Kenners wat China se dodelike H7N9-voëlgriepvirus internasionaal ondersoek, het Woensdag gesê dit is “een van die dodelikste griepvirusse” wat hulle tot dusver gesien het.
Die eerste geval buite China is Woensdag in Taiwan bevestig.
China het 108 gevalle en 22 sterftes bevestig sedert die eerste infeksies op 31 Maart aangemeld is. Taiwan het Woensdag sy eerste infeksie bevestig by ‘n man wat onlangs teruggekeer het nadat hy in die ooste van China, waar die meeste gevalle aangemeld is, gewerk het.
“Hierdie is vir seker een van die dodelikste griepvirusse wat ons tot dusver gesien het,” het Keiji Fukuda, een van die voorste griepkenners van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), gesê.
Fukuda het aan ‘n nuuskonferensie gesê dat die H7N9-virus makliker oorgedra word as die meer algemene H5N1-stam van die voëlgriepvirus.
“Ons dink hierdie virus is makliker oordraagbaar na mense as H5N1,” het hy gesê in verwysing na die stam wat volgens die WGO sedert 2003 meer as 360 mense wêreldwyd geëis het.
“Wanneer ons na griepvirusse kyk, is hierdie ‘n ongewoon gevaarlike virus,” het hy gesê, maar het bygevoeg: “Ons is regtig nog in die beginstadium.”
Taiwannese gesondheidsbeamptes het gesê hul eerste geval, ‘n 53-jarige man wat in die oostelike Chinese stad Suzhou gewerk het, het drie dae nadat hy via Sjanghai na Taiwan teruggekeer het simptome getoon.
Chiu Wen-ta, China se minister van gesondheid, het aan verslaggewers gesê die pasiënt het beweer dat hy nie in kontak was met pluimvee nie en dat hy nie halfgaar voëls of eiers geëet het terwyl hy in Suzhou was nie.
