Skokverhoging in brandstofprys

Die nuwe petrolprys vir Julie wat vandag aangekondig is, verteenwoordig ‘n drastiese styging weens die groot verswakking van die rand in Junie.

Motoriste sal vanaf volgende week 84c meer vir 93- en 95-oktaan petrol moet betaal en 78,2c vir diesel.

Die pryse van internasionale petroleumprodukte het ook gestyg. Die leiheffing (slate levy) is bykomend met 2,2c per liter verhoog.

93-oktaan petrol in Gauteng sal nou presies R13 per liter kos, terwyl 95-oktaan petrol aan die kus R12,86 per liter sal kos.

Diesel se groothandelprys sal sowat R12,15 in Gauteng wees, en sowat R11,89 aan die kus.

 

Obama aanvaar eregraad van UJ

Pres. Barack Obama het ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Johannesburg aanvaar, het Ihron Rensburg, die visekanselier, Vrydag aangekondig.

“Dit is vir my ‘n vreugde en ‘n plesier om namens die hele gemeenskap by die Universiteit van Johannesburg aan te kondig dat Dr Barack Obama ons nuutste alumnus is,” het Rensburg in ‘n verklaring gesê.

Dit blyk nog nie of Obama die toekenning persoonlik in ontvangs sal neem nie.

“Die seremoniële toekenning van die eredoktorsgraad aan dr Barack Obama sal plaasvind op ‘n toekomstige geleentheid op ‘n vasgestelde datum,” het die verklaring gelui.

Obama maak homself ongewild in Senegal oor gays

Barack Obama, president van die VSA, het Donderdag gesê gays en lesbiërs moet gelyk onder die wet in Afrika behandel word. Sy boodskap is met kritiek deur sy gasheer president Maki Sall van Senegal begroet.

Sall het gesê Afrika is nie gereed om homoseksualiteit te dekriminaliseer nie. Obama se boodskap is uiters ongewild op die vasteland.

Homoseksuele verhoudings is in ten minste 38 lande in Afrika onwettig.

Obama is tans in Senegal as deel van ‘n week lange besoek aan Afrika.

“My basiese siening is ongeag ras, ongeag godsdiens, ongeag geslag, ongeag seksuele oriëntasie… wanneer dit by die wet kom, moet mense gelyk behandel word,” het Obama in Dakar gesê.

Benewens Senegal sal Obama ook in Suid-Afrika en Tanzanië tyd spandeer as deel van sy week lange reis.

Hy sal vandag in Suid-Afrika aankom.

Mandela se dogter vaar uit teen die rassistiese buitelandse media

Oudpres. Nelson Mandela se dogter, Makaziwe Mandela, het in ‘n televisie-onderhoud met die SABC se Vuyo Mvoko gesê daar is ‘n rassistiese element teenwoordig by die buitelandse media.

Sy het ook uitgevaar teen die media, en gesê hulle teenwoordigheid en verslagdoening toon dat hulle nie die Mandela-gesin respekteer nie.

Sy het gesê wanneer die gesin by die hospitaal aankom, maak hulle geen moeite om aan hulle voorkeurbehandeling te gee nie.

“Weet jy, ek wil dit nie sê nie, maar ek gaan dit sê. Daar is soort van ‘n rassistiese element met baie van die buitelandse media, waar hulle net grense oorsteek. Jy het geen idee wat gebeur by die hospitaal nie. Hulle staan net daar in die middel van die straat in Parkstraat – jy kan nie in of uit by die hospitaal nie… hulle is werklik soos aasvoëls.”

Makaziwe het ook gesê die media respekteer nie Mandela se privaatheid nie en vra te veel indringende vrae oor sy toestand. Sy sê hulle sou dit nooit vir Margaret Thatcher of Ronald Reagan gedoen het nie.

Sy het aan Mvoko gesê wat aangaan by die graf en wat in Qunu bespreek is, het niks met die media uit te waai nie en dit is privaat.

“Die feit dat my pa ‘n wêreldwye ikoon is, een van die 25 invloedrykste mense van die 21ste eeu… dit beteken nie mense hoef nie sy privaatheid en waardigheid respekteer nie,” het sy gesê.

Familielede van Mandela is vroeër glo ontbied na die hospitaal in Pretoria waar hy behandel word.

“Dis veilig om te sê, ja, Tata se toestand is kritiek,” het sy gesê.

“Hy lyk nie goed nie, Vuyo, ek gaan nie jok nie.”

Sy het gesê Mandela reageer nog op sy kinders se aanraking. Hy maak soms sy oë oop as hulle by hom is, het sy gesê.

“Vir ons, as sy kinders, solank as wat hy reageer wanneer ons aan hom raak, gee dit ons hoop.”

Makaziwe het ook uitgevaar teen partye wat Mandela se beeld probeer kaap, alhoewel sy nie die DA by name genoem het nie. Sy het gesê Mandela sou nooit enige ander party as die ANC ondersteun het nie

Die DA-woordvoerder Mmusi Maimane het ‘n ruiker en blomme by die hospitaal se ingang gelê. Vroeër het die ANC ondersteuners ingebus en T-hemde met Zuma se gesig voor die hospitaal uitgedeel.

Maimane het gesê hy wil sy dankbaarheid duidelik maak vir wat Mandela gedoen het, en vir die mediese span wat hom versorg.

“Nelson Mandela is nie net die voormalige president, die bevryder nie. Daar is ‘n oorweldigende gevoel in die land wanneer almal van ons dink aan wat hier gebeur.

Zuma sal Mandela wéér besoek

Pres. Jacob Zuma sal Vrydag glo weer vir die derde keer in drie dae besoek bring aan oudpres. Nelson Mandela, het Eyewitness News berig.

Madiba se toestand is steeds kritiek, maar stabiel, het die presidensie Donderdagmiddag in ‘n verklaring gesê.

“Pres. Jacob Zuma het oudpresident Nelson Mandela vandag, 27 Junie, in die hospitaal in Pretoria besoek, en die mediese span het hom ingelig dat Madiba se toestand gedurende die nag verbeter het.

“Sy toestand is steeds kritiek, maar is tans stabiel,” het die jongste verklaring oor Mandela se toestand gelui.

Volgens Zuma het Mandela baie beter gelyk gister as toe hy hom die vorige aand gesien het.

Mandela lyk beter sê Zuma

Oudpres. Nelson Mandela se toestand het verbeter, het die presidensie Donderdag gesê.

“Pres. Jacob Zuma het oudpresident Nelson Mandela vandag, 27 Junie, in die hospitaal in Pretoria besoek, en is deur die mediese span ingelig dat Madiba se toestand deur die nag verbeter het.

“Sy toestand is steeds kritiek, maar is nou stabiel,” het ‘n verklaring deur die presidensie gelui.

Zuma het bygevoeg: “Ek het my besoek na Mosambiek vadag gekanselleer sodat ek hom kan sien en met die dokters kan praat. Hy is vandag baie beter as toe ek hom gisteraand gesien het.”

Dié uitlating was in skrille kontras met die woorde van Mandela se dogter, Makaziwe, wat Donderdag in ‘n televisie-onderhoud met die SABC se Vuyo Mvoko gesê haar pa “lyk nie goed nie”.

“Dis veilig om te sê, ja, Tata se toestand is kritiek,” het sy gesê.

“Hy lyk nie goed nie, Vuyo, ek gaan nie jok nie.”

Sy het gesê Mandela reageer nog op sy kinders se aanraking. Hy maak soms sy oë oop as hulle by hom is, het sy gesê.

“Vir ons, as sy kinders, solank as wat hy reageer wanneer ons aan hom raak, gee dit ons hoop.”

Pres. Barack Obama het oudpres. Nelson Mandela Donderdag tydens ‘n toespraak in Dakar, Senegal as ‘n “held vir die wêreld” beskryf.

Die Amerikaanse president het bygevoeg dat Mandela se nalatenskap deur die eeue sal voortleef.

“Hy is ‘n persoonlike held. Ek dink hy is ‘n held vir die wêreld,” het Obama in Dakar, Senegal gesê.

“Een ding wat ek weet is sy nalatenskap sal voortleef deur die eeue.”

Obama is tans op ‘n week lange besoek aan Afrika. Hy sal Vrydag in Suid-Afrika aankom.

Mandela kritiek, toestand versleg

Oud-president Nelson Mandela se oudste dogter, Makaziwe Mandela sê haar pa se toestand is kritiek.

Sy is deel van ‘n groot groep familielede wat by die Mediclinic Hart-hospitaal in Pretoria is waar die 94-jarige staatsman behandel word. Talle van sy kleinkinders en agterkleinkinders het ‘n rukkie gelede by die hospitaal uitgekom en die blomme en kaartjies wat deur die publiek gelaat is, opgetel en in hul motors gaan bêre.

Hulle het die publiek bedank vir die steun en aanmoediging en is daarna weer die hospitaal binne. Intussen kom al meer mense by die hospitaal aan om blomme te bring, te sing en te bid.

Boodskappe word ook geskryf op die muur by die ingang na die hospitaal. President Jacob Zuma het vroeër sy besoek aan Mosambiek afgestel weens Madiba se verslegtende toestand.

Rooi tapyt vir Obama

Suid-Afrika is gereed om die VSA se Nommer Een en sy gesin te ontvang.

Barack Obama sal in Suid-Afrika aankom en President Jacob Zuma die volgende dag ontmoet.

‘n Woordvoerder van die polisie brig. Sally de Beer het gesê dat indien paaie gesluit word, die publiek gewaarsku sal word.

“Ons sal ‘n aankondiging maak nader aan die tyd. Maar ons sal beslis probeer om alles te doen op ‘n manier wat sal veroorsaak dat daar so min ongerief as moontlik is,” sê De Beer.

Sy het gesê die polisie werk saam met Obama se sekuriteitsmense.

Gister het die Universiteit van Johannesburg berigte in die media reggestel wat aangedui het dat Obama ‘n eredoktersgraad sal ontvang.

“Die toekenning van ‘n eregraad aan President Obama nie sal plaasvind tydens Saterdag se byeenkoms nie en dit is nie op die program nie,” het die universiteit gesê.

Sommige van die universiteit se studente is van plan om te betoog teen Obama se besoek aan die Soweto-kampus van die Universiteit.

‘n Moslem-organisasie het die Amerikaanse president van “misdade teen die mensdom” beskuldig.

Sondag, sal die Obamas die Kaapstadse been van hul besoek begin deur te reis na Robbeneiland.

Dit is berig dat die voormalige Robbeneiland-gevange en ANC-veteraan Ahmed Kathrada Obama en sy gesin sal neem op ‘n toer van die gevangenis.

Maar die Ahmed Kathrada-stigting het gesê hulle is nie bewus hiervan nie.

Obama sal afgetrede Anglikaanse aartsbiskop Desmond Tutu ontmoet.

Hy sal die Masiphumeleleterrein teen MIV-Vigs, in Noordhoek, Kaapstad besoek.

Obama sal praat by die Universiteit van Kaapstad teen omstreeks 18:00 op Sondag.

Dit sal “sy hooftoespraak van die reis wees oor ons Afrika-beleid,” sê Ben Rhodes, Obama se adjunk-nasionale veiligheidsadviseur.

Lasbriewe vir Obama se inhegtenisname aangevra

Twee Suid-Afrikaanse groepe het Woensdag probeer om lasbriewe vir die inhegtenisneming van pres. Barack Obama, wat later die week die land besoek, te verkry.

Mohamed Hussain Vawda, van die Vereniging vir die Beskerming van ons Grondwet, voer aan dat Obama skuldig is aan misdade teen die mensdom.

Vawda het in ‘n beëdigde verklaring wat deur die Barberton-polisie gestempel is, gesê dat Obama direk en indirek verantwoordelik is vir die dood van meer as 3 000 mense, insluitend vroue en kinders, in lande wat “‘n bedreiging vir die VSA” is.

Hy het ook gevra dat Obama vervolg moet word weens die Amerikaanse regering se beleid oor onbemande tuie.

“Hierdie aanvalle is nie deur ‘n hof gemagtig nie,” het hy gesê.

“Daar is geen geregtelike oorsig om vas te stel of die mense inderdaad skuldig is aan enige misdade nie. Hulle word van ‘n verhoor ontneem.”

Vawda het gesê die meeste van dié slagoffers is Moslems.

Hy het nog nie ‘n reaksie van die nasionale vervolgingsgesag (NPA) ontvang nie.

Intussen het die Moslem Prokureursvereniging (MLA) ‘n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria vir Obama se inhegtenisneming ingedien.

Eyewitness News het berig dat die hof die MLA se aansoek verwerp het, omdat die saak nie werklik dringend is nie.

Die hof het nie oor die meriete van die saak ‘n uitspraak gelewer nie.

Obama sal Pretoria, Johannesburg en Kaapstad besoek. Hy sal na verwagting Vrydag in die land aankom.

Ban Ki-moon: Wêreld bid vir Mandela

Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die VN, het Woensdag gesê die wêreld bid vir Nelson Mandela terwyl hy om sy lewe veg.

Ban het Mandela “een van die reuse van die 20ste eeu” genoem by ‘n dinee in New York vir die 50ste herdenking van die sameroeping van die Organisasie vir Afrika-eenheid, wat ook ‘n rol in die stryd teen apartheid gespeel het.

“Ek weet ons gedagtes en gebede is met Nelson Mandela, sy familie en geliefdes [en] alle Suid-Afrikaners en mense oor die wêreld heen wat geïnspireer is deur sy merkwaardige lewe en voorbeeld,” het Ban gesê.

“Laat ons vandag almal dieselfde sin van doelgerigtheid hê terwyl ons werk om die welstand en geleenthede van alle Afrikane te verbeter,” het die sekretaris-generaal gesê.

Lewensondersteuningsmasjiene word gebruik om Mandela, 94, te help om asem te haal.