Suid-Afrikaners se lewensgehalte het met die koms van demokrasie geweldig verbeter, het pres. Jacob Zuma Donderdag aan buitelandse diplomate gesê.
“Ons het ons belofte nagekom om ‘n beter lewe vir almal te skep. Ons het die lewensgehalte van ons mense verbeter,” het Zuma gesê nadat hy briewe van geloofwaardigheid van ambassadeurs en hoëkommissarisse ontvang het.
Die geleentheid is by die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria gehou.
Vyf ambassasdeurs, wat Kenia, Malawië, Frankryk, Saoedi-Arabië en Pole het dokumente aan die president oorhandig en foto’s met hom geneem.
“Ons het meer werksgeleenthede geskep, die vlakke van armoede en werkloosheid verminder, maar dit het ons nie alleen bereik nie. Julle lande was daar toe ons beter geleenthede vir ons mense gesoek het,” het Zuma gesê.
Hy het die internasionale gemeenskap, veral Afrika-lande, bedank vir hul bydrae tot die stryd teen apartheid.
Zuma het gesê dit is te danke aan dié hulpverlening wat Suid-Afrika “anders is as wat dit 20 jaar gelede was”.
Hy het gesê 2013 was ‘n jaar van oorsig in Suid-Afrika voor die volgende nasionale verkiesing.
