Oudpres. Nelson Mandela word glo dmv ondersteuningsmasjiene aan die lewe gehou, het die The Citizen Woensdag berig. Sy familie is glo die keuse gegee om die masjiene te laat afskakel.
Dié berigte kon nie die deur familielede of die presidensie bevestig word nie.
Die laaste amptelike verklaring oor Mandela se toestand is Dinsdagmiddag uitgereik wat Mandela se toestand as “onveranderd” beskryf het. Dit volg op ‘n verklaring vroeër wat die voormalige staatshoof se toestand as kritiek bestempel het.
The Citizen het met “vyf hooggeplaaste bronne na aan die familie gepraat,” en hulle het bevestig dat Mandela “asem haal met die hulp van ‘n lewensondersteuning-ventilator”. Twee van dié bronne, wie se identiteit nie onthul is nie, het hom kort gelede in die hospitaal besoek.
Die voormalige president ondergaan glo ook dialise, weens sy nierversaking.
“Hy is op ‘n lewensondersteunende-ventileerder en sy nierfunksie is baie swak. Hy is in ‘n kritieke toestand, maar ‘n hele span dokters, wat ‘n hartspesialis, longspesialis, nierspesialis en ‘n hoofkonsultant insluit, versorg hom,” het die bron aan The Citizen gesê.
