van Sedibeng, is in hegtenis geneem ná hy na bewering onder die invloed van drank bestuur het.

Mofokeng het glo in ‘n ander motor vasgery terwyl hy ‘n hotel in Vanderbijlpark verlaat het, het The Star Donderdag berig.

Mofokeng het volgens die berig Dinsdagaand agter tralies deurgebring.

Brig. Neville Malila, woordvoerder vir die Gautengse polisie, het bevestig dat ‘n bloedmonster van Mofokeng by ‘n hospitaal geneem is.

“Hy is eers [Woensdag-] oggend vrygelaat, op borgtog van R1 000.

“Hy is uit polisie-aanhouding vrygelaat en moes nie in die hof verskyn nie.”

Die saak is uitgestel tot 5 September.

Mofokeng se woordvoerder, Dan Manoeli, het ook vrae oor ‘n geval van ‘n soortgelyke aard beantwoord. Mofokeng het in Februarie in ‘n kroeg in Vanderbijlpark geval, en moes gehelp word om op sy voete te bly. Manoeli het gesê Mofokeng se drankie was in daardie geval gedokter.

Sirië behaal belangrike oorwinning

Die slag van die belangrike Siriese grensdorp Koesar is beslis: Die Assad-regime het ‘n oorwinning oor die Al-Kaida-rebelle behaal wat intussen aangekondig het dat hulle sal onttrek.

Min stede in Sirië is strategies so belangrik soos Koesar, op die grens met Libanon. Vir ‘n jaar het die rebelle beheer van die stad met sy 30.000 inwoners oorgeneem, maar sedert die middel van Mei is daar hewige gevegte tussen die weermag en die rebelle.

Die Siriese staatstelevisie het aangekondig dat die sukses van die weermag in Koesar onomkeerbaar is: “Ons heldhaftige magte het die terugkeer van sekuriteit en stabiliteit vir almal in die stad Koesar verseker.” Die hele streek is tans onder die beheer van regeringsoldate.

Reuters berig dat die rebelle teruggeval het weens die oorweldigende slaankrag van die weermag en Hezbollah-milisie. Hulle kon die aanslag van die aanvallers nie afweer nie om hulle geleidelik aan ammunisie mank gegaan het.

Honderde mense is dood. Regeringstroepe het saam met Hezbollah tot in die stadsaal in die middestad binnegedring.

Met die herowering is baie rebelle doodgemaak of in hegtenis geneem. Akkurate inligting oor die slagoffers is nie bekend nie.

Byna al die burgerlikes het gevlug in die afgelope weke. Oor die afgelope maand, toon NAVO se eie opnames dat 70 persent van die bevolking die Assad-regime ondersteun. Nog ‘n 20 persent is neutraal en die oorblywende 10 persent steun die rebelle.

In die afgelope ses maande het Assad se steun gegroei. Die verandering is gesien in die meerderheid Soenniegemeenskap, wat aanvanklik die opstand ondersteun het.

Vroeër het die Franse minister van buitelandse sake Laurent Fabius gesê die regering in Parys het “geen twyfel” dat die gifgas Sarin in Sirië het ten minste een keer gebruik is nie.

Die Amerikaanse president Barack Obama het na die gebruik van chemiese wapens in die verlede na verwys as die “rooi lyn” vir ‘n ingryping in die Siriese konflik.

Die gretigheid van Brittanje en Frankryk om die Siriese konflik in hul eie guns te besleg, laat egter vrae oor die rol van die VN asook die Veiligheidsraad se optrede, benewens nog dramatiese aankondigings soos Fabius s’n wat gevaarlik baie soos Irak se verdwene “wapens van massavernietiging” opklink.

Sirië is ‘n soewereine land wat ‘n lid van die VN is sedert 1945.

Die VN-handves lui: Hoofstuk VII van die Verenigde Nasies se Handves vra die Veiligheidsraad van die VN om vrede te handhaaf. Dit laat die Raad “bepaal wat ‘n bedreiging vir vrede, die oortreding van vrede, of daad van aggressie” is en watter militêre optrede om te neem om “internasionale vrede en veiligheid te herstel.”

Artikel 51 maak voorsiening vir die reg van lande om betrokke te raak in self-verdediging, insluitend kollektiewe selfverdediging, teen ‘n gewapende aanval.

Konkrete bewyse dat nie-verkose drukgroepe ook hul invloed misbruik om lande se soewereiniteit aan te tas, laai egter op. Indien daar nie meer ewewigtigheid toegepas word deur internasionale instellings soos die VN en Internasionale Strafhof nie, sal die geloofwaardigheid van sulke instellings daaronder begin ly. Sirië mag dien as hul laaste waarskuwing.