Twee rand metropolisielid aan

Twee broers is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ‘n metropolisiebeampte van Germiston aangerand het, het die Ekurhuleni-metropolisie gesê.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago het gesê die beampte is Woensdagaand aangeval toe hy die mans in hegtenis wou neem. Dwelms is glo in hul besit gevind.

“Metropolisiebeamptes het ‘n man buite ‘n internetkafee genader. Dwelms is in die man se besit gevind.”

Die man het by die internetkafee ingehardloop toe die beampte hom in hegtenis wou neem. ‘n Tweede man het toe die beampte aangerand.

“Die metropolisiebeampte het ‘n gebreekte neus en ‘n gebreektee oogkas,” het Kgasago gesê.

‘n Ander metropolisiebeampte is beseer en het Donderdagaand ‘n operasie by die Union-hospitaal in Alberton ondergaan.

Die twee mans, wat broers is, is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte van die besit van dwelms en die aanranding van ‘n polisiebeampte.

Hulle verskyn Vrydag in die Germiston-landdroshof.

Maak 'n opvolg-bydrae