ANC grawe in vir 2014

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe het Mamphela Ramphele se stelling dat die kiesers nie deur vrees gelei moet word nie verwerp.

“Ek wil nie met Mamphela praat nie want sy is aan die stuur van ‘n politieke party wat sy probeer om op te rig. Ek gaan haar nie help om dit te bou nie.

“As sy besluit om ‘n politieke party te stig, sal sy in die veld speel en die veld gaan rof wees op haar, want dit is rof op ons.”

Verlede week het die ANC se Gauteng-sekretaris David Makhura gesê die party beplan ‘n “verkiesingsoorlogkantoor”.

Hy het gesê hulle sal die getal vrywilligers verdriedubbel van 10.000 tot 30.000 in voorbereiding vir aanstaande jaar se verkiesing.

“Ons gaan spesiale aandag skenk aan die jeug en die middelklas in voorstede en townships regoor die provinsie,” het hy gesê.

Die nasionale verkiesings volgende jaar sal ‘n toets vir die ANC wees. Navorsing het aangedui dat die party sy greep op jong Suid-Afrikaners verloor.

Die Mail & Guardian het onlangs berig dat ‘n ANC-opname aan die lig gebring het dat daar ‘n groeiende afstand tussen die party en sy ondersteuners is.

Binnegevegte, korrupsie onder senior party-leiers, swak dienslewering, werkloosheid en ongelykhede, het die opname bevind, het die middelklas en die rykes uit die party laat dros.

Die opname het ook bevind dat die werklose jeug, wat meer as die helfte van Suid-Afrika se bevolking uitmaak, maklik beïnvloed kan word om te stem vir opposisiepartye.

Die ANC het onderneem om ‘n wydverspreide skoonmaakkasie te onderneem om swak dissipline en faksievorming voor volgende jaar se verkiesings uit te roei.

Witbank het vuilste lug ter wêreld

Die vlak van chroom en barium, twee gifgasse in die lug in Witbank is so hoog dat ‘n multidissiplinêre navorsingspan van die EU dit nie eens kon meet nie.

‘n Navorsingspan van die EU en ook Israel het €4 miljoen (sowat R48 miljoen) vir die navorsing bewillig om die impak van steenkoolvelde in die opvangsgebied van die Bo-Olifantsrivier te monitor.

Lees meer.

Mandela-dogters pak Bizos in hofgeding

Adv. George Bizos het aangedui dat hy oudpres. Nelson Mandela se dogters se bewerings van wangedrag teen hom in die hof gaan teenstaan.

Bizos het Dinsdag dokumente by die Johannesburgse hooggeregshof ingedien – nege dae nadat Mandela se dogters, Makaziwe en Zanani die bewerings teen hom gemaak het, het The Star berig.

‘n Verstekvonnis sal teen Bizos, Bally Chuene en Tokyo Sexwale, minister van huisvesting, uitgereik word indien hulle nie dokumente om die saak te betwis, betyds indien nie.

“Ons het op 23 April kennisgewings ingedien dat ons kliënte [die bewerings] gaan teenstaan,” het Lisa Thomas van die regsfirma Norton Rose, wat names hulle optree, aan die koerant gesê.

Thomas het gesê dokumente sal volgende maand ingedien word. Sodra dié dokumente ingedien is, sal ‘n datum vir die verhoor bekend gemaak word.

Mandela se dogters het die hof gevra om ‘n bevel uit te reik om Bizos, Chuene en Sexwale te beveel om hul direkteurskappe in Harmonieux Investment Holding en Magnifique Investment Holding te beëindig.

Die susters beweer die drie het verskeie geskrewe versoeke geweier om te bedank.

Opposisie sal Grondwethof nader oor Inligtingswet

Die Wetsontwerp op die Beskerming van inligting is Donderdag deur die parlement met 189 stemme teen 74 en een wat buite stemming gebly het, goedgekeur, het EWN berig.

Pres. Jacob Zuma sal die wet bekragtig, alhoewel regte-organisasies sê daar is steeds ‘n gebrek aan deursigtigheid in die openbare belang.

Murray Hunter van die Right2Know-veldtog het vroeër gesê die publiek is uitgesluit endit sal magshebbers help om korrupsie toe te smeer.

“Indien die wetsontwerp in sy huidige vorm bekragtig word, sal ons regstappe doen en indien nodig, sal ons die konstitusionele hof nader.”

Die waarnemende direkteur-generaal van staatsveiligheid, Dennis Dlomo, het die wetsontwerp verdedig as “gebalanseerd”.

Dr Pieter Mulder sê egter die Vryheidsfront Plus ondersteun opposisie samewerking om die Wetsontwerp na die Konstitusionele Hof te bring.

Mulder is onlangs deur ‘n buitelandse joernalis gevra watter land in Afrika die sterkste opposisie het. Volgens hom het Zimbabwe die sterkste opposisie in Afrika volgens sekere definisies, omdat die MDC 100 setels teenoor die 99 setels van Mugabe se Zanu-PF en 10 sitplekke van Alfred Mutambara se MDC2 het.

Om te bepaal hoe demokratiese ‘n land is, het Robert Dahl in sy boek Political Oppositions and Democracy, na drie kernvrae verwys:

1. Word alle mense toegelaat om te stem?

2. Is die opposisie verteenwoordig in die Parlement na ‘n verkiesing?

3. Kan ‘n opposisie en die publiek hul menings lug en organiseer teen die regering?

Mulder het gewys daarop dat Zimbabwe almal toelaat is om te stem, die opposisie toelaat in die Parlement, asook om te organiseer teen die bestel.

Zimbabwe word nogtans beskou as ondemokraties omdat demokratiese instrumente soos ‘n vrye pers en die beskerming van fluitjieblasers nie bestaan nie.

Mulder het gesê as hierdie instrumente nie werk nie of afgewater word, dan begin die pad na diktatorskap.

Swart jeug glo DA sal apartheid terugbring

Die ANC in die Wes-Kaap het Woensdag gesê swart jeugdiges is reg as hulle sê dat die DA apartheid sal terugbring indien die party aan bewind kom.

Volgens ‘n opname wat Dinsdag vrygestel is, het 54% van swart jeugdiges gesê die DA sal apartheid terugbring indien hulle die verkiesing in 2014 wen.

Altesaam 26% Indiërs, 21% bruinmense en 19% respondente het saamgestem. Altesaam 30 009 mense tussen die ouderdom van 15 en 34 het deelgeneem aan die selfoonopname wat deur die verbruikersmaatskappy Pondering Panda gedoen is.

Van die respondente glo 46% dat die DA apartheid sal terugbring, terwyl 36% nie saamgestem het nie en 18% onseker is.

Op die vraag oor of die ANC-regering omgekeerde apartheid ingestel het, het 45% van die jeugdiges die gedagte verwerp, 40% het saamgestem en 15% was onseker.

“Die wysheid van die jeugdiges is duidelik,” het die ANC in die Wes-Kaap in ‘n verklaring gesê.

“In die Wes-Kaap en munisipaliteite waar hy regeer, het die DA presies dit gedoen.”

Die ANC het gesê swart ondernemings word uitgesluit van regeringskontrakte, wit manlike bestuurders geniet voorkeur vir alle aanstellings en swakker dienste word gelewer in swart en bruin woongebiede.

“Gelukkig is die jeug van vandag meer gesofistikeerd en weet dat ‘n jakkals nooit sy streke los nie,” het Marius Fransman, ANC-voorsitter in die Wes-Kaap, gesê.

Driepunt is waarlik ‘n ster!

Wanneer ‘n mens aan sportmotors dink, kom name soos Porsche, Ferrari en Lotus by jou op. Mercedes het wel ‘n paar rasegte sportmotors, maar niks wat regtig aardskuddende emosie by ‘n mens ontlok nie.

So paar jaar gelede het die Duitse ombouingsmaatskappy AMG deel geword van Mercedes en soos altyd was dit met positiewe ywer aangepak. Gewone motors wat daar in monsters omgebou word met regte werkverrigting en ‘n klankstelsel sal enige mens met petrol in sy are sal laat regop sit.

Ons het die kans gehad, om só ‘n ombouing, die nuwe SLK 55 AMG, vir ‘n paar dae onderhande te neem.

Van buite

Die SLK is die kleiner weergawe van die magtige SL en ook die motor wat Mercedes so paar jaar gelede weer in ‘n modegier omskep het. Die dak is anders as afslaandakmotors van ouds en vou in twee dele om as ‘n geheel in die begasieruim te pas. Die nuwe SLK is groter, meer aggresief en dan ook heelwat mooier en sagter op die oog as enige van die vorige generasies. In AMG-gewaad bult die SLK spiere met swart insetsels en aggresiewe wiele.

Verrigting

Mercedes se SLK 55 AMG is toegerus met ‘n 5,5 liter V8-enjin wat 310Kw en 540Nm ontwikkel. Al die krag word na die agterwiele toe deurgegee en veroorsaak dat hierdie relatiewe klein motortjie van rus tot 100km/u in slegs 4.6 sekondes versnel. Dit is byna ‘n sekonde vinniger as die Porsche Boxter se 3,4 en 0,2 sekondes vinniger as die SLK se ou aartsvyand die BMW Z4 sDrive35iS. Oudergewoonte word die maksimumsnelheid tot 250km/u beperk, maar sonder die beperking sal die SLK se asem gemaklik anderkant 300km/u eers opraak.

Bougehalte en waarde

In egte Mercedesstyl is die SLK se boukwaliteit van uitstaande gehalte en alles is so te sê perfek ontwerp en geplaas presies waar die insittendes dit nodig het. Luukse leer is regdeur die kajuit gebruik en AMG-insetsels laat jou mooi verstaan waar jy nou eintlik sit. Teen net so duskant R1 miljoen rand is die SLK 55 AMG beslis nie bekostigbaar vir die meeste van ons nie, maar dit is dan ook glad nie die meeste van ons wat genoeg geld verdien om so ‘n ryding te kan koop nie. Die SLK is byna R100 000 duurder as die BMW Z4 en Audi se TT RS, maar hy is ook baie vinniger en meer eksklusief as die ander twee Duitsers.

Bevinding

Ons sê maar niks oor die brandstofverbruik nie, want dit is ‘n V8 met drukaanjaer en as jy vra hoe lig is hy op brandstof dan moet jy hom liefs nie koop nie. Ons dink in elk geval mense wat die motor se pryskaartjie kan bekostig sal glad nie bekommerd wees oor sy brandstofverbruik nie, terloop hy is ligter op die sak as beide die BMW of die Audi. Neem eers al drie vir ‘n toetsrit voor jy ontslae raak van jou hardverdiende geldjies.

Ons sal die Mercedes SLK 55 AMG ‘n hele 4 uit 5 gee net omdat dit soveel meer bied as net wat jy voor jou sien!

SEB, die verskil tussen lewe en dood

“Ons kan nie toelaat dat SEB-Kodes wat nie bestaan nie, bepaal wie lewe en wie sterf nie”, sê Jean Kriek, VF Plus Jeugleier, Gauteng.

Dit volg na aanleiding van die publisering van die gewysigde SEB-kodes deur die minister van Handel en Nywerheid, mnr Rob Davies verlede jaar in die Staatskoerant wat stipuleer dat maatskappye en individue geen SEB-punte sal ontvang vir skenkings aan Nie-Winsgewende Organisasies (NWO’s) wat nie grootliks dienste lewer aan voorheen benadeelde groepe nie.

Volgens Kriek is onherstelbare skade reeds aangerig aan die welstand van die mees weerlose mense.

Na druk van die burgerlike samelewing en ‘n versoek gerig aan mnr Davies deur Adv Anton Alberts, VF Plus LP, in die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid om die wysigings te heroorweeg, is die voorgestelde SEB-kodes intussen teruggetrek.

“Die koeël is egter deur die kerk. Met die publisering van die gewysigde SEB-kodes het verskeie maatskappye en individue skenkings aan NWO’s gestaak. Hierdie fondse is nou verlore en beïnvloed die dag-tot-dag bestaan van mense wat afhanklik is van NWO-dienste”, sê Kriek.

Die Jakaranda Kinderhuis in Pretoria is ‘n duidelike voorbeeld van ‘n NWO wat deur die publikasie skade gely het. “‘n Skenker het ‘n beloofde R100 000 (honderd duisend rand) weerhou agv die gewysigde Kodes. Karige staatstoelae noodsaak NWO’s om te steun op skenkings vanuit die privaatsektor. ‘n Finansiële verlies van sò aard belemmer die funksionering van die kinderhuis”, het Kriek verder gesê

Die stand van sake het die VF Plus Jeug in Gauteng genoodsaak om ‘n beroep te doen op mnr. Davies om ‘n amptelike ministeriële skrywe te rig aan alle NWO’s om die feite reg te stel. “Ons gaan mnr Davies versoek om skenkers in kennis te stel dat die voorgestelde SEB-kodes van 2012 nie geld nie. Dit sal skenkers weer in staat stel om Jakaranda Kinderhuis te ondersteun soos vroeër”, het Kriek verduidelik.

Storting knou SA-hoenderbedryf

“Storting” is roofprysvasstelling veral in die konteks van internasionale handel wanneer vervaardigers ‘n produk uitvoer na ‘n ander land teen ‘n prys óf onder die prys in sy tuismark, of in hoeveelhede wat nie deur normale markkompetisie verduidelik kan word nie.

Goedkoop hoender veral uit Brasilië en Europa word tans in Suid-Afrika gestort. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het aan Sake24 gesê: “Suid-Afrika se handelsgrense is so oop dat produkte die land inkom teen ‘n invoertarief van 0.”

In Oktober verlede jaar is 48 000 ton hoender en hoenderprodukte ingevoer wat kort voor die feestyd op die winkelrakke beland het.

“Dit is gelykstaande met 8 miljoen hoenders wat per week ingevoer is. Suid-Afrika se hele bedryf produseer 19,5 miljoen hoenders per week.”

Die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf is tans ‘n krisis gedompel weens invoere van goedkoop hoenderprodukte in groot hoeveelhede uit die buiteland.

Die landboumaatskappy Afgri se aandeelprys het met byna 6% tot R4,80 getuimel nadat waarskuwings oor ‘n daling in sy wesensverdienste van 25% en 40% aangekondig is.

Twee ander plaaslike hoendergroepe, Astral Foods en Rainbow Chicken, sukkel ook. Rainbow Chicken se wesensverdienste per aandeel het van 68,4c tot 17,8c verswak.

Astral het vroeër gesê sy wesensverdienste per aandeel in die ses maande tot einde Maart sal tussen 75% en 95% swakker wees as in die vergelykende halfjaar.

Afgri het die storting van pluimveeprodukte en die stygende insetkoste van voer vir sy probleme verkwalik.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) het vroeër aangedring op verdere maatreëls om die plaaslike bedryf te beskerm teen die storting van goedkoop hoendervleis uit veral Brasilië. Die Suid-Afrikaanse kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) doen ondersoek na die situasie.

 

Okosa gee groenlig vir porno op TV

TopTV se aansoek om pornografie uit te saai is goedgekeur, het Channel24 berig.

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het die groenlig gegee. Geen datum is gegee vir wanneer die uitsendings sal begin nie.

“Daar is geen wet wat die vervaardiging en verspreiding van volwasse inhoud in die Republiek verbied nie,” het Okosa gesê.

Okosa het Woensdag aangekondig dat On Digital Media (ODM), wat TopTV besit, se aansoek om drie pornografiese kanale uit te saai, goedgekeur is.

Die Playboy TV, Desire TV en Private Spice-kanale sal tussen 20:00 en 05:00 uitgesaai word.

TopTV, wat al geruime tyd finansiële probleme het, hoop dié kanale kan help om meer intekenare te lok.

 

Dodelikste griepvirus nou buite China ook

Kenners wat China se dodelike H7N9-voëlgriepvirus internasionaal ondersoek, het Woensdag gesê dit is “een van die dodelikste griepvirusse” wat hulle tot dusver gesien het.

Die eerste geval buite China is Woensdag in Taiwan bevestig.

China het 108 gevalle en 22 sterftes bevestig sedert die eerste infeksies op 31 Maart aangemeld is. Taiwan het Woensdag sy eerste infeksie bevestig by ‘n man wat onlangs teruggekeer het nadat hy in die ooste van China, waar die meeste gevalle aangemeld is, gewerk het.

“Hierdie is vir seker een van die dodelikste griepvirusse wat ons tot dusver gesien het,” het Keiji Fukuda, een van die voorste griepkenners van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), gesê.

Fukuda het aan ‘n nuuskonferensie gesê dat die H7N9-virus makliker oorgedra word as die meer algemene H5N1-stam van die voëlgriepvirus.

“Ons dink hierdie virus is makliker oordraagbaar na mense as H5N1,” het hy gesê in verwysing na die stam wat volgens die WGO sedert 2003 meer as 360 mense wêreldwyd geëis het.

“Wanneer ons na griepvirusse kyk, is hierdie ‘n ongewoon gevaarlike virus,” het hy gesê, maar het bygevoeg: “Ons is regtig nog in die beginstadium.”

Taiwannese gesondheidsbeamptes het gesê hul eerste geval, ‘n 53-jarige man wat in die oostelike Chinese stad Suzhou gewerk het, het drie dae nadat hy via Sjanghai na Taiwan teruggekeer het simptome getoon.

Chiu Wen-ta, China se minister van gesondheid, het aan verslaggewers gesê die pasiënt het beweer dat hy nie in kontak was met pluimvee nie en dat hy nie halfgaar voëls of eiers geëet het terwyl hy in Suzhou was nie.