Marikana: Wit polisieman moet blaam dra

Mynwerkers wat by Lonmin se Marikana-myn in hegtenis geneem en beseer is, sal aanvoer dat die wit hoof van die polisie se taktiese span met hul kollegas se dood verbind word, het die Farlam-kommissie van ondersoek Dinsdag gehoor.

Adv. Dali Mpofu, namens beseer­de mynwerkers en dié wat in hegtenis geneem is, het maj. genl. Charl Annandale, hoof van die taktiese span, kruisondervra.

“Een van die goed wat ons sal aanvoer is dat jy, Annandale, ‘n groot rol gespeel het in die gebeure wat tot die Marikana-slagting gelei het,” het hy gesê.

Altesaam 34 stakende mynwerkers is doodgeskiet en 78 beseer toe die polisie naby Lonmin se Marikana-myn begin skiet het.

Tien mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee sekuriteitswagte, is die vorige week naby die myn dood.

Grensbeamptes wat duisende deurlaat, vas

Nege polisiebeamptes en sewe ander mense is Dinsdag vir bedrog en korrupsie by die Caledonspoort-grenspos in hegtenis geneem, het die Valke gesê.

Volgens kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, was ses uit die sewe immigrasie-beamptes en een ‘n beampte van die departement van gesondheid.

Die beamptes het mense van Lesotho sonder die nodige dokumente oor die grens tot in Suid-Afrika laat kom deur hulle R150 elk te vra.

“In sommige gevalle het taxibestuurders ook teen ‘n fooi van R150 paspoorte by die grenspos afgelaai om stempels te kry sodat die paspoorthouers langer in Suid-Afrika kon bly,” het hy gesê.

“Dit word al vir ‘n lang tyd georkestreer. Die beamptes het meer as R100 000 ‘n dag gemaak. In een geval het die beamptes R200 000 gedeel.”

Hy het gesê mense sonder paspoorte het in ‘n bus by die grens opgedaag, waarna ‘n polisiebeampte op die bus sou klim en hulle tel.

“Elke persoon is R150 of R200 gevra en daarna was die bus toegelaat om Suid-Afrika binne te gaan.”

Besonderhede oor wanneer hulle in die hof sal verskyn was nog onbekend.

Trompsburgmoordenaars kry lewenslamk

‘n Tweede man is Dinsdag in die Bloemfontein-hooggeregshof twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op ‘n Vrystaatse boer en sy vrou.

Regter Albert Kruger het Nkululeko Mvumvu (26), van Trompsburg, een lewenslange vonnis vir elk van die moorde opgelê. Mvumvu het Johannes Fourie (71) en sy vrou Cecelia (72) verlede jaar op hul plaas Knoppe vermoor.

Hulle is op 9 September 2012 met ‘n byl en graaf aangeval en is daarna geskiet.

Kruger het gesê die aantal wonde wat die Fouries opgedoen het, toon dat hulle erg gemartel was.

“Dit is moeilik om te verstaan hoekom dit gedoen is,” het Kruger gesê.

Die regter het bevind dat die aard, erns, en sinneloosheid van die misdaad alle versagtende omstandighede wat namens Mvumvu voorgelê is, oorskadu.

Mvumvu is vroeër skuldig bevind op al vyf aanklagte – twee van moord, een van huisbraak met die doel om te steel en twee aanklagte wat verband hou met die besit van vuurwapens en ammunisie.

Mvumvu se medepligtige, Moeketsi Hlaasa, wat ook van Tromppsburg is, is in ‘n aparte verhoor ook twee lewenslange vonnisse opgelê vir dieselfde misdaad.

Regter Faan Hancke het Hlaasa (27) tot ‘n verdere 15 jaar tronkstraf gevonnis vir huisbraak met die doel om te roof en 15 jaar vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

Hancke het gesê dat hulle verskeie kopbeserings opgedoen het, wat ‘n aanduiding is dat hulle oor ‘n tydperk aangerand en daarna doodgeskiet is.

“Daar was geen aanduiding dat dit uit wraak of uitlokking gedoen is nie en dit is nie gedoen om hulle buite aksie te stel nie.”

Hlaasa se saak is Maandag afsonderlik hanteer. Sy mede-beskuldigdes, Nkululeko Mvumvu (26) en Phineas Mothibi (29), is apart verhoor.

Trompsburgmoordenaars kry lewenslank

‘n Tweede man is Dinsdag in die Bloemfontein-hooggeregshof twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord op ‘n Vrystaatse boer en sy vrou.

Regter Albert Kruger het Nkululeko Mvumvu (26), van Trompsburg, een lewenslange vonnis vir elk van die moorde opgelê. Mvumvu het Johannes Fourie (71) en sy vrou Cecelia (72) verlede jaar op hul plaas Knoppe vermoor.

Hulle is op 9 September 2012 met ‘n byl en graaf aangeval en is daarna geskiet.

Kruger het gesê die aantal wonde wat die Fouries opgedoen het, toon dat hulle erg gemartel was.

“Dit is moeilik om te verstaan hoekom dit gedoen is,” het Kruger gesê.

Die regter het bevind dat die aard, erns, en sinneloosheid van die misdaad alle versagtende omstandighede wat namens Mvumvu voorgelê is, oorskadu.

Mvumvu is vroeër skuldig bevind op al vyf aanklagte – twee van moord, een van huisbraak met die doel om te steel en twee aanklagte wat verband hou met die besit van vuurwapens en ammunisie.

Mvumvu se medepligtige, Moeketsi Hlaasa, wat ook van Tromppsburg is, is in ‘n aparte verhoor ook twee lewenslange vonnisse opgelê vir dieselfde misdaad.

Regter Faan Hancke het Hlaasa (27) tot ‘n verdere 15 jaar tronkstraf gevonnis vir huisbraak met die doel om te roof en 15 jaar vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

Hancke het gesê dat hulle verskeie kopbeserings opgedoen het, wat ‘n aanduiding is dat hulle oor ‘n tydperk aangerand en daarna doodgeskiet is.

“Daar was geen aanduiding dat dit uit wraak of uitlokking gedoen is nie en dit is nie gedoen om hulle buite aksie te stel nie.”

Hlaasa se saak is Maandag afsonderlik hanteer. Sy mede-beskuldigdes, Nkululeko Mvumvu (26) en Phineas Mothibi (29), is apart verhoor.

ANC ondersoek aanval op Wes-Kaap se partyvoorsitter

Die ANC sê die mislukte aanval op Marius Fransman, voorsitter van die party in die Wes-Kaap, sal ondersoek word.

Phillip Dexter, provinsiale woordvoerder, het in ‘n verklaring gesê die party sal stappe neem teen die skuldiges.

Die Cape Times het verlede week berig dat sowat 50 inwoners van Oudtshoorn in die Wes-Kaap, die openbare politieke figuur probeer aanval het.

Fransman is verlede week ná ‘n vergadering op die dorp oorrompell.

Hy het aan die Cape Times gesê die vergadering – by die munisipaliteitsgebou op Oudtshoorn – was deur sy mandaat vereis. Hy moes korrektiewe maatreëls in plek te stel om stabiliteit op die dorp te bewerkstellig.

Terwyl hy sekere probleme met aanstellings by die plaaslike raad aangespreek het, het hy na bewering sommige besluite geneem wat inwoners omgekrap het.

“Teen omtrent 21:00 het ‘n bende – kom ek noem hulle booswigte – van sowat 50 mense buite [die gebou] saamgedrom. Hulle was besig om die vensters en glas te breek om binne te probeer kom…” het hy aan die koerant gesê.

“Toe ek buite gaan, het een ou en drie ander op my toegesak, maar my sekuriteit het gekeer dat hulle my slaan.”

Fransman is toe na sy motor geneem en uit die dorp vergesel.

Minstens vier mense is in hegtenis geneem, onder andere Hein Coetzee, ‘n joernalis vir Die Son.

Volgens die verslaggewer het polisiebeamptes en betogers hom aangerand.

Coetzee het aan die Cape Times gesê hy het ‘n foto geneem van ‘n polisiebeampte wat iemand aangerand het. Die beampte het hom na bewering gesien en pepersproei in sy gesig gespuit.

Die joernalis het later die beampte gekonfronteer en hom gevra hoekom hy hom gespuit het.

Daarna het die polisiebeampte na bewering sy kamera gevat, die geheuekaart verwyder en hom in hegtenis geneem op aanklag van crimen injuria.

Coetzee is kort daarna vrygelaat en het klagte van aanranding en diefstal teen die polisie aanhangig gemaak.

Student in Zille se kantoor doogeskiet

‘n 18-jarige student in die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se kantoor, en sy vriendin is doodgeskiet, is Dinsdag berig.

Jarryd Manuel en sy 19-jarige vriendin, Megan Hendricks, is Saterdagaand buite sy ma se huis in Delft doodgeskiet, berig die Cape Argus.

Kapt. Frederick van Wyk het aan die koerant gesê ‘n 19-jarige man is in verband met die skietery ondervra.

Manuel was ‘n PAY-projek (Premier’s Advancement of Youth)-student in die premier se departement.

“Dit is ‘n tragiese en sinnelose dood wat benadruk hoe ernstig die krisis van bendegeweld is,” het Zille aan die koerant gesê.

“Jarryd kon ongetwyfeld ‘n suksesvolle loopbaan bou vir homself deur die geleentheid te gebruik wat sy internskap gebied het.”

Zille het haar medelye met die twee se gesin en vriende uitgespreek.

Die voorsitter van Delft se polisiëringsforum, Reggie Maart, het gesê daar was onlangs ‘n toename van skietvoorvalle in die gebied. Minstens vyf mense is sedert verlede Maandag dood en twee gewond.

Nog ‘n Britse kindermolesteerder vas

Die bekende Britse komediant Jimmy Tarbuck het die jongste glanspersoonlikheid geword om in verband met die seksuele mishandeling van kinders in hegtenis geneem te word, het die media Dinsdag berig.

Die polisie in North Yorkshire het bevestig dat ‘n 73-jarige man in Kingston upon Thames op 26 April in hegtenis geneem is.

Die Daily Mail het die man Dinsdag as Tarbuck geïdentifiseer.

Hy is op borgtog vrygelaat nadat die polisie hom ondervra het oor aantygings dat ‘n jong seun in die sewentigerjare mishandel is.

Die arrestasie is gemaak na inligting aan die polisie oorhandig is deur beamptes wat aan Operation Yewtree werk.

Operation Yewtree is die ondersoek wat geloods is na ‘n reeks aantygings van seksuele mishandeling teen die ontslape BBC-aanbieder Jimmy Savile gemaak is.

Die polisie hou egter vol dat die arrestasie nie te make het met Operation Yewtree nie en dat dit ‘n aparte ondersoek is.

Tarbuck is bekend daarvoor dat hy die Sunday Night at the London Palladium-program aangebied het.

Savile, wat verlede jaar op die ouderdom van 84 oorlede is, is daarvan beskuldig dat hy meer as ‘n 100 slagoffers oor ‘n tydperk van 40 jaar mishandel het.

Meisie kort voor 21ste geskiet vir selfoon

Die twintigjarige meisie van Centurion, wat voor haar suster doodgeskiet is vir ‘n selfoon, sou verlede week haar 21ste verjaarsdag gevier het.

Nadine Prinsloo wat verlede week vermoor is, sou Saterdag wat verby is, haar 21ste verjaarsdag vier, het haar gesin gesê.

Nadine is deur twee gewapende rowers in haar kop geskiet nadat sy, haar suster Simone (22), en ʼn vriend by die Pretoria-Wes afrit op die N14-snelweg stilgehou het om telefonies aanwysings by hul pa te bekom.

Twee rowers het op hulle afgestorm en selfone geeis. Voordat dié drie enige iets kon doen, het die rowers skote op hulle afgevuur. Nadine is in haar kop en sy getref. Een van die koeëls het Simone op haar vinger getref, het die dogters se ma, Karin Prinsloo vertel.

Simone het direk na die Unitas-hospitaal gejaag, maar Nadine was met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

“Ons is nog nie seker wat ons op Nadine se verjaarsdag gaan doen nie. Vriende en familie gaan oorkom vir die dag,” het ‘n steeds getraumatiseerde Karin aan Looklocal gesê.

Nadine is Maandag begrawe.

Bye verlaat Laeveld

Byeboere is bekommerd oor die verdwyning van bye in die Laeveld.

Heuningbye vind Mpumalanga nie meer aantreklik nie. Só is gesê tydens ‘n vergadering verlede week by die Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse (ITSG).

Belangrike rolspelers het, volgens die vergadering-leier, mnr. Fred Bence, op 23 April die toestand van heuningbye onder die loep geneem. Bence is ‘n byeboer van Witrivier. Die kundiges wat bekommerd genoeg oor die situasie is om bymekaar te kom sluit rolspelers van natuurbewaring, bos- en landbou (insluitende boere, navorsers, bemarkers, en chemiese kenners) in.

“Die afname in byeswerms in die natuur van Mpumalanga word op 80% geraam teenoor die jaar 2000. Die hoofoorsaak is dat Mpumalanga as ‘n provinsie nie meer aantreklik is vir die heuningbye nie,” verduidelik Bence. Bye se kos bestaan uit nektar, stuifmeel en water en dit is, soos die byeboer dit beskryf, by die nektar waar die probleem lê. In die Laeveld het die natuurlike habitat min bome en onkruid wat nektar gee terwyl stuifmeel meer beskikbaar is.

Bence sê, “Die natuurlike bome wat van nut is vir die bye, blom amper almal in die lente en ook net vir ‘n kort periode.”

‘n Groot uittog van heuningbye uit Mpumalanga vind jaarliks in die tydperk November tot Januarie plaas as gevolg van ‘n skaarste aan kos. “Hierdie is nie ‘n nuwe verskynsel nie, want sedert 1965 is dit die rede hoekom byeboere hul getal byeswerms jaarliks moet aanvul,” deel Bence mee, maar hy sê dat die mate waarmee die byeboere deesdae sukkel om byeswerms te vang uit die natuur, gemeet teenoor die 1980’s en vroeër, dui op ‘n verslegtende toestand in Mpumalanga se biodiversiteit. Mpumalanga se trekswerms kom hoofsaaklik van Tanzanië en Mosambiek. In die verlede het hierdie trekswerms, vergelykbaar met, byvoorbeeld, die trek van wild in Etosha, na Mpumalanga gestroom omrede die tipe bloekombome desjare baie nektar sowel as stuifmeel gegee het, vertel Bence.

Hy meen dat die gwrandisbloekoms se klone en kruisings daaruit wat deesdae geplant word vêr tekortskiet in terme van kos vir die bye. Die gevolg is dat die trekswerms by Mpumalanga verby trek na Noord-Natal waar hul tipe bloekoms baie byeswerms kan onderhou.

“Gemeet teenoor die tydperk voor 1890, waarna bloekoms op groot skaal aangeplant is, is Mpumalanga se biodiversiteit dalk op dieselfde vlak as destyds,” is Bence se mening, maar die verskil in landbou-intensiteit in die gebied word ‘n probleem as bestuiwing nie na wense kan geskied nie.

Hy verduidelik, “Die groot kopseer waarmee Mpumalanga nou sit is dat sedert die 1980’s vrugtebome aangeplant is wat se opbrengs direk verband hou met die mate van bestuiwing. Mpumalanga se ekonomie draai deesdae rondom landbou, bosbou en toerisme en hierdie sektore gaan almal geraak word asook leweransiers van implemente.”

Hierdie is so aangesien daar met die afname in byeswerms ook in georganiseerde landbou in die komende jare ernstige dalings gaan kom in terme van produksie. Sodanig so, volgens Bence, dat makadamiaboere se opbrengs na een ton per hektaar gaan beweeg. “Die gevolge daarvan vir die boere en die arbeidsmag van Mpumalanga gaan katastrofies wees,” voorspel hy.

Om die publiek en veral boere in te lig oor wat op 23 April bespreek is, word ‘n lesing deur Fred Bence op Saterdag, 11 Mei in die botaniese tuin, Nelspruit gehou. Veral denkers met voorstelle word genooi om van hierdie geleentheid gebruik te maak om te kyk of Mpumalanga sy biodiversiteit kan verbeter. Die lesing word gehou in die Marula-lokaal vanaf 09:00 en die toegangsfooi is R30 per persoon.

Navrae: Lounita van die botaniese tuin by 082-813-5834. Bespreek jou plek vroegtydig.

Moslemaanval in Nigerië eis 10

Minstens 10 mense is dood in ‘n aanval op ‘n kerk en ‘n plaaslike mark in Yola in die noordooste van Nigerië, het die polisie gesê.

Gewapende mans het Sondag in Njilan, ‘n dorp in die Adamawa-staat, op mense by dié kerk en mark losgebrand.

Ses mense is by die mark dood en vier is in die kerk doodgeskiet, het Muhammad Ibrahim, woordvoerder van Adamawa se polisiedepartement, gesê. Ibrahim kon nie onmiddellik ‘n motief vir die aanval gee nie.

PressTV berig dat die mans kort na die aanval die grens na Kameroen oorgesteek het.

Gewelddadige aanvalle deur Islamitiese ekstremiste vind sedert 2010 toenemend in die noordooste van Nigerië plaas.