3D-gedrukte kos, die toekoms

Die konsep van 3D-gedrukte kos is moeilik om te sluk, maar tegnologie kan die manier waarop ons kook rewolusionêr verander.

In 2009, het Philips Design ‘n visie van die toekoms met ‘n konseptuele kosdrukker gehad wat ‘n perfek gebalanseerde maaltyd produseer met die druk van ‘n paar knoppies. Deel van ‘n navorsingsprojek wat kyk na hoe ons kos gaan produseer en eet in 15 tot 20 jaar, was ‘n droommasjien wat ons in staat stel om self ons ​​ideale kombinasie van geure en voedingstowwe in ‘n onbeperkte verskeidenheid van vorms uit te druk.

Dit klink soos Star Trek, maar met 3D-druktegnologie wat so vinnig opgang maak, kan die idee nie so ver wees soos dit eens was nie.

Maatskappye regoor die wêreld is besig om die konsep te ernstig op te neem. Janne Kyttanen is al aan die voorpunt van 3D-druktegnologie vir baie jare en hy glo kos is volgende op die lys. “Ons het baie verskillende maniere waarop 3D-druktegnologie beweeg. Ons het almal verskillende soorte produkte en verskillende materiale ondersoek,” sê hy. “Kos is die volgende grens.”

Kyttanen het reeds 3D-gedrukte eksperimentele hamburgers en ‘n ontbytgraan in snaakse vorms, insluitende sy eie kop, gedruk maar dit is slegs konseptuele modelle van plastiek en gips. “Ek wou mense ‘n bietjie laat dink en het burgers gedruk net om ‘n ikoniese beeld te skep en mense te laat besef dat ons eendag in staat sal wees om ‘n 3D-druk hamburger te maak.”

Nutella-skokeladesmeer is die ideale materiaal vir druk

In 2011 het Luis Fraguada, navorsingsdirekteur by ‘n argitektuurstudio met behulp van 3D-drukker prototipes van pasgemaakte breekware gedruk toe hy genader word deur ‘n jong sjef genoem Paco Morales, wat vra: As jy kan ‘n bord kan druk, kan jy ook ‘n stukkie kos op die bord druk?

Fraguada en Morales, tesame met argitekte Deniz Manisali, José Ramón Tramoyeres en Andres Arias Madrid is tans besig om op ‘n 3D-drukker vir kos te ontwerp.

Hul masjien gebruik ‘n aangepaste weergawe van dieselfde modelleringstegnologie wat algemeen gebruik word om plastiek te druk: kos word opgebou in lae van die gespesifiseerde ontwerp. “Ons het begin met ‘n MakerBot,” verduidelik Fraguada.

Die aard van die tegnologie beteken die drukker is beperk tot die skep van persoonlike 3D vorms van sagte of fyngemaakte voedselsoorte soos mascarpone, guacamole of sjokolade; Fraguada het gou agtergekom: “Nutella is die ideale materiaal vir druk.” Maar hy glo die potensiaal vir die tegnologie strek veel verder as die eenvoudige nuwigheidswaarde.

“Vir my is dit interessant om te dink oor die moontlikhede vir iemand wat spesifieke dieetvereistes het,” sê hy.

Dit is nie net ontwerpers wat die moontlikhede van 3D-gedrukte kos insien nie. Wetenskaplikes by Cornell Universiteit se Creative Machines Lab in Ithaca, New York, het ‘n oop-bron 3D-drukker by name Fab @ Home, wat met behulp van ‘n soortgelyke tegnologie kan druk met plastiek, sowel as koekmengsel, versiersel en grondboontjiebotter.

Hulle het ook geëksperimenteer met vleis, maar dit blyk veel moeiliker te wees. “Ons weet van die aromabedryf dat ons enigiets na enige iets kan laat smaak, en ons weet van die kleurbedryf dat ons kan iets kan laat lyk soos enige iets anders,” sê Cornell wetenskaplike Jeffrey Lipton.

Lipton geniet ‘n sukses met die gebruik van vleis as ‘n gedrukte materiaal. In 2010 het hy verskillende tipes van fyn vleis in vorms gedruk wat dan diepgebraai is, insluitend ‘n kammossel gedruk in die vorm van ‘n pendeltuig.

Die sleutel van die fyn vleis is ‘n ensiem genoem Transglutaminase, wat help om die proteïene in die vleis met sy tekstuur te kombineer. Lipton is van mening dat met die nodige wetenskaplike navorsing, ons eendag in staat sal wees om die volgende stap, die druk van voedselsoorte soos vleis, “van die grond af” te verander.

Trouens, die navorsing is reeds goed op dreef. ‘n Amerikaanse maatskappy Modern Meadow 
 is gestig in 2012, met die spesifieke doel om invitro-vleis te ontwikkel asook leerprodukte waarvoor geen dier sterf nie. Die idee is om die dieselfde biotegnologie in die mediese bedryf wat menslike weefsel laat groei, te ontwikkel om vleis vir menslike gebruik te produseer.

Moderne Meadow, het PayPal se mede-stigter en miljardêr Peter Thiel as ‘n belegger opgeteken.

Kjeld van Bommel is deel van ‘n navorsingspan by die Nederlandse navorsingsorganisasie TNO, wat werk met ‘n paar van die wêreld se grootste voedselmaatskappye, en hy sê dat hulle belangstel. “Ons doen eintlik projekte met ‘n paar internasionale maatskappye, groot voedselmaatskappye, wat ‘n toekoms vir 3D-gedrukte kos sien,” sê hy.

Ongelukkig is hierdie projekte almal top geheim. Die kitskosrestaurante gebruik reeds nagemaakte vleisvorms vir hul hamburgers en ribbetjies, ook in Suid-Afrika. Dit word dan gegeur en behandel vir smaak en voorkoms. Die hoofbestandeel is die sogenaamde “pink slime“, ‘n pienk vleisbrei.

Geniet dus maar daardie stukkie wors of biltong vir eers. Dit gaan nie lank meer met ons wees nie.

ANC wil grondhervorming versnel, maar ignoreer plaasmoorde

Die ANC wil grondhervorming versnel maar weier om die rasse-element in plaasmoorde te erken.

Die Direkteur-Generaal van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervoming, Mdu Shabane, sê die grootste struikelblok in die regstel van historiese ongeregtighede is die stadige proses van grondhervorming.

Shabane sê dit is beslis nie net die regering se skuld nie, maar daar is korrupte amptenare wat met die proses gepeuter het.

Die destydse wet op Naturellegrond van 1913 het die swart bevolking glo van grondeienaarskap uitgesluit. Die herdenking van die wetgewing lok sterk emosies uit oor die grondhervormingsprogram, wat die regering in 1994 ingestel het om historiese ongeregtighede reg te stel.

Intussen het die kantoor van die Nasionale Polisiekommissaris skerp gereageer op wat hy genoem het die burgerregtegroep Afriforum se siening van misdaad in ‘n rassekonteks.

Afriforum het gister ‘n konferensie in Pretoria gehou.

Die organisasie wil hê die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa, moet die huidige misdaadvoorkomingsstrategie met betrekking tot plaasaanvalle verander.

Die nasionale polisiewoordvoerder, Zweli Mnisi sê hulle strategie maak voorsiening vir landelike en plaasgebiede en een van die aspekte is die ontplooiing van hulpbronne en om te verseker dat meer polisielede in die gebiede ontplooi word.

Mnisi sê plase kan nie van die landelike gebiede geskei word nie.

Nuwe rekord vir sterk vrou

Met alle mag het Madelyn Prinsloo van Pretoria bewys dat sy moontlik die heel sterkste vrou in Suid-Afrika mag wees.

Prinsloo het verlede Saterdag by die Grey Owl-winkelsentrum in Centurion gepoog om ‘n dubbel-as Mercedes Benz voorhakkertrok oor ‘n afstand van 20m te sleep asook ‘n 150kg buiteband 30 keer om te dop.

“Ons het aanvanklik die trok item op sy gestoot omdat die oppervlak baie glad was. Sy het daarna die buiteband omgedop, maar later besluit om ander skoene aan te trek en weer die trok aan te pak. Sy het uitstekende tyd gemaak,” het sterkman Chris Batts, die organiseerder van die dag en uitvoerende direkteur van Sport Against Crime, gesê.

Prinsloo het die trok oor ‘n afstand van 30 meter binne een minuut en 30 sekondes gesleep.

Sy het ook moontlik ‘n wêreldrekord opgestel as die eerste vrou wat ‘n 150kg buiteband 30 keer binne twee minute en 30 sekondes omgedop het.

Batts het gesê dat hy haar naam, besonderhede, foto’s, beeldmateriaal asook die nodige verklarings na Recordsetters in New York, Amerika, gaan stuur vir erkenning as ‘n wêreldrekordhouer.

“Recordsetters doen die nodige navorsing om te bepaal of hierdie item al voorheen teen ‘n beter tyd gedoen is en of al die inligting korrek ingedien is en juis is om dit as ‘n wêreldrekord te erken. Indien wel, sal ons met ‘n nuwe vroue wêreldrekord vanuit Riviera kan spog,” het ‘n trotse Batts gesê.

Vyf vas vir openbare geweld in Kaapstad

Vyf mense is tydens ‘n betoging in Wallacedene, Kraaifontein, Kaapstad in hegtenis geneem vir openbare geweld, het die polisie in die Wes-Kaap Donderdag gesê.

“Gister [Woensdag] is ons in kennis gestel dat inwoners in die gebied betoog oor behuisingsprobleme. As deel van die betoging het hulle bande gebrand,” het kol. Thembinkosi Kinana gesê.

Die polisie het ingegryp en vyf mense is in hegtenis geneem.

“Gisteraand het ons uitgevind ‘n Chinese winkel is aan die brand gesteek, maar ons het regdeur die nag die gebied gemonitor,” het Kinana gesê.

Hy het gesê die situasie het teen Donderdagoggend kalmer geraak.

“Ons handhaaf ‘n sterk polisieteenwoordigheid in die gebied.”

Polisieteenwoordigheid opgeskerp vir Malema-verskyning

Polisievoertuie staan buite die Polokwane-landdroshof, waar Julius Malema en vier ander mense Donderdagoggend verskyn.

Omstreeks 07:15 is twee polisie-njalas en ten minste 10 motors buite die hof opgemerk.

Die vyf verskyn op aanklagte van ondermeer bedrog, geldwassery en rampokkery.

Die hof sal na verwagting Donderdag ‘n verhoordatum vasstel.

Malema en die vier ander beskuldigdes sal in die hooggeregshof verskyn omdat die landdroshof verlede jaar in ‘n brand in puin gelê is.

Hy word daarvan beskuldig dat hy bykans R4 miljoen uit korrupte transaksies gemaak het. Hy is vry op borgtog van R10 000.

Sy sakevennote, Kagisho Dichabe, Lesiba Gwangwa, Helen Moreroa en Makgetsi Manthata, is elk verlede jaar op 25 September borgtog van R40 000 toegestaan.

Die saak hou verband met die toekenning van ‘n tender van R52 miljoen aan die maatskappy On-Point Engineering. Malema se Ratanang Family Trust was ‘n indirekte aandeelhouer in On-Point.

VSA waarsku oor SA se misdaad

Die Verenigde State het ‘n misdaadwaarskuwing elk vir Pretoria, Johannesburg, Durban en Kaapstad uitgereik, berig The New Age.

Die Amerikaanse staatsdepartement se buro vir diplomatieke veiligheid het die waarskuwing in ‘n dokument vrygestel.

“Gewelddadige en konfronterende misdaad is ‘n groot bekommernis in Suid-Afrika. Die soort misdade sluit in huisroof, inbrake, kapings, straatrooftogte, grypdiefstal, georganiseerde aanvalle op kommersiële en winkelsentrums, die opblaas van kitsbanke, sowel as aanvalle op transito-voertuie en -werknemers,” lui die verslag.

Die verslag waarsku besoekers dat Suid-Afrikaanse misdadigers nie huiwer om wapens te gebruik nie, en dat informele nedersettings vermy moet word.

“Buitelanders word nie net geteiken nie, maar verskeie was al slagoffers van verkragting.”

Jack Hillmeyer, woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika, het gesê veiligheid- en sekuriteitsverslae is standaardpraktyk in alle lande waar die Amerikaanse departement van buitelandse sake konsulêre dienste aan sy burgers bied. Volgens hom is dit nie beperk tot Suid-Afrika nie.

“Die meerderheid van Amerikaanse burgers wat na Suid-Afrika reis keer veilig terug.”

Die Amerikaanse president, Barack Obama, sal Pretoria en Kaapstad die einde van die maand besoek.

Twee van Denel in Mogadisjoe in aanval dood

Twee Suid-Afrikaners wat vir die wapenvervaardiger Denel werk is Woensdag in ‘n aanval in Somalië dood, het die maatskappy in ‘n verklaring gesê.

“Ek kan bevestig dat twee van ons werknemers in die aanval op die Verenigde Nasies in Somalië dood is, het ‘n woordvoerder vir Denel, Vuyelwa Qinga, gesê.

Die oorledenes se name is nog nie vrygestel nie

‘n Woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge, Nelson Kgwete, het alle navrae na Denel verwys.

Qinga het gesê sy het tans geen verdere inligting oor die twee Suid-Afrikaners tot haar beskikking nie.

Reuters het berig dat Somalië se ministerie van binnelandse sake bevestig het dat twee Suid-Afrikaners onder die 15 mense is wat in die aanval op die VN-kamp in die hoofstad Mogadisjoe dood is.

Al-Shabaab-rebelle, wat bande met Al-Kaida het, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

Dit is die eerste groot aanval op die VN sedert die verskuiwing na Mogadisjoe.

ANC-konsortium gebruik staatsdienspensioenfonds om Independent-nuusgroep mee te koop

Die regering het in antwoord op ‘n geskrewe vraag van die Vryheidsfront Plus erken dat geld van die pensioenfonds vir staatsdienswerkers wel gebruik gaan word om te belê in die Independent News & Media-groep wie se Suid-Afrikaanse beleggings deur die ANC-georiënteerde konsortium Sekunjalo Independent Media gekoop is.

Dit beteken in effek dat die ANC met staatspensioenfondse invloed gaan kry oor ‘n koerantgroep wat as kragtige ANC-propagandamedium gebruik kan word. Die aandeel wat Sekunjalo van Independent gekoop het, sluit van die land se voorste koerante in, waaronder The Star, Pretoria News, Cape Argus en The Sunday Independent.

Volgens adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies en die media, is dit ‘skrikwekkend’ dat die ANC staatsgeld gaan gebruik om ‘n vastrapplek in die land se hoofstroom-media te verkry. “Daar is egter ook vraagtekens oor die sinvolheid van die tipe belegging in ‘n tyd waarin meeste koerante wêreldwyd se sirkulasiesyfers aan die afneem is. Al die tekens is daar dat hierdie eerder ‘n politiek-geïnspireerde transaksie is ten einde nog ‘n pro-regeringskoerant tot stand te bring benewens die Gupta-beheerde The New Age-koerant,” het Alberts verder gesê.

Alhoewel geen amptelike syfers nog bekend gemaak is nie, lui mediaberigte dat die transaksie sowat R2 miljard gaan beloop.

Uit ‘n voorlegging aan die Mededingingskommissie waaroor ook reeds berig is, blyk dit dat die pensioenfonds deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ‘n belang van sowat 25% in die transaksie sal hê. Die bedrag sal sowat R500 miljoen beloop.

Dit is reeds bekend dat die drie persone aan stuur van sake by Sekunjalo noue bande met die ANC het. Hulle is dr. Iqbal Survé, hoof van die konsortium, die prominente sakeman en ANC-fondswerwer Sandile Zungu en die ANC parlementslid Mandla Mandela, ‘n kleinseun van oud-president Nelson Mandela.

Die ANC was reeds in die spervuur oor sy omstrede befondsing van The New Age-koerant deur middel van staatsadvertensies en borgskappe van staatsbeheerde maatskappye. The New Age word deur die Gupta-familie besit.

Die vrae van adv. Alberts aan die minister van finansies was of die pensioenfonds vir staatsamptenare wel ‘n belegging in die transaksie gaan maak, wie die rolspelers is, wat die bedrag is en wat die terme van die mandaat en strategie van die belegging is.

In antwoord het die minister bevestig dat die OBK die belegging goedgekeur het onderhewig aan die goedkeuring van die Reserwebank en die Mededingingskommissie.

Die ‘finale beleggingsbedrag’ kon nie bekend gemaak word nie aangesien daar nie uitsluitsel is oor die rol van ander moontlike beleggers nie.

Die transaksie was ook ‘in ooreenstemming’ met die pensioenfonds se private beleggingsmandaat wat op winsbejag en breë swart ekonomiese bemagtiging gerig is, lui die antwoord.

Boer van Cradock in plaasaanval doodgesteek

‘n Bejaarde boer van Cradock, Louis Traut (80), is Sondagaand in ‘n plaasaanval op sy plaas Doornkop tussen Cradock en Hofmeyr vermoor. Sy vrou en twee dogters is aangerand in die aanval, berig Volksblad.

‘n Polisiewoordvoerder,sê Traut (80) is vermoor en sy vrou, Coleen (48), en dogters, Mariska (45) en Louisa (50), het steek- en kneuswonde opgedoen toe drie swartes hulle Sondag omstreeks 20:00 in die huis aangeval het.

Traut is met ‘n kierie geslaan, geskop en daarna gesteek. Die verdagtes het toegang tot die huis verkry deur ‘n agterdeur oop te breek.

Twee van die verdagtes in hul vroeë twintigs is ses uur ná die aanval naby Middelburg in hegtenis geneem. Gesteelde goedere, wapens en die voertuig is in hulle besit gekry.

Die mans het geld, vuurwapens geëis en selfone gesteel en daarna die telefoondrade afgesny voordat hulle die drie vasgemaakte vroue in die huis toegesluit het.

Louis Traut word oorleef deur sy twee dogters, Mariska en Louisa, ‘n seun, Ferdi, wat naby Richmond boer, en twee kleinkinders.

Brig. Madoda Zamkana het die flinke optrede van die polisie geprys en misdadigers gewaarsku dat geweld nie geduld gaan word nie.

Senior polisieman was gedugte teen-korrupsielid

Die Gautengse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko het die moord op ‘n senior polisiebeampte, wie se liggaam gisteroggend in ‘n veld naby Hammanskraal, noord van Pretoria gevind is, skerp veroordeel.

Generaal-majoor Tirhani Maswanganyi se hande en voete was vasgebind. Die polisie ondersoek na bewering die moontlikheid van ‘n sluipmoord.

Volgens inligting het hy talle korrupte polisiebeamptes agter tralies laat beland, wat moontlik ‘n motief vir die moord kan wees.

‘n Ondersoek na die oorsaak van sy dood is aan die gang. Mazibuko se woordvoerder, Thapelo Moiloa, sê die provinsie rou oor die moord op iemand wat sy werk getrou en met nougesetheid verrig het.

Mazibuko het haar medelye betuig met Maswanganyi se familie, vriende en sy kollegas in die Suid-Afrikaanse polisiediens.