Burgemeester vas vir dronkbestuur

Mahole Simon Mofokeng, burgemeester van Sedibeng, is in hegtenis geneem ná hy na bewering onder die invloed van drank bestuur het.

Mofokeng het glo in ‘n ander motor vasgery terwyl hy ‘n hotel in Vanderbijlpark verlaat het, het The Star Donderdag berig.

Mofokeng het volgens die berig Dinsdagaand agter tralies deurgebring.

Brig. Neville Malila, woordvoerder vir die Gautengse polisie, het bevestig dat ‘n bloedmonster van Mofokeng by ‘n hospitaal geneem is.

“Hy is eers [Woensdag-] oggend vrygelaat, op borgtog van R1 000.

“Hy is uit polisie-aanhouding vrygelaat en moes nie in die hof verskyn nie.”

Die saak is uitgestel tot 5 September.

Mofokeng se woordvoerder, Dan Manoeli, het ook vrae oor ‘n geval van ‘n soortgelyke aard beantwoord. Mofokeng het in Februarie in ‘n kroeg in Vanderbijlpark geval, en moes gehelp word om op sy voete te bly. Manoeli het gesê Mofokeng se drankie was in daardie geval gedokter.

Maak 'n opvolg-bydrae