Oud-president Nelson Mandela se oudste dogter, Makaziwe Mandela sê haar pa se toestand is kritiek.
Sy is deel van ‘n groot groep familielede wat by die Mediclinic Hart-hospitaal in Pretoria is waar die 94-jarige staatsman behandel word. Talle van sy kleinkinders en agterkleinkinders het ‘n rukkie gelede by die hospitaal uitgekom en die blomme en kaartjies wat deur die publiek gelaat is, opgetel en in hul motors gaan bêre.
Hulle het die publiek bedank vir die steun en aanmoediging en is daarna weer die hospitaal binne. Intussen kom al meer mense by die hospitaal aan om blomme te bring, te sing en te bid.
Boodskappe word ook geskryf op die muur by die ingang na die hospitaal. President Jacob Zuma het vroeër sy besoek aan Mosambiek afgestel weens Madiba se verslegtende toestand.
