Pres. Jacob Zuma het sy beplande besoek aan Mosambiek gekanselleer, het die presidensie Woensdag gesê.
Zuma het oudpres. Nelson Mandela Woensdag omstreeks 22:00 in die hospitaal in Pretoria besoek waar hy behandel word, en het by monde van sy woordvoerder, Mac Maharaj, gesê sy toestand is steeds kritiek.
“Pres. Zuma is deur dokters ingelig en hulle doen steeds alles wat hulle kan om sy [Mandela se] welstand te verseker.
“Pres. Zuma het besluit om sy besoek aan Maputo, Mosambiek vir môre, 27 Junie, te kanselleer, waar hy ‘n beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap oor streeks-infrastruktuurbeleggings moes bywoon.”
Mandela, 94, is op 8 Junie in die Mediclinic-harthospitaal in Pretoria opgeneem.
