Twee Suid-Afrikaanse groepe het Woensdag probeer om lasbriewe vir die inhegtenisneming van pres. Barack Obama, wat later die week die land besoek, te verkry.
Mohamed Hussain Vawda, van die Vereniging vir die Beskerming van ons Grondwet, voer aan dat Obama skuldig is aan misdade teen die mensdom.
Vawda het in ‘n beëdigde verklaring wat deur die Barberton-polisie gestempel is, gesê dat Obama direk en indirek verantwoordelik is vir die dood van meer as 3 000 mense, insluitend vroue en kinders, in lande wat “‘n bedreiging vir die VSA” is.
Hy het ook gevra dat Obama vervolg moet word weens die Amerikaanse regering se beleid oor onbemande tuie.
“Hierdie aanvalle is nie deur ‘n hof gemagtig nie,” het hy gesê.
“Daar is geen geregtelike oorsig om vas te stel of die mense inderdaad skuldig is aan enige misdade nie. Hulle word van ‘n verhoor ontneem.”
Vawda het gesê die meeste van dié slagoffers is Moslems.
Hy het nog nie ‘n reaksie van die nasionale vervolgingsgesag (NPA) ontvang nie.
Intussen het die Moslem Prokureursvereniging (MLA) ‘n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria vir Obama se inhegtenisneming ingedien.
Eyewitness News het berig dat die hof die MLA se aansoek verwerp het, omdat die saak nie werklik dringend is nie.
Die hof het nie oor die meriete van die saak ‘n uitspraak gelewer nie.
Obama sal Pretoria, Johannesburg en Kaapstad besoek. Hy sal na verwagting Vrydag in die land aankom.
