Swart jeug steun Malema

Een uit elke vier jong Suid-Afrikaners sal vir Julius Malema stem, die geskorste leier van die ANC-jeugliga, het ‘n opname Woensdag bevind.

“Dit is duidelik dat ‘n beduidende aantal jongmense ontevrede is met die ANC en na Julius Malema sal draai as ‘n alternatief indien hy ‘n nuwe politieke party sou stig,” het Shirley Wakefield van die navorsingsmaatskappy Pondering Panda gesê.

Altesaam 3 585 mense tussen die ouderdom van 18 en 34 het aan die opname deelgeneem.

Altesaam 35% van respondente het gesê hulle sal vir die ANC stem; 26% het gesê hulle sal vir Malema se party stem en 15% het gesê hulle sal vir die DA stem.

Altesaam 14% het egter gesê hulle sal nie stem nie, terwyl 6% vir ‘n ander party sal stem.

Sowat 35% van die mans wat aan die opname deelgeneem het, het gesê hulle sal vir Malema stem, terwyl net 18% van vroue gesê het hulle sal.

Die meeste van Malema se ondersteuning kom van jong swartes.

In ‘n aparte opname is die jeug gevra of hulle dink dit is ‘n goeie idee vir Malema om ‘n politieke party te stig.

Altesaam 40% het gesê hulle dink dit is ‘n goeie idee.

Respondente glo Malema sal meer doen om arm mense te help.

“Dit is treffend dat die mense wat Malema ondersteun voel hy sal meer regverdig as die ANC vir die mense van Suid-Afrika optree,” het Wakefield gesê.

Malema het vroeër die maand sy nuwe politieke platform, die Economic Freedom Fighters, bekend gestel.

Maak 'n opvolg-bydrae