‘n Onderwyser by ‘n Bloemfonteinse skool is geskors ná gerugte van rassisme het RSG Donderdag berig.
Die bewering teen die onderwyser, by Wilgehof Primêre Skool, is gemaak deur Craig Thiem, die pa van twee kinders, tussen die ouderdomme van 12 en 13, wat die enigste wit leerlinge by die skool is.
Amptenare van die departement van onderwys het die laerskool Wilgehof vroeër die week besoek, waar hulle op die ou Suid-Afrikaanse vlag en ‘n foto van die geskorste leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, langs bobbejane afgekom het.
Die onderwyser en die skoolhoof is aangesê om die items onmiddellik te verwyder.
Die Menseregtekommissie het ook ondersoek ingestel, en die waarnemende bestuurder van die kommissie, Buang Jones, het gesê die aantygings teen die onderwyser is baie ernstig.
Jones het gesê hulle wag op ‘n verslag van die departement van onderwys in die provinsie.
