Ban Ki-moon: Wêreld bid vir Mandela

Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die VN, het Woensdag gesê die wêreld bid vir Nelson Mandela terwyl hy om sy lewe veg.

Ban het Mandela “een van die reuse van die 20ste eeu” genoem by ‘n dinee in New York vir die 50ste herdenking van die sameroeping van die Organisasie vir Afrika-eenheid, wat ook ‘n rol in die stryd teen apartheid gespeel het.

“Ek weet ons gedagtes en gebede is met Nelson Mandela, sy familie en geliefdes [en] alle Suid-Afrikaners en mense oor die wêreld heen wat geïnspireer is deur sy merkwaardige lewe en voorbeeld,” het Ban gesê.

“Laat ons vandag almal dieselfde sin van doelgerigtheid hê terwyl ons werk om die welstand en geleenthede van alle Afrikane te verbeter,” het die sekretaris-generaal gesê.

Lewensondersteuningsmasjiene word gebruik om Mandela, 94, te help om asem te haal.

Maak 'n opvolg-bydrae