Met alle mag het Madelyn Prinsloo van Pretoria bewys dat sy moontlik die heel sterkste vrou in Suid-Afrika mag wees.
Prinsloo het verlede Saterdag by die Grey Owl-winkelsentrum in Centurion gepoog om ‘n dubbel-as Mercedes Benz voorhakkertrok oor ‘n afstand van 20m te sleep asook ‘n 150kg buiteband 30 keer om te dop.
“Ons het aanvanklik die trok item op sy gestoot omdat die oppervlak baie glad was. Sy het daarna die buiteband omgedop, maar later besluit om ander skoene aan te trek en weer die trok aan te pak. Sy het uitstekende tyd gemaak,” het sterkman Chris Batts, die organiseerder van die dag en uitvoerende direkteur van Sport Against Crime, gesê.
Prinsloo het die trok oor ‘n afstand van 30 meter binne een minuut en 30 sekondes gesleep.
Sy het ook moontlik ‘n wêreldrekord opgestel as die eerste vrou wat ‘n 150kg buiteband 30 keer binne twee minute en 30 sekondes omgedop het.
Batts het gesê dat hy haar naam, besonderhede, foto’s, beeldmateriaal asook die nodige verklarings na Recordsetters in New York, Amerika, gaan stuur vir erkenning as ‘n wêreldrekordhouer.
“Recordsetters doen die nodige navorsing om te bepaal of hierdie item al voorheen teen ‘n beter tyd gedoen is en of al die inligting korrek ingedien is en juis is om dit as ‘n wêreldrekord te erken. Indien wel, sal ons met ‘n nuwe vroue wêreldrekord vanuit Riviera kan spog,” het ‘n trotse Batts gesê.
