Oudpres. Nelson Mandela se toestand het verbeter, het die presidensie Donderdag gesê.
“Pres. Jacob Zuma het oudpresident Nelson Mandela vandag, 27 Junie, in die hospitaal in Pretoria besoek, en is deur die mediese span ingelig dat Madiba se toestand deur die nag verbeter het.
“Sy toestand is steeds kritiek, maar is nou stabiel,” het ‘n verklaring deur die presidensie gelui.
Zuma het bygevoeg: “Ek het my besoek na Mosambiek vadag gekanselleer sodat ek hom kan sien en met die dokters kan praat. Hy is vandag baie beter as toe ek hom gisteraand gesien het.”
Dié uitlating was in skrille kontras met die woorde van Mandela se dogter, Makaziwe, wat Donderdag in ‘n televisie-onderhoud met die SABC se Vuyo Mvoko gesê haar pa “lyk nie goed nie”.
“Dis veilig om te sê, ja, Tata se toestand is kritiek,” het sy gesê.
“Hy lyk nie goed nie, Vuyo, ek gaan nie jok nie.”
Sy het gesê Mandela reageer nog op sy kinders se aanraking. Hy maak soms sy oë oop as hulle by hom is, het sy gesê.
“Vir ons, as sy kinders, solank as wat hy reageer wanneer ons aan hom raak, gee dit ons hoop.”
Pres. Barack Obama het oudpres. Nelson Mandela Donderdag tydens ‘n toespraak in Dakar, Senegal as ‘n “held vir die wêreld” beskryf.
Die Amerikaanse president het bygevoeg dat Mandela se nalatenskap deur die eeue sal voortleef.
“Hy is ‘n persoonlike held. Ek dink hy is ‘n held vir die wêreld,” het Obama in Dakar, Senegal gesê.
“Een ding wat ek weet is sy nalatenskap sal voortleef deur die eeue.”
Obama is tans op ‘n week lange besoek aan Afrika. Hy sal Vrydag in Suid-Afrika aankom.
